HERMENEUTIEK: DIE LEEU BRUL!!!

Over uitleg en gebruik van die Bybel

 

Ons lees in Amos se profesie hoe die HERE Homself met ‘n leeu vergelyk. Ons sien dit as ons Amos 1:2 en 3:8 met mekaar vergelyk. Amos sê daar in God se naam: “Die HERE brul uit Sion en verhef sy stem uit Jerusalem, sodat die weivelde van herders treur en die top van Karmel verdor.  ….. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie.” 

Ons kan sê dat die Bybel die woorde bevat wat die HERE as ‘n leeu gebrul het. Hierdie woorde het met so’n krag gekom dat hulle nie geignoreer kon word nie. Hulle het met so ‘n krag gekom dat hulle nie verborge kon bly nie. God se woorde, die Bybel is vol van Goddelike krag.

Wat is nou ons taak in hierdie wêreld? Is die gesag van die Bybel van ons en ons stryd vir God se Woord afhanklik? Nee, so mag ons dit nie sê nie. Die HERE sal altyd op Sy manier sorg dat Sy stem gehoor word. Ons kan niks aan dit wat Hy gebrul het toevoeg nie. Ons kan die gesag en krag van Sy Woord nie groter maak nie.

Ons is wel geroep om die Woord van die HERE te lees, mooi te luister wat Hy sê en dit te oordink en in ons hart te bewaar. Ons is ook geroep om hierdie Woord vir ander te vertel. Ons is geroep om die mense die Bybel te laat lees en leer lees sodat hulle God se Woord hoor en niks anders nie. Dit moet nie menslike wysheid wees nie wat mense hoor nie maar die HERE wat brul.

Dit wys vir ons hoe belangrik dit is hoe ons die Bybel lees. Ook as ons die beste bedoelings het en werklik vanuit liefde vir die HERE die Bybel wil lees kan ons in allerhande slaggate val.

Ek wil in hierdie lesing op die volgende punte wys:

  • Enkele maniere waarop in die geskiedenis die Bybel gelees is.
  • Allogorie
  • Moderne liberale manier van omgaan met die Skrif
  • Fundamentalisme
  • Enkele aanwysings hoe ons die Bybel behoort te lees.

 

Iets uit die geskiedenis

 

As dit om die geskiedenis gaan wil ek begin in die eerste eeue na Christus se werk as die evangelie aan baie volke verkondig is. Ons vind dan twee maniere waarop die teks van die Bybel uitgelê word. Sonder dat dit beteken dat tussen die twee verskillende skole ‘n verskil in geloofsinhoud bestaan het.

Die een deel het beklemtoon dat ‘n mens moet lees wat daar staan en  ‘n letterlike uitleg  gevolg moet word. Daar waar die Bybel vir ons ‘n geskiedenis vertel moet dit as geskiedenis geglo en uitgelê word.

Die ander deel het nie ontken dat die letterlike betekenis belangrik is nie maar het gesê dat die verhale en die woorde in die Bybel ‘n dieper betekenis het. Hulle was aanhangers van wat ons noem ‘n allegoriese uitleg. Dit beteken dat jy sekere verhale as simbole van sogenaamde meer geestelike dinge sien.

Laat ek enkele voorbeelde daarvan uit daardie tyd gee.

  • Jakob trou eers met Lea en daarna met Ragel. Die nie gelyktydig trou met hierdie twee vroue is dan daarvan die beeld dat Jode en heidene nie tegelykertyd God se volk was nie. Jakob sou die beeld van Christus wees en Lea van Israel en Ragel van die kerk van die Nuwe Testament en daarna. Hierdie geskiedenis van Jakob het dan as dieptste bedoeling om aan te dui dat Die HERE eers ‘n verbond met Israel gehad het en daarna met die kerk uit alle volke.
  • ‘n Tweede voorbeeld uit Jakob se lewe is die geskiedenis van die skape en bokke wat gestreep, gevlek en gestippel was. Hierdie verhaal sou ons wys dat Christus vir mense van verskillende velkleur en van allerhande posisies in die samelewing gesterf het.
  • Ons vind by die bekende kerkvader Augustinus o.a. hierdie voorbeelde: Jakob gaan na sy pa Isak om deur bedrog die groot seën te ontvang. Hy laat sy gladde arms met die vel van ‘n bok bedek. Dit is volgens Augustinus die beeld van Christus wat Hom met die sondige vlees van ‘n mens laat oordek het.

