KERK EN VERSKEIDENHEID – KERK EN VERSKEURDHEID

         

Toetsing bly altyd nodig

         

Ons  mag nie staties oor die kerk  dink nie.  Dit is nie so  dat  'n kerk wat ware kerk is altyd ware kerk bly nie.  Dit is ook nieso dat   'n  kerk wat vroeër valse kerk was nooit ware kerk kan  word  nie.  As gereformeerdes het ons o.a.  die Nederlandse Geloofsbelydenis  as  ons belydenis aangeneem.  Dit beteken  dat  ons  ons  aan hierdie belydenis verbind omdat ons daarvan  oortuig  is dat dit in alles met God se Woord ooreenstem.

Dit  beteken  ook  dat ons altyd weer geroep is om die kerk  waarvan ons leraars of lidmate is, te toets.  Die 3 kenmerke van die ware kerk wat in artikel 29 genoem word, is nie bedoel  om te sê:  Ons is ware kerk en  dus  kan 'n mens die 3 kenmerke  van  Christus se kerk by ons vind nie.  As ons so  redeneer het ons in die slaggat van menslike hoogmoed, tradisionalisme en kerkisme geval.  Dan het die kerk by ons 'n  plek  bo die Woord begin inneem en gebruik ons nie meer die

kritiese  funksie  wat  God se Woord altyd in ons lewe moet  inneem nie.

Ons  sê  dat  die belydenis in alles God se Woord naspreek.  Dit  beteken  dan ook dat ons vanuit die belydenis ook krities  na ons eie lewe,  na die kerk waarvan ons lidmate is,  waarvan ons leraars is,  moet kyk. Ons mag nie vergeet om onsself te beproef nie. Die Drie Formuliere van Eenheid is nie 'n  kussing waarop 'n mens aan die slaap kan raak nie.  Die  feit  dat  ons kerke die 3 Formuliere van Eenheid aangeneem het  mag  ons  nie  vaak maak nie en veroorsaak dat ons nie meer  skerp  sien  wat  vandag  gebeur  en  wat dit vir die   kerk-wees van môre beteken nie.

As  ons oor  kerk  en  verskeidenheid  en  kerk en  verskeurdheid  nadink,  moet dit regtig om Christus se kerk en  verskeidenheid  en  Christus  se  kerk en verskeurdheid  gaan. Dit gaan nie om 'n verskeidenheid waarvan ek persoonlik nie hou nie of wat ek self graag wil sien.  Dit wat  ons verskeidenheid en verskeurdheid noem moet normatief vanuit  God  se Woord so genoem kan word.  En dit moet daarom ook  aan  die  drie kenmerke van die kerk wat in artikel 29  genoem word, getoets kan word. Die suiwere verkondiging van die Woord, die bediening van Doop en Nagmaal volgens God se  Woord  en die regte toepassing van die kerklike tug het alles met verskeidenheid en ook met verskeurdheid te doen.

 

Verskeidenheid wat in Christus se kerk benut moet word.

         

Geen  mens  is  dieselfde nie.  God se skepping wys juis 'n   groot verskeidenheid.  Dit word al in Genesis 1 beklemtoon.  Ons  lees  daar  dat die HERE plante en diere volgens hulle  soorte maak. (Gen 1:11,12,21,24,25)

Die  verskeidenheid  in die natuur wys op God se grootheid.  Selfs  as ons al hierdie verskeidenheid in een skepsel saam  kon bring is God nog steeds groter.

By  die  mens  wat  na God se beeld en gelykenis gemaak is,  sien  ons vanaf die staanspoor verskeidenheid.  Van hierdie verskeidenheid  lees  ons  al in Gen 1:27:  "En God het die mens  geskape na sy beeld,  na die beeld van God het Hy hom

geskape; man en vrou het Hy hulle geskape." Die mens is God se  beeld in verskeidenheid,  in die verskeidenheid van man en vrou. Dis 'n verskeidenheid wat ons moet eerbiedig, want  dit is volgens Sy skeppingsorde aan ons gegee. (Sien ook 1 Tim 2:13)

Verskeidenheid  by mense gaan verder as net die tussen man  en  vrou.  Dis duidelik dat elke mens nie dieselfde werk op  aarde   gaan   doen   nie.    By  die  uitvoering  van  die   kultuuropdrag wat ons in Genesis 1:26 lees, ontstaan

differensiasie  onder die mense.  Dis nie nodig om dit as 'n gevolg  van  die  sondeval te sien nie.  Die engele het selfs  verskillende take van God ontvang. Onder die engele is daar  gerubs en serafs en dalk nog ander soorte engele. Een engel  neem  ook  'n  hoër en meer verantwoordelike plek in God se diens in as 'n ander.  Dink aan Migaël en Gabriël, dink aan  die aartsengele.

