DIE SKRIF EN DIE DOODSTRAF

 

Ons land ken nie meer die doodstraf nie. Hiermee is Suid-Afrika in die wêreld verseker nie ‘n uitsondering nie. Verseker 74 lande in die wêreld het die doodstraf amptelik  afgeskaf.[1] Die beweging om doodstraf amptelik af te skaf het in die negentiende eeu begin en het met krag in die 20e eeu voortgegaan. Baie mense meen dat dit van die mens se groei, van die mens se ewolusie getuig. Die wegdoen van die doodstraf uit die regsorde uit sou wys op hoe die mens in humaniteit gegroei het. Ons moet mooi bedink dat hierdie gedagtes heeltemal binne die kader van die ewolusionistiese filosofiewe pas. As ons nou vanuit die Skrif na die doodstraf gaan kyk doen ons dit nie vanuit ‘n meerderwaardigheidsgevoel nie. Ons wil hoor wat die HERE vir ons sê en wat dit vir ons vandag beteken.

 

Wanneer het die doodstraf in die wêreld gekom?

 

 Die beantwoording van hierdie vraag is belangrik. Gaan dit in die doodstraf om ‘n straf wat sy begin en oorsaak in ‘n primitiewe mens vind wat vanuit wraakgedagtes geleef het en wat vanuit die reg van die sterkste sy lewe ingerig het?

Dikwels word vir die begin van die doodstraf na Genesis 2 en 4 teruggewys. Is dit so dat ons daar die begin van die doodstraf onder die mense deur mense sien?

Die eerste teks waaraan ons dan nou aandag moet gee is Genesis 2:16,17: “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”

Die HERE het Adam, die mens, volgens Sy beeld gemaak. Hy staan in die volle vrede met God in die paradys. Die HERE vra van die mens vrywillige liefde en gehoorsaamheid aan Hom. God plant juis daarom die boom van kennis van goed en kwaad in die paradys. As die mens van hierdie boom eet sal hy sy lewe, sy vrede met God weggooi. As die mens van hierdie boom eet sal hy van God die doodstraf ontvang. Dit beteken nie dat die HERE hier sê dat die mens op dieselfde dag wat hy van hierdie boom eet, dood sal neerval nie. Die dood, die werking van die dood het wel op daardie dag begin. Op daardie dag het die mens geestelik gesterf. Van daardie dag af het die mens se liggaam ook sterflik geword en was die dood onvermydelik. Hier sien ons wat Jakobus later skryf: “Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

Elke sonde maak ‘n mens skuldig aan die ewige dood. Die straf op ongehoorsaamheid aan God en op ongeloof is die ewige dood.[2]

Nou is in verband met ons onderwerp die vraag of  dit die grondslag en die motief vir die doodstraf onder die mense kan wees. Dit lyk dalk aantreklik maar dit is nie reg nie. As ons dit as die grondslag en motief vir die doodstraf gaan neem moet ons mekaar almal doodmaak want elkeen van ons het gesondig. Dit gaan hier nie om die reg en plig van ‘n sekere straf wat die HERE vir die een mens gee om oor die ander uit te oefen nie.

Hoe is dit in Genesis 4 waar Kain sy broer Abel vermoor het? Kan ons daar die begin en die motief vir die doodstraf in die Bybel vind?

Ook hier is dit weer baie belangrik om mooi te onderskei en te lees wat die HERE ons hier vertel. Dit is duidelik dat Kain in onverskilligheid vir die HERE leef. Ons kan dit al lees as sowel Kain as Abel ‘n offer vir die HERE bring. Die HERE neem Abel se offer aan maar nie Kain s’n nie. As ons mooi lees, sien ons die oorsaak daarvan raak.

Ons lees in vers 3-5a: “En na verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie gesien nie.”