Die tweede voorbeeld van Augustinus is die vyf  klippies wat Dawid soek voordat die geveg met Goliat begin. Hierdie vyf klippies is dan die simbool vir die eerste vyf boeke van die Bybel. Dawid het hierdie vyf klippies in sy herdersak gedoen en dit wys daarop dat die eerste vyf boeke van die Bybel deur Christus as die Goeie herder van wet tot genade geword het.

Die enkele voorbeelde wat ek hier gegee het, wys al dat dit nie die regte manier van Bybeluitleg is nie. Wat is die groot gevare van hierdie omgang met die Skrif ?

Ek noem die volgende:

  1. ‘n Mens kan die Bybel laat sê wat hy wil. Hierdie metode van Skrifuitleg  is heeltemal willekeurig.
  2. Die geskiedenis kry nie die regte plek nie. Die een glo nog die letterlike betekenis terwyl die ander sê dat dit net om die simboliese betekenis gaan.
  3. As die HERE vir ons geskiedenis gee, wys Hy Homself in die geskiedenis en dit is nie minder geestelike as een of ander simboliese uitleg nie. Die filisofie van Plato het toe op die kerk ‘n groot invloed uitgeoefen.

 

 

Middeleeue

 

Wat het nou verder in die geskiedenis met hierdie manier van Bybeluitleg in die kerk gebeur? As ons kyk na die sogenaamde Middeleeue beheers die  allogoriese uitleg nog altyd die uitleg van die Skrif. Die Middeleeue begin in 749 na Christus. Hierdie periode tot die tyd van die Reformasie word die uitleg van die Bybel beheers deur die teorie van die vierderlei Skrifsin.

Wat is dit? Elke teks in die Bybel het volgens hierdie teorie vier betekenisse:

  1. Die letterlike betekenis
  2. Die allegoriese betekenis
  3. Die morele betekenis
  4. Die anagogiese betekenis

Die leerboeke in daardie tyd maak die bedoeling hiervan duidelik met die volgende Latynse gediggie:

Littera gesta docet; quid credas allegoria; moralis quid agas; quo tendas anagogia.

Enigsins vry vertal beteken dit:

Die letterlike  wys wat gebeur het

Die allegoriese wys wat ‘n mens moet glo

Die morele wys wat ‘n mens moet doen

Die anagogiese wys waarna ‘n mens hom moet uitstrek

Die voorbeeld wat in daardie tyd amper altyd gebruik is om te verduidelik wat bedoel word is die naam Jerusalem.

Letterlike betekenis: hoofstad Israel

Allegoriese betekenis: kerk op aarde

Morele betekenis: ‘n goeie gewete

Anagogiese betekenis: die kerk wat oorwin het of die hemelse Jerusalem.  

Ander voorbeeld by Thomas van Aquino: Die lig wat die HERE op die eerste dag skep.

Letterlike betekenis:  die lig wat God geskep het

Allegoriese betekenis: Christus wat die Lig van wêreld is.

Morele betekenis:  Dat Christus ons lewe mag verlig

Anagogiese betekenis: Dat Christus ons Na die ewige heerlikheid lei.

Een beswaar teen die allegoriese uitleg wat ek eerder genoem het, het hier verval. Dit is dat die letterlike hier nie weggeneem word nie. Dit is wel so dat die letterlike betekenis toe die mins belangrike was.  Die twee eerdere besware bly ook hier bestaan.

 

Reformasie

 

Die Reformasie waarin Luther en Calvyn so ‘n belangrike rol speel, het ook gelei tot ‘n terugkeer na die regte manier van Bybellees en Bybeluitleg. Die allegoriese manier van Bybeluitleg verdwyn vir die grootste gedeelte.

‘n Uitsondering daarop is die manier waarop met die boek Hooglied omgegaan is. Baie gereformeerdes het die allegoriese manier van Bybeluitleg verwerp maar by die lees van die boek Hooglied kom dit tog dikwels weer terug. Dikwels is die oorsaak daarvan dat dit vir mense onmoontlik lyk dat die HERE in die Bybel so openlik oor seksualiteit en die omgang in die huwelik praat. Dit is tog nie geestelik genoeg nie!?

Ek noem enkele voorbeelde van allegoriese uitleg van die Hooglied by die Kanttekeninge by die Statenvertaling.

Die vrou in Hooglied sê in vers 5 van haarself: “Ek is bruin gebrand maar lieflik”. Die aantekening hierby is: “Verstaan hier by die swartheid die uiterlike mismaaktheid van die kerk, wat deur vervolginge van tiranne en vanweë ketterye, skeuringe en ergernisse daar is.”

As die vrou in Hooglied duidelik maak hoekom sy so bruingebrand is, lees ons: “Moenie na my kyk omdat ek so bruinirig is, omdat die son my gebrand het nie.” Die verklaring van die son is dan die volgende: “die vervolginge en verdrukkinge  soos in Matt 13:6,21”.