Die  differensiasie  sien  ons  al by Adam se seuns Kain en Abel.   Die een is 'n veeboer en die ander verbou veral koring.  Hoe  meer die mens ontdek,  hoe meer dinge hy kan  doen,   hoe meer sien ons differensiasie. Hoe meer sien ons ook die

verskeidenheid  van talente onder die mense raak.

Dis 'n verskeidenheid wat die HERE self in Sy skepping,  in die  mens gelê het.  Iets wat ons nie in die kerk mag dooddruk  nie.  Dis skeppingsgawes wat ons juis in die kerk  en  ook  in  die  wêreld  moet  gebruik.  Ons moet dit juis

gebruik om Christus se kerk te bou. Dit mag nie so wees dat   ons  'n  kerk van min of meer dieselfde mense wil wees nie,  van  mense  uit  dieselfde sosiale klas,  met ongeveer dieselfde  idees  nie.   Die  kerk  mag  nie 'n plek word waar

gelykgesindes  en  persoonlike vriende saamkom nie.  Dit mag  nie  'n  vergadering word van mense wat by mekaar kom omdat dit so lekker voel nie.

Ons  moet  juis daarop gerig wees om die verskeidenheid wat in  die  gemeente  aanwesig is te gebruik.  Dis 'n verskeidenheid  wat  juis vir een doelwit gebruik moet word en dit  is vir die opbou van Christus se Koninkryk. As die een doel

vergeet  word,  veroorsaak dit verdeeldheid en verabsolutering van een of twee gawes.

Dit  sien ons duidelik in die gemeente van Korinte.  Dis 'n gemeente wat sekere opvallende gawes so beklemtoon, dat dit  die  lewe  in die gemeente en ook in die kerkverband en die verhouding met Paulus skeeftrek.  Die gawe om in ander tale

te  praat  kry  in  hierdie  gemeente  'n  plek wat dit nie  volgens  die  Heilige Gees se orde verdien nie.  Hierop wys  Paulus veral in 1 Kor 14. Voordat hy prakties hierop ingaan wys hy ons in hoofstuk 12 hoe belangrik dit is om die genadegawes  wat  lidmate in die gemeente ontvang het,  raak te sien en te gebruik. Om dit ook te gebruik in die geheel van  die bou van die gemeente.  Dit wat ons in 1 Kor 12:4-7 lees is  baie belangrik by die waardering en gebruik van hierdie  gawes.

Ons lees in hierdie Bybelgedeelte die volgende: "Daar  is  wel verskeidenheid van genadegawes,  maar dit is  dieselfde  Gees;  en daar is verskeidenheid van bedieninge,  en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van

 werkinge,   en  tog is dit dieselfde God wat alles in almal  werk.  Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is." Vers 4-7.

Hierdie verskeidenheid moet ons in Christus se kerk gebruik en  dan onder leiding van die Gees wat ons aan God se Woord bind.   Dit beteken dat een gawe nooit die alleenreg in die  kerk  mag opeis nie.  Dat 'n gawe nooit so gebruik mag word

dat dit duidelik teen die Bybel ingaan nie.

Die  Woord waaraan die Heilige Gees ons bind is ook beslissend  as  dit  om  vryheid en verskeidenheid gaan.  Dit kan maklik gebeur dat ons uit 'n sekere tradisie, uit 'n sekere  denkklimaat  en  verwysingsraamwerk  verskeidenheid onnodig verbied en terugdring. Dan is ons besig om 'n menslike wettiese  juk  op  te lê wat die bou van die kerk nie bevorder  nie.   'n Duidelike voorbeeld daarvan vind ons by die Fariseërs wat allerhande wetjies aan die volk opgelê het wat bo

God se wet uitgegaan het.