Let daarop dat Kain sommer iets van die land gehaal het. Hy het nie die eerste en die beste van sy oes vir die HERE op die altaar gebring nie. Abel het die eersgeborenes van sy vee gegee. Dit wys die verskil tussen Kain en Abel. Kain bring ‘n offer sonder dat sy hart en liefde by die HERE is daarenteen wys Abel se offer  sy liefde vir sy God. Die gevolg van Kain se lewe in sonde, waarteen die HERE hom in ‘n persoonlike ontmoeting nog waarsku, is dat hy uiteindelik sy broer Abel doodmaak. Dit is duidelik dat  die HERE die moord op Abel as ‘n sonde van Kain reken. Die HERE se wet was ook aan hulle bekend. Nogtans was dit nog nie bekend wat die straf op aarde vir hierdie straf moes wees. Ons sien dit later ook in die woestyn. Ons lees in Levitikus 24 hoe ‘n seun in die geveg met ‘n ander seun die Naam van die HERE laster. Almal besef dat dit ‘n groot sonde is en hulle hou daardie seun dan ook aan. Nogtans weet Moses en die volk dan nog nie wat die straf op hierdie sonde moet wees nie. Moses gaan vra dan vir die HERE  en die antwoord is dan: “As iemand sy god vloek, sal hy sy sonde dra maar[3] wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig. Die vreemdeling net soos die kind van land – as hy die Naam laster, moet hy gedood word. En as iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik gedood word.” Lev 24:15-17.

As ons nou na Genesis 4 terugkeer en sien dat die HERE Kain vervloek en hom en swerwer en vlugteling op aarde laat wees, gee ook hierdie gedeelte  ons nie die grond en motief vir die doodstraf wat mense aan ander moet toedien nie. Die HERE straf in Sy vrymag Kain. Dit wat ons in Genesis 2 en 4 lees, gee vir ons nie aanwysings vir die doodstraf nie. Dit veral omdat dit hier om die HERE se straf oor sondaars gaan waarby geen mense ingeskakel word nie.

Almal in die tyd voor die sondvloed kon weet dat die doodslaan van ‘n ander ‘n groot sonde is. Nogtans lyk dit ook asof die HERE in daardie tyd die strafmaat daarvoor nog nie aangewys het nie. Die mense het in die tyd in groeiende verwerping van God en Sy wil geleef. Die reg van die sterkste het al hoe meer op die wêreld gaan heers. 'n Duidelike voorbeeld daarvan is wat ons in  Genesis 4:23,24 lees waar Lameg sê: “Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes. Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewen-en-sewentig maal.”

Dit word so erg dat ons in Genesis 6 lees dat die seuns van God, wat die sterkste mans op die aarde is[4], die reg so in eie hand neem dat ons in vers 5,6 lees: “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.”

Die HERE se reaksie op hierdie  wêreldwye afval van Hom is dan die sondvloed waarin die hele mensheid behalwe Noag en sy gesin die doodstraf ontvang.

Weer moet ons sê dat hierdie massale doodstraf  deur die HERE bewerk  nie die grond en die motief  vir doodstraf deur mense voltrek, kan wees nie. Ek kom by die bespreking van Gen 9:6 nog op die situasie voor die sondeval terug. Ek wil voordat ons na hierdie gedeelte in God se Woord gaan, aandag vra vir die sesde gebod.

 

Wys die sesde gebod die doodstraf af?

 

Hoekom bespreek ek nou eers die sesde gebod soos dit in Eksodus 20:13 en Deuteronomium 5:17 vind? As die behandeling van hierdie gebod naamlik sou uitwys dat die doodstraf in God se oë onwettig is, is dit nie meer nodig om verder na die Bybel te kyk nie.

Die sesde gebod lui: “Jy mag nie doodslaan nie”.  As ‘n mens dit hoor is die groot vraag in verband met ons onderwerp of enige vorm van doodmaak van ‘n mens hiermee verbied word. Wie mooi na die Hebreeuse woord vir doodmaak hier kyk, sien raak dat dit om ‘n sekere vorm van doodmaak gaan.

Die Hebreeuse woord wat in die sesde gebod gebruik word kom 46 of 47 keer in die Ou Testament voor.[5]  Daar is ander woorde wat baie meer vir doodmaak gebruik word. Die een hemit 201 keer en die ander harag 165 keer. Dit maak  ons al duidelik dat ons baie mooi daarop moet let of die woord rasag  in die hele veld van doodmaak ‘n eie betekenis het.

As ‘n mens elke plek in die Ou Testament nagaan is die opvallende dat  hierdie woord nooit gebruik word as dit om die doodmaak in ‘n oorlog gaan en net een keer as dit gaan om ‘n dood wat deur die HERE se eie wet geëis word. Die laaste lees ons in Num 35:30.

Dit is duidelik dat die werkwoord rasag  wat in die sesde gebod gebruik word die betekenis van  wederregtelik doodmaak  het. Die sesde gebod verbied die doodmaak wat die HERE in Sy wet verbied. Dit verbied nie enige doodmaak van ‘n ander nie. Dit is selfs so dat die HERE die doodmaak van ‘n mens in sekere gevalle selfs eis.

Dit beteken dat ons nou kan verdergaan met ons ondersoek na die doodstraf in die Skrif.

 

Genesis 9:6

 

Ons sal nog sien dat dit wat ons in Genesis 9:6 lees vir ons onderwerp baie belangrik is. Die kader waarin hierdie woorde staan is dat die HERE vir die mens na die sondevloed  toestemming gee om ook diere te eet. Dit was voor die sondvloed nie so nie. Kyk Gen 1:29,30; 3:18. In hierdie kader lees ons dan in Genesis 9:4-6 lees ons dan:

“Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie. Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.”  

Die strafmaat vir die doodmaak van ‘n mens is nuut. Dit kon Noag nog nie geweet het nie. As die strafmaat bekend was, was dit nou nie nodig om dit vir Noag te vertel nie. Ons het in Levitikus 24 al dieselfde gesien as dit daar om die laster van die HERE se Naam gaan.

Nou die HERE  die mens  toestemming gee om diere dood te maak en te eet, beklemtoon Hy die prinsipiële verskil tussen mens en dier. Die doodmaak van ‘n mens is verseker nie dieselfde as die doodmaak van ‘n mens nie.

Wat is nou die groot verskil? Dit is dat net die mens na God se beeld gemaak is. Die diere is ook skepsels en ook in hulle sien ons die HERE se grootheid nogtans neem die mens ‘n besondere plek in God se skepping in. Die mens het in die skepping die hoogste posisie gekry en is op ‘n besondere manier aan God verbind. As die mens geskep word lees ons: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.” Gen 2:7. Die HERE het die mens as Sy verteenwoordiger op aarde geskep. Hy moet in sy manier van leef en regeer oor die skepping wys wie die HERE is.      

Die motief  vir die doodstraf as die een mens ‘n ander doodmaak is: “want God het die mens na Sy beeld gemaak.” Die doodmaak van die skepsel wat volgens God se beeld geskep is, vra om ‘n besondere straf. Die doodmaak van ‘n mens beteken dat iemand daarmee God se heerlikheid op ‘n besondere manier aantas. Selfs ‘n dier moet daarom op ‘n besondere manier gestraf word as hy ‘n mens doodmaak. Die HERE eis van die dier wat ‘n mens doodmaak ook sy bloed. Kyk vers 5. Baie diere is na die sondeval  ‘n bedreiging vir die mens. Nogtans gee die HERE  ons die opdrag om diere wat daadwerklik ‘n mens doodmaak ook self dood te maak. Hier wys die HERE dat  Sy doel met die skepping is en bly dat mens en dier, dat die hele natuur in vrede met mekaar leef. So moet die skepping God se heerlikheid en vrede weerspieël!

Ons vind later in die wette wat God vir Israel gee dat ‘n dier skuldig staan as dit ‘n mens verwond of doodmaak. As iemand ‘n sekere dier onder sy beheer het en dit is sy eiendom en hy weet dat die dier gevaarlik is en hy neem geen maatreëls nie is hy self skuldig vir wat daardie dier van hom doen. Ons lees dit o.a in  Eksodus 21:28,29: “En as ‘n bees ‘n man of vrou stoot, sodat hy sterwe, moet die bees sekerlik gestenig word; en sy vleis mag nie geëet word nie; maar die baas van die bees sal ongestraf bly.  Maar as die bees tevore al stoterig gewees het en sy baas gewaarsku was, maar dit nie opgepas het nie, en dit ‘n man of ‘n vrou doodmaak, moet die bees gestenig word, en sy baas moet ook gedood word.”