         

Verskeidenheid wat in die kerk mag bestaan

         

Die mens se verstand en kennis het as gevolg van die sondeval  verminder en heeltemal vervorm.  Selfs so dat die mens ook  met  sy  verstand  en  kennis in die verkeerde rigting  oplossings  soek.  As 'n mens deur God se Gees tot Christus

en Sy gemeente gelei is, het hy nog geen volmaakte verstand en kennis ontvang nie. 'n Mens kan nie van alles in hierdie  wêreld  sê hoe daaroor gedink moet word of van die dinge in die kerk, hoe dit gedoen moet word nie.

In  die  kerkgeskiedenis is etlike kere oor adiafora,  middelmatige dinge gepraat.  Om nou 'n praktiese ding te noem:   As dit om die kontak met 'n buitelandse kerk gegaan het, was  dit vir Calvyn 'n middelmatige saak watter vorm van

kerkregering  hierdie  kerk gehad het.  Die vorm van kerkregering   wat in die Anglikaanse kerk van krag was,  was vir hom geen verhindering om hierdie kerk as ware kerk te erken nie toe hulle  regtig  vanuit  die  gereformeerde belydenis gelewe het. Dit was ook so toe ons gereformeerde vaders die Sinode  van  Dordtrecht  1618/1619 saamgeroep het.  Die Anglikaanse  kerk was ook genooi en die biskop van Kantelberg het 'n belangrike plek tydens hierdie Sinode ingeneem.  Juis hierdie  saak het in die Kerkorde wat in die Vrye Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika van krag is 'n duidelike plek gekry. Artikel 47 van hierdie  Kerkorde  bepaal:   "Die buitelandse kerke sal nie op grond van  ondergeskikte  punte  van kerkorde en kerklike praktyk  veroordeel word nie."

Ons  moet  erken  dat ons kennis gebrekkig is en dat dit op aarde onmoontlik is om die waarheid volledig te ken. Dit is  selfs so ten aansien van sekere dinge in ons belydenis. Die  kerk het die belydenis aangeneem en toe gesê dat dit in alles met God se Woord ooreenstem maar nogtans is die belydenis op sekere punte ook die mees verregaande ooreenstemming wat bereik kon word.  'n Konsensus waarby nie alles gesê is  nie.  As ons aan Die Dordtse Leerreëls dink het ons 'n duidelike  belydenis  ten  aansien  van  die  uitverkiesing in Christus.   Nogtans het dit nie die verskil tussen infra en  supra-lapsarisme  vir  altyd  beslis  nie.  Die verskil oor  infra  en supra-lapsarisme gaan oor die volgorde van God se       besluite.

Ons kan dink aan die uitleg van die woorde: "neergedaal het na  die  hel".   Die Heidelbergse Kategismus gee daarvan in vraag  en antwoord 44 'n sekere uitleg sonder dat die ander   uitleg wat  hel as doderyk wil verstaan regtig daarmee ver-

oordeel word.

Soms  kan ons nie verder kom as om aan te toon hoe iets nie is  nie.  Sonder om met sekerheid te kan bely hoe iets presies  wel moet wees.  'n Duidelike voorbeeld daarvan is hoe  die  Konsilie van Chalcedon in 451 van Christus as God en mens bely:  Ongedeel-ongeskei; onvermeng-onverander.

'n  Sekere  verskeidenheid  wat  ons moet verdra het ook te doen  met  die  manier  waarop  mense  in die kerklike lewe optree.  Duidelike  voorbeelde Bybel daarvan is:  Romeine 14  en 1 Kor 8.

Rom  14:   5,6:  "Die een ag die een dag bo die ander,  die  ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.  Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot  eer van die Here;  en hy wat die dag nie waarneem nie, neem  dit nie waar tot eer van die Here,  want hy dank God;  en  wie  nie eet nie,  eet nie tot eer van die Here,  en hy  dank God."

1  Kor 8.  Hier gaan dit om die verskil wat in die gemeente  van Korinte oor die eet van offervleis bestaan. Paulus maak duidelik  dat geen beginselbeswaar teen die eet van hierdie vleis bestaan nie. Nogtans is dit nie al wat hy sê nie want

in die verse 9-13 lees ons: "Maar  pas  op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok  word vir die wat swak is nie.  Want as iemand  jou wat kennis het,  aan tafel sien in 'n afgodstempel, sal  sy  gewete,  as hy 'n swak man is,  nie aangemoedig word om  van  die offervleis aan die afgode te eet nie?  En moet die

swakke  broeder vir wie Christus gesterf het,  verlore gaan  deur  jou kennis?  Maar deur so teen die broeders te sondig  en  hulle  gewete wat swak is,  seer te maak,  sondig julle  teen Christus. Daarom, as voedsel my broeder laat struikel,

sal  ek  in der ewigheid geen vleis eet nie,  om my broeder nie te laat struikel nie."