Die HERE maak in Genesis 9 baie duidelik dat die mens ‘n besondere skepsel is en daarom nie soos ‘n dier behandel mag word nie.

 

Enkele gevolgtrekkings vanuit Genesis 9:5,6

 

  • Die mens is die enigste skepsel wat volgens God se beeld geskep is. Wie ‘n mens doodmaak tas daarmee God se heerlikheid op ‘n besondere manier aan.
  • Die HERE wys na die sondeval vir die eerste keer wat die strafmaat vir mens en dier is wat 'n mens doodmaak. Die doodmaak van ‘n mens was voor die sondvloed al sonde en God se oordeel kom daaroor.
  • Dadelik na die sondvloed gee die HERE vir die mens die toestemming en die bevel om die dier of mens wat ‘n ander doodmaak ook dood te maak.
  • Hierdie bevel geld sonder enige twyfel vir die hele mensheid. Hierdie gebod word gegee by die begin van die nuwe mensheid. Dit geld vir alle nakomelinge van Noag.

 

 Mag ons die doodstraf  na Christus se werk nog uitvoer?

 

Altyd weer kom die argument dat die doodstraf eintlik net iets van die Ou Testament was.  Dit is die Dopers wat in die tyd van die Reformasie beweer dat ‘n Christen geen doodstraf mag oplê en uitvoer nie. Dit sou nie met Christus se leer soos ons dit in die Bergpredikasie leer in ooreenstemming wees nie. Christus se koms sou alles verander het. Mense doen dan ook dikwels ‘n beroep op wat Johannes die Doper in Joh 1 van die Here Jesus sê: “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Christus gekom.” Vers 16,17.

Dit gaan in hierdie verse en in die hele Bybel nie om ‘n teenstelling tussen die Ou en Nuwe Testament nie. Wat lees ons nou letterlik in vers 16?  Dit: “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade pleks genade.”[6]  Dit wat die HERE deur Moses gegee het was al genade, daarin sien ons God se guns vir sondige mense al raak. Dit is ook daarom dat die digter van Psalm 147 kan sê: “Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, die ken hulle nie. Halleluja.” Vers 19,20.

Johannes wys in vers 17 wat die genade is wat in die plek van die genade in die Ou Testament in Christus na ons toekom. In Christus het groter genade tot ons gekom as wat in die wet na ons toegekom het. In Christus sien ‘n mens die waarheid, die diepte wat die HERE in die Ou Testament aan ons geopenbaar het. Dit is God se een werk van openbaring. Daarin is geen teenstelling nie maar daarin kom wel al hoe meer die rykdom, die werklikheid en diepte van Sy openbaring na ons toe.

Dit alleen maak al duidelik dat Christus se werk nie sommerso kan beteken dat die doodstraf nou nie meer uitgevoer mag word nie. Ons sien ook dat vir hierdie gevolgtrekking geen enkele gevolgtrekking in die Nuwe Testament gevind word nie. Die teenoorgestelde is juis die geval.

Ek noem enkele gedeeltes in die Nuwe Testament wat die illustreer.

  • Die Here Jesus staan voor Pilatus. As die Here Jesus op ‘n vraag van Pilatus geen antwoord gee gebeur die volgende: “En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? Jesus antwoord; U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” Joh 19:10,11. Die opvallende is dat die Here Jesus in die hele proses teen Hom geen enkele keer die bevoegdheid van Pilatus aanveg dat hy iemand tot die dood kan veroordeel nie. Al het in Hom God se liefde oorvloedig in die wêreld gekom nogtans wys ons hoogste Profeet en Leraar nêrens dat die doodstraf nie meer opgelê en uitgevoer mag word nie. Hy wys juis dat Pilatus as regter van God die bevoegdheid ontvang het om iemand tot die doodstraf te veroordeel. Die Here Jesus wys net dat Hy onskuldig is en daarom  nie tot die dood veroordeel mog word nie. 
  • Ons sien in die briewe dat dit wat ons in Jesus eie lewe gesien het deur die apostels nagevolg word. Paulus skryf die bekende woorde: “Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete." Rom 13:4,5.