Ons  moet  ons vryheid ook nie so gebruik dat dit broers of  susters  so in verwarring bring dat hulle daardeur in sonde begin lewe nie.

         

             

         

KERK EN VERSKEURDHEID

                   

Wie is 'n skeurmaker?

         

Ons  moet  op  hierdie vraag 'n duidelike antwoord kan gee.  Wanneer het mense skeurmakers geword? Wanneer is 'n afskeiding skeurmakery pleks reformasie?

Ons  kry met skeurmakery te doen as mense hulle eie siening  so  sterk dryf dat hulle nie meer die verskeidenheid in die kerk  wil aanvaar en verdra wat volgens God se Woord verdra  moet  word nie.  Dis  skeurmakery as ons mense in die kerk aan  meer wil bind as waar die Skrif ons aan bind. As dit gebeur noem  ons dit  ‘n bo-Skriftuurlike binding.  Dis skeurmakery as  ons  die  groep  opsoek of laat ontstaan waarby ons ons die beste  tuisvoel en ons daarom van 'n ander afstig sonder om te  kan  sê  dat hierdie kerk nie meer op die fondament van          Christus, op die fondament van apostels en profete bou nie.

Voorbeelde  van  hierdie vorm van skeurmakery sien ons o.a.  in die gemeente van Korinthe waar groepe rondom die naam en die  uitstraling van sekere persone vergader.  Paulus skryf daaroor: "Want  dit  is  aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle,  my broeders, dat daar twiste onder

julle is. Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus,  en ek van Cefas,  en ek van Christus.  Is Christus  gedeel?  Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? (1 Kor 1: 11-13)

'n  Ander  voorbeeld  van hierdie vorm van skeurmakery sien  ons  in 'n bepaalde optrede van Petrus.  Daarvan skryf  Paulus aan die gemeentes van Galasië die volgende: "Maar toe Petrus in Antiochië gekom het, het ek hom openlik

teëgestaan, omdat hy veroordelend gestaan het. Want voordat  sommige  van  Jakobus af gekom het,  was hy gewoond om saam met  die heidene te eet;  maar na hulle koms het hy hom teruggetrek  en  hom  eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die  besnydenis is.  En saam met hom het ook die ander Jode  geveins,   sodat  selfs  Barnabas hom laat meevoer het deur  hulle  geveins.  Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop  volgens  die  waarheid  van  die evangelie nie,  het ek vir  Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat 'n Jood is,   soos  'n heiden lewe en nie soos 'n Jood nie,  waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?" Gal 2:11-14

Sodra ons mense gaan bind aan menslike gebruike waaraan God ons nie bind nie is ons met skeurmakery besig.

         

Bind en ontbind

         

Baie   belangrik   vir   die   problematiek   van  kerk  en  verskeurdheid  is  wat Christus na aanleiding van Petrus se  belydenis dat Hy die Christus is van die sleutels van die koninkryk en die bind en  ontbind, sê.   Ek  wil  nou enige aandag aan Mat 16:19 gee.

Christus  sê daar:  "En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk  van  die  hemele  gee;  en wat jy ook op die aarde  bind,  sal in die hemel gebonde wees,  en wat jy ook op die  aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees."

Wat  is  nou  die  verhouding  tussen  die sleutels waarvan  Christus  praat  en  die bind en ontbind?  Is dit so dat Hy daarmee  op  2 sleutels wys waarvan een die toegang tot die  hemelse  Koninkryk  oopsluit  en  die ander die toegang tot

hierdie Koninkryk toesluit?

Dis  nie  die geval nie want die woorde bind en ontbind het onder die Jode 'n besondere betekenis gehad. Hierdie woorde het by Jesus se leerlinge dadelik 'n sekere gedagte, 'n bepaalde  beeld  opgeroep.  Dis ook die manier waarop hierdie

woorde  op ander plekke in die Nuwe-Testament gebruik word.  Mat 5:19; Joh 7:23; 10:35; Rom 7:2; 1 Kor 7:27,39.