Dit is duidelik dat  die Heilige Gees hier deur Paulus wys dat die regspraak aan die owerheid toekom.[7] Ook nadat Christus Sy volledige werk op aarde gedoen het, wys die Gees nog steeds op die reg en die plig van die owerheid om te straf. Daarmee moet somtyds ook die swaardmag bedien word. Waar die swaard uit die skede gehaal word om te straf beteken dit die dood van die veroordeelde. Die owerheid behoort in diens van God ook die swaard te gebruik as dit nodig is.

Christus se werk het niks daaraan verander dat  die doodstraf bedien moet word as iemand ‘n mens doodgemaak het nie. Die owerheid het van God die opdrag om ook daarin aan Hom gehoorsaam  te wees.

 

God is geen wrede regter nie

 

Die HERE het vir ons die norm gegee dat iemand wat ‘n ander doodmaak ook self doodgemaak moet word. Beteken dit nou dat as die een die ander doodmaak dus in alle gevalle die doodstraf opgelê moet word?  Moet regters en owerhede altyd so streng wees? Calvyn meen dat dit nie so is. Laat ek ‘n gedeelte uit Calvyn se Institusie vir julle aanhaal:

“As dit dan hulle ware geregtigheid is om skuldiges en booswigte met getrekte swaarde te vervolg, sal hulle hulle aan die hoogste pligsversuim skuldig maak as hulle hulle swaarde in die skede steek en hulle hande rein van bloed hou terwyl misdadigers intussen goddeloos met moord en doodslag wegkom. Verre sy dit daarvan dat hulle dan lof vir hulle goedheid en regverdigheid sou behaal!

Weg egter met ‘n kortgebonde wrede strengheid wat tereg die rots van misdadigers genoem word. Ek is trouens nie ‘n soort mens wat onpaslike wreedheid voorstaan nie, of een wat meen dat ‘n billike oordeel uitgespreek kan word sonder dat sagmoedigheid wat die beste en sekerste raadgewer van konings is, en soos Salomo sê, die bewaarder van ‘n koning se troon is, daarmee gepaard gaan nie. Vroeër het iemand ook met waarheid gesê dat sagmoedigheid die vernaamste gawe van vorste is. Intussen moet die owerheid egter toesien dat hy nie of deur uitermatige strengheid mense krenk eerder as genees nie; of met bygelowige vertoon van sagmoedigheid in die wreedste vorm van onmenslikheid verval as hy in ‘n sagte en onverskillige genadigheid tot verderf van baie mense opgaan nie.”[8]

Is Calvyn se pleit vir sagmoedigheid  nie te sag nie?  Moet die norm nie gewoon uitgevoer word nie?

Wie die Bybel mooi lees, sien raak dat die HERE nie die God is wat net sekere reëls uitvoer nie. Dit is vir Hom belangrik hoe dinge gebeur het en wat die ingesteldheid van die mens was toe dinge gebeur het. Was die doodmaak van die ander ‘n vorm van selfverdediging of  was dit ‘n ongeluk?

As dit regtig ‘n vorm van selfverdediging was of  ‘n ongeluk, mog die doodstraf nie uitgevoer word nie. Dan het die mens wat ‘n ander doodgemaak het selfs in die vrystede onder God se beskerming gestaan.

Ek noem nou net twee voorbeelde vanuit die Skrif waar ons sien  dat die HERE die regverdige Regter is wat verseker met die omstandighede rekening hou.

Eks 22:2,3: “As ‘n dief betrap word terwyl hy inbreek, en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie; as die son oor hom opgegaan het, ontstaan daardeur bloedskuld.”

Numeri 35:20-24: “En as hy hom uit haat stamp of met opset na hom gooi, sodat hy sterwe, of hom uit vyandskap met sy hand slaan, sodat hy sterwe, dan moet hy wat geslaan het, sekerlik gedood word; hy is ‘n moordenaar; die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak as hy hom kry. Maar as hy hom onvoorsiens, sonder vyandskap, stamp of enigiets sonder opset na hom gooi; of as hy enige klip waardeur iemand kan sterwe – as hy, sonder om dit te sien, dit op hom laat val, sodat hy sterwe, terwyl hy geen vyand van hom was en sy onheil nie gesoek het nie, dan moet die vergadering tussen hom wat doodgeslaan het, en die bloedwreker oordeel volgens hierdie voorskrifte.”

Ek sou baie meer kan noem maar dit is al genoeg om duidelik te maak dat die HERE ons roep om nie net volgens een reël: dat wie ‘n ander doodslaan doodgemaak moet word, gehandel mag word nie. ‘n Ondersoek met die regte sagmoedigheid is nodig en dan moet in ware billikheid ‘n uitspraak gedoen word.

 

Watter oortredings verdien die doodstraf?

 

Die onderwerp wat ek hier aanraak verdien ‘n aparte lesing en bespreking. Dit is ‘n onderwerp waaroor ons op ‘n aparte vergadering sou moet praat. Ek het een van my doelwitte met hierdie lesing bereik as die gevolg is dat ‘n verdere bespreking van hierdie punt  gaan plaasvind.

Hoekom sê ek hierdie dinge? Omdat ons tot nou toe steeds daaroor gepraat het dat die doodstraf toegepas moet word as ‘n mens doodgemaak word. Nogtans lees ons in die Ou Testament van meer oortredings van God se wet waarop in Israel die doodstraf gestaan het. Ek noem enkele voorbeelde sonder om volledig te wees:

Die nie laat besny

van jou seun                   Genesis 17:14

oproep tot afgodery        Deut 13:5 e.v.

ontug voor die huwelik  Deut 22:20 e.v.

owerspel                         Deut 22:22

sabbatskennis                 Eksodus 35:2

roof van mense               Eks 21:16

die slaan van ouers         Eks 21:15

ontug met diere               Eks 22:19; Lev 20:15

ongehoorsame seun

wat‘n deurbringer is       Deut 21:18-21

 

Moet ons vandag daarna streef en vir die owerheid sê dat op hierdie sondes ook die doodstraf moet staan?

As ons antwoord op hierdie vraag wil gee moet ons op let om nie in twee maklike slaggate te val. Die uitskakeling van hierdie twee slaggate moet volgens my die raamwerk wees waarbinne verder oor die oortredings nagedink word waarop die doodstraf behoort te staan.

Die te gemaklike oplossings is hierdie:

  • Die Ou Testament was maar minderwaardig. Ons is vandag mensliker en daarom kan die Ou Testament vir ons vandag op hierdie terrein geen aanwysings meer gee nie. Hier verhef die mens hom vanuit ‘n evolusionistiese gedagtegang bo die tyd van die Ou Testament.
  • Die kerk het in die plek van Israel gekom en daarom kan dit alleen nog geestelike toegepas word en in verband met die ekskommunikasie in die kerk in verband gebring word. Hier word kort gedoen aan God se wysheid vir die lewe van ‘n volk soos dit in God se wette vir Israel gegee is.
  • Alles wat Christus nie nadruklik afgeskaf het moet op dieselfde manier soos in die Ou Testament in ons tyd toegepas word.

Hoe aantreklike die laaste ook klink nogtans kan en mag dit ook nie so toegepas word nie.

Ek noem een voorbeeld wat dit bewys en duidelik maak dat ons met die gang van die heilsgeskiedenis moet rekening hou. Die HERE  het met Abraham Sy verbond gesluit en gee in Genesis 17 die verbondsteken. Elke seun moet as hy 8 dae oud is besny word. Die pa wat dit nie laat doen moet die doodstraf ondergaan. Ons sien later in die geskiedenis dat dit vir die HERE erns is. As Hy Moses roep om die leier van Sy volk te wees, het Moses een van sy seuns nie laat besny nie. Moses trek met sy vrou en seuns na Egipte. Hy kan nie Israel se leier wees, nie ampsdraer wees solank die een seun nie besny is nie. Dan is Moses nie die regte voorbeeld nie. Die HERE bedreig Moses op pad na Egipte daarom met die dood en as sy vrou die een seun ook besny het, wyk  die bedreiging van die dood van Moses. Kyk Eks 4:24-26.