As  die  Jode gesê het dat hulle iets bind of ontbind,  het  dit  beteken  dat  hulle  iets geldig  of  ongeldig,  iets verbindend of nie verbindend verklaar het nie. Die Rabbyne   het  dan  uitgespreek dat 'n sekere leer,  uitspraak of lewenstyl reg of verkeerd was.

Petrus  en  die ander leerlinge en daarna die ampsdraers in  Christus se kerk  word geroep om te bind en te ontbind.

Hoe gaan Petrus en die ander apostels dit doen?  Dis op die  oomblik  dat  Jesus  hierdie woord uitspreek nog toekomsmusiek. Dis musiek wat verseker werklikheid gaan word. In Mat 16:19  word nog die woord sal,  die toekomende tyd gebruik. Voordat  dit  werklikheid  kan  word  moet  eers nog sekere

dinge gebeur en gedoen word.

Petrus  het  bely dat Jesus die Christus,  die Seun van die  lewende  God  is.  Nogtans mag Jesus se leerlinge die mense  nog nie daaraan bind nie.  In vers 20 sê Jesus met klem vir  Sy  leerlinge dat hulle vir niemand mag sê dat Hy Jesus die

Christus  is nie.  Jesus gaan eers nog Sy leerlinge verdere  onderwys  gee.   Die  leerlinge  moet eers nog meer van Hom  weet, moet die regte beeld van Hom kry. Hulle moet nog leer  dat  Hy  juis as die Christus,  as die Seun van die lewende

God  moet  ly.  Dit is iets wat hulle nog nie verstaan nie. Waarteen hulle selfs in verset kom. Dit sien ons al dadelik  nadat Hy vir die eerste keer nadruklik oor Sy lyding praat.  Kyk vers 22,23.

Jesus  se  leerlinge  kan mense nog nie aan die regte beeld van  Hom  bind  nie  en kan daardeur verkeerde leer nog nie mooi herken nie. Hulle kan dit nog nie ontbind nie.

Jesus  bly  Sy onderwys gee.  Hy doen dit ook dadelik na Sy  opstanding. Dan verskyn Hy weer aan Sy leerlinge. As Hy die  aand na Sy opstanding by hulle verskyn, wys Hy hulle hoe in die  Ou-Testament van Sy lyding en opstanding geskryf word.  Ons lees dan in Lukas 24:45: "Toe open Hy hulle verstand om

die  Skrifte  te verstaan." Nou het Sy leerlinge die regte beeld  van Hom vanuit wat Hy gedoen het en wat Hy hulle uit die  Ou-Testament geleer het.  Hulle kan dit nou met God se Woord  bewys.  Hierdie aand verdwyn die sal,  die toekomende tyd,  wat ons nog in Mat 16:19 gelees het.  Ons hoor nou uit  Jesus  se  mond hierdie woorde wat duidelik uit die belofte van Mat 16:19 voortkom:

"Vrede vir julle!  Soos die Vader My gestuur het,  stuur Ek julle ook.  En nadat Hy dit gesê het,  blaas Hy op hulle en  sˆ vir hulle:  Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense  hulle sondes vergewe,  dan word dit hulle vergewe; as julle die  mense  hulle  sondes  hou,   dan  is  dit gehou." (Joh 20:21-23)

Van  daardie  oomblik af moet die dissipels as Jesus se getuies  optree.  Hulle moet nou en in die toekoms duidelik  maak waaraan mense gebind is.  Wat die ware leer is, wat 'n lewe volgens Christus se gebooie is.  Hulle moet op daardie

manier die pad na Christus, na die vergewing van die sondes wys. So moet hulle die evangelie verkondig en mense aan Jesus  wat  die Christus is,  bind.  Hulle moet vir die mense  aanwys wat die geldige Woord van God is.  Die Woord waaraan mense gebind is en waarsonder niemand gered kan word nie.

Dit het hulle ook in die praktyk van die eerste Christelike gemeentes  gedoen.  Hulle het gewys waaraan hulle gebind is  as  hulle regtig kerk van Christus wil wees.  Hulle gebruik regtig die sleutels van die hemelryk.