Ons bely dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het.[9] Beteken dit nou dat as ‘n Christelike owerheid oor ‘n land en ‘n volk regeer elke gesinshoof wat sy kind nie laat doop die doodstraf moet kry. Beteken dit dat mense met die swaard op die keel  verplig moet word om hulleself en hulle kinders te laat doop?

Dit is in stryd met wat Christus vir Sy leerlinge en aan ons beveel. Hy gee aan ons die opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek  julle beveel het”. Matt 28:19.  Hoe moet mense in alle volke leer om Christus te gehoorsaam en deel van God se verbond te wil wees? Deur die verkondiging van die evangelie. Dit sê die Here Jesus in Markus 16:15,16: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.”

Daar het  ‘n groot verandering plaasgevind in die geskiedenis. Van Abraham tot Christus was die volk Israel God se volk. Israel was die kerk. Wie sy kind  in die tyd van die Ou Testament nie laat besny nie is ‘n gevaar binne God se volk vir die lewe met die HERE. Dan word afval van God se verbond binne die kerk toegelaat. Dit mag nie gebeur nie.

Dit is in die tyd na Christus anders. Volk en kerk val nie meer saam nie. Wie sy kind nie laat doop nie kan en mag nie meer deel van God se volk wees nie. Wie so ongehoorsaam in die verbond bly leef moet deur die tug  buite God se volk gesluit word.

Dit is ‘n voorbeeld van hoe ‘n voorskrif om die doodstraf toe te pas vandag nie meer toegepas mag word nie. Ons moet bly let op hoe en wanneer Christus werk en wil werk.

Ons sal by elke gedeelte waar in die Ou Testament die doodstraf voorgeskryf word moet vra: Hoekom staan hierdie voorskrif hier, wat is die bedoeling om te kan vasstel wat dit onder die regering van Jesus Christus vandag vir ons beteken.

Die doodstraf kan opdrag wees as iemand ‘n ander mens doodgemaak het. Die doodstraf wat dan deur die regter uitgespreek word.  Dit is heeltemal duidelik. As dit om andere oortredings gaan is verdere bestudering van die Skrif noodsaaklik. In diepe afhanklikheid van die Gees se wysheid.

 

Ds Rob Visser

 

[1] Botha, J. 2000.  Doodstraf in die wêreld. In: Die Joernaal  vir Etiese Medisyne I,3. p 5 

[2] Kyk o.a: Nah 1:2,3; Rom 3:19,20; 2 Tes 1:8,9. 

[3] Ek het die begin van Levitikus 24:16 met maar  vertaal.  Dit is anders as in die Ou en Nuwe Afrikaanse Vertaling.  Ons lees in die Ou Vertaling: “ As iemand sy God vloek, sal hy sy sonde dra  en wie die Naam van die HERE laster moet sekerlik gedood word”.   Die Nuwe Vertaling het hier: “Elkeen wat vir God laster, sal die straf daarvoor kry. Wie die Naam van die HERE oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry.”

Die Nuwe Vertaling is nie reg nie want daar word die woord  sy wat  in die Hebreeus daar staan weggelaat.  Dit gaan hier oor sy God.  Ons moet bedink dat die HERE dit sê in die situasie dat die Naam van die HERE gelaster is.  Die tweede wat hier gesê moet word is dat die Hebreeuse woord we  wat aan die begin van vers 16 staan met sowel en as maar  vertaal kan word. Die verband waarin die woord we  gebruik word, bepaal hoe dit vertaal moet word. Ons lees in vers 15 dat die persoon wat sy God vloek sy sonde moet dra. Dit beteken dat hier geen strafmaat vasgestel word nie. Die HERE sê dat as iemand  sy eie god, wat dan ‘n afgod is,  vloek dan moet die sogenaamde god hom maar straf.  Dit gaan hier volgens my oor ‘n  afgod en daarom het ek hier die woord el ook met ‘n klein letter vertaal. Hoe anders is dit as mense die Naam van die HERE vloek! Hy is nie een of ander mens se god nie. Hy is niemand se eiendom nie. As mense die HERE se Naam vloek of laster moet die doodstraf bedien word. Omdat dit hier volgens my om ‘n teenstelling gaan het ek dus die woord we  met maar vertaal.           

[4] Ek het hieroor eerder geskryf: “Wie is nou die seuns van God? Die mees aanneemlike verklaring is dat dit hier oor die sterkste en magtigste manne onder die mense gaan. Dit lyk dalk vreemd. Ons moet daarop let dat die woorde “van God”  in die Hebreeus ook ‘n stylfiguur kan wees wat op die oortreffende trap wys. Voorbeelde daarvan is: Gen 30:8; 1 Sam 14:15; Jona 3:3. In Gen 30:8 staan letterlik  “worstelinge van God” wat vertaal is met: “bomenslike worstelinge”. In ons vertaling van 1 Sam 14:15 lees ons: “sodat dit ‘n skrik van God geword het.” Dit beteken hier dat dit ‘n geweldige groot skrik geword het. In Jona 3:3 staan daar van Nineve letterlik dat dit: “’n stad van God was”. Hier is tereg vertaal: “‘n ontsaglike groot stad.”

Ons sou in ons teks hier kon vertaal: die sterkste seuns. As die sterkstes onder die manne op die aarde rondkyk, sien hulle mooi dogters. Hierdie dogters is mooi maar dogters van die mense. Dit beteken dat hulle nie die liggaamlike krag het om hulle teen die sterkstes onder die mense te kan verset nie. Die sondige lewe volgens eie begeertes het so toegeneem op die aarde dat die sterkste mans na willekeur die vroue neem wat hulle wil hê. Die neem van meerdere vroue word veral onder die sterkstes en magtiges al hoe meer ‘n gewoonte. Die sterkstes neem vir hulle al die mooiste vroue wat hulle verkies. Dit is ‘n simtoom van die toenemende verderf van die mensdom. ….. Daar was ook reuse op die aarde toe die sterkste mans  die mooiste meisies  geneem het. Dit wek die indruk dat uit hierdie verbintenis reuse gebore is. Dit is verklaarbaar as ons daaraan dink dat die sterkste mans en mooiste vroue gemeenskap met mekaar het en daaruit kom die sterkste en opvallendste mans voort. Manne wat bo die swakker deel van die mensheid uitstyg. Hulle word die geweldiges van die ou tyd genoem. Dit is die mans wat as die sterkstes en magtiges in die tyd voor die sondvloed naam gemaak het.”  In: Visser, Rob 2001.  Die HERE maak ‘n begin. Pretoria: Tesselaren.  p. 51,52

[5] Kyk vir ‘n goeie bespreking van hierdie woord:  Stamm, JJ. 2000 (oorspronlik in Duits 1945) Taalkundige oorwegings by die gebod “ Jy mag nie doodslaan nie” In:  Die Joernaal vir Etiese Medisyne I,2  p 5-9.

[6] Ons is gewoond aan die vertaling: “genade op genade”.  As die vertaling reg is, moet daar in die Grieks ‘n ander woord gestaan het. Dan moes daar epi pleks anti gestaan het. Kyk o.a:  C. van der  Waal, 1984  De vervulde Thora.  Kampen: Van den Berg  p 39 en P.H.R. van Houwelingen, 1997. Johannes.  Kampen:Kok p 54.

[7] Ons sien in die Bybel ‘n ontwikkeling van die familie wat straf, soos die bloedwreker, na die amptelike regspraak.  Sien hieroor:  Visser, Rob. 2000.  Mag ‘n medikus straf ? In: Die Joernaal vir Etiese Medisyne.       p  54-56. 

[8] J. Calvyn, 1559 (uitgawe 1991). Institusie van die Christelike Godsdiens IV. Potchefstroom: Calvyn Jubileum Boekefonds, p. 1835,1836 

[9]  Ons bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis art 34 o.a: “Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom 10:4), deur sy bloed te stort ‘n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat ‘n mens tot ‘n versoening of voldoening van die sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop gestel.”

Ons bely in vraag en antwoord 74 van die Heidelbergse Kategismus o.a:  “So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen, in die plek waarvan in die Nuwe Verbond die doop ingestel is.”