Enkele voorbeelde daarvan is:

1.      Hand 2: 38,42

2.      Hand 5: 3-5, 9,10

3.      Hand 15: 1,5,7,22,28,29

4.      Die Nieu-Testamentiese briewe waarin verskillende sienings as dwaalleer aangewys word.

 Die  apostels  het gewys wat die regte leer,  wat die regte  lewe is.  Hulle het Christus se kerk in Sy naam daaraan gebind.   Hulle  het  ook gewys wat dwaalleer is,  wat 'n lewenstyl  is  wat  in  Christus se kerk nie kan bestaan nie.

Hulle het die dwaalleer en 'n lewe teen Christus se gebooie  in ongeldig verklaar.  Hulle het dit ontbind.  Hulle het so  die pad van die hemelse Koninkryk gewys. Hulle het so gewys  waar Christus se kerk is.  Daar waar die kerk op die

fondament  van  die  apostels en die profete bou.  Kyk Ef 2:20;  Openb 21:14.

         

Wanneer word 'n kerk 'n kerk wat skeur?

         

Die  antwoord  daarop kan baie kort wees.  Dit gebeur as 'n   kerk  nie  meer  bind  aan dit waaraan Christus ons deur Sy  apostels  gebind  het nie.  As 'n kerk dit waaraan die Skrif bind ontbind en dit wat daar ontbind word geldig verklaar.

Dan  word so'n kerk 'n gevaar vir God se volk.  Dan is so'n   kerk  'n instituut wat mense in verwarring bring.  Dan saai hierdie  instituut  twyfel  en wys selfs die verkeerde pad.  Laat mense op 'n pad stap wat van Christus aflei.  Daarvoor  mag ons geen medeverantwoordelikheid neem nie.  Ons moet in  Christus  se  kerk voor die waarheid van die evangelie stry   sonder om sektaries te word. Ons mag aan die ander kant nie  aan 'n kerk bou waar waarheid en dwaalleer altwee 'n

wettige plek kan inneem nie.   So'n kerk is nie Christus se kerk  nie.   Want Christus se kerk bind en ontbind in gehoorsaamheid en oorgawe aan die onfeilbare Woord van God.

Dit  gebeur  o.a.  deur die binding aan die Drie Formuliere van  Eenheid.  Hierdie binding mag geen lippetaal wees nie. Dit  kan makkelik so word.  Mense begin dan om van 'n dinamiese binding aan die belydenis praat. Hulle begin om te sê

dat  die  belydenis ons 'n uitstaande voorbeeld van die geloof  van die vaders gee waarop ons op ons manier voortbou.  Woorde  kan  baie mooi klink maar steeds weer word duidelik  dat  hierdie woorde moet verdoesel dat mense,  dat leraars,

dat  kerke hulle nie werklik aan die leer van die Skrif wil  bind nie. Mense wil nie antiteties teenoor die tydgees gaan of bly staan nie. Mense wil nie in die isolement hulle plek  inneem nie. Hulle wil meer akseptabel vir die wêreld rondom hulle wees.  Dit is 'n ding wat sowel in die teologie as in  die kerklike lewe 'n verwoestende invloed uitoefen. Ons het   hier te doen met ons doodsvyand die wêreld wat by ons ander  doodsvyand ons eie sondige natuur aansluiting vind.

Ons  sal  dapper  in  die geloof moet wees en as leraars en  lidmate  van  die kerk moet aanwys waaraan Christus se kerk  gebind  is  en  wat  ontbind  moet  word.  Ons moet wys wat  verskeurdheid  is  en weier om in 'n kerk te lewe of te bly

lewe  waar  dwaalleer  en 'n onbybelse lewe 'n wettige plek  ontvang.   Ons moet Christus se trop so lei dat ons saam 'n kerk  mag  vorm  waar  verskeidenheid in gehoorsaamheid aan  Christus  die  kerk  laat  blom.   Waar  ons in christelike

verdraagsaamheid lewe,  waar ons nie sektaries is nie. Waar  ons  ons  onvoorwaardelike aan God se Woord bind en aan die belydenis wat daarmee in ooreenstemming is.  As ons so lewe  skeur  ons  nooit  Christus  se  kerk nie,  dan is ons geen skeurmakers nie maar kerk van Christus.  Die poorte van die          doderyk kan en sal hierdie kerk nooit oorweldig nie.

As  ons so werk dien ons die vrede van Jerusalem,  die egte  eenheid van Christus se kerk. Dan staan ons nie medeskuldig  aan skape wat in verwarring gebring word nie. Christus roep ons almal om so aan Sy kerk te bou.