As laaste voorbeeld  gee ek die twee aantekenings by die eerste deel van 4:5 waar die man die skoonheid van sy vrou beskryf: “U twee borste is soos twee lammers”.

Aantekenings: “Verstaan hier onder die twee groot borste die leringe en vertroostinge wat ons in die Ou en Nuwe Testament vind waarmee die gelowiges gevoed en verkwik word. Kyk Jes 66:11; 1 Petr 2:2. Ander verstaan onder die twee borste van die Bruid die bediening van die Woord en die sakramente, waarmee die skape en lammers van Christus in ‘n goeie en geile wieveld gevoed word.”

Soos twee lammers “Dit is, hulle is altwee mooi, vol, ferm en aan mekaar gelykvormig. So is die Ou en Nuwe Testament op alle maniere aan mekaar gelyk, hulle kom in alles met mekaar ooreen.”

Ons vind by die uitleg van die boek  Hooglied nog lank die oorblyfsel van ‘n allegoriese uitleg. Ons sal ook by hierdie boek die allegoriese uitleg agter ons moet laat sonder om te vergeet dat ons by die uitleg van hierdie boek steeds in rekening moet bring wat die Heilige Gees in Efese 5:31,32 laat skryf het: “Daarom moet die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle moet een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.”

 

Die Reformasie het weer die regte aandag wil gee aan dit wat ons in die Bybel, in God se Woord lees. Dit beteken dat goeie aandag aan die geskiedenis en die omstandighede waarin die heilsgeskiedenis afgespeel het, gegee moet word.

 

19e en 20e eeu

 

Die aandag vir die geskeidkundige het in kombinasie met die gedagte dat die mens alles moet kan beheer en verstaan  en dat die mens op die troon sit, gelei tot ‘n liberale manier van Bybellees. Dit het ‘n geweldige hupstoot vanaf die 19e eeu gekry. Selfs so dat ons vanaf die 19e eeu kan praat van die isolement van die gereformeerde Skrifbeskouing. Dit sou vir hierdie lesing verseker te ver voer om die geskiedenis hier te beskryf en ook daarvan allerhande voorbeelde te gee.

Ek wil net noem wat die positiewe van die 19e eeu vir die  Bybellees was en daarna enkele voorbeelde in ons eie tyd noem waartoe die liberale manier van Bybellees lei.

Die positiewe wat ons vanuit die 19e en 20e eeu gekry het is:

  • Die geskiedenis self kry weer meer aandag.
  • Die gevolg is dat baie navorsing gedoen word en die argeologiese ondersoek vermeerder ons kennis van die samelewing van Israel in Bybelse tyd. Die geskiedenis van die volke rondom Israel raak ook meer bekend en dit help ons om die Bybel nog beter te kan verstaan.

Die groot jammerte van die 19e en die 20e eeu is dat die groot meerderheid van die teoloë die Bybel histories-krities begin lees. Dit beteken dat hulle hul bo die Bybel gaan verhef en daaraan begin twyfel of dit wat in die Bybel staan werklik so gebeur het. Hulle eie menslike navorsing staan bo dit wat die HERE in die Bybel sê en hulle maak hulleself regter oor wat in die Bybel betroubaar is en wat nie betroubaar sou wees nie. 

Ek wil hiervan twee voorbeelde gee vanuit ons eie Suid-Afrikaanse teologiese en kerklike wêreld. Dit is voorbeelde van ‘n diskussie tussen teoloë aan die einde van die vorige jaar en gaan oor Jesus se maagdelike geboorte en opstanding.

Professor Van Aarde, ‘n Hervormde  Nuwe Testamentikus van Tukkies, beweer dat Jesus op ‘n gewone manier verwek is maar mense het nie geweet wie Sy vader is nie. Hy sê dan van dit wat Matteus van die maagdelike geboorte skryf: “Matteus, ‘n Jood wat skryf in die tyd wanneer daar verwydering begin plaasvind tussen die volgelinge van Jesus en joodse sinagoges, vertel ‘n verhaal om wal te gooi teen die beskuldiging dat Jesus ‘n buite-egtelike kind was. Dit sou onder meer impliseer dat Jesus geen geloofwaardigheid het nie. Die figuur van Josef in hierdie verhaal word volgens Van Aarde waarskynlik ontleen aan die Ou Testamentiese verhaal van Josef., die man wat verneder is maar deur God verhoog is en wat sy broers vergewe het.”

Van dit wat ons in die Lukasevangelie van Jesus se maagdelike geboorte lees, sê Van Aaarde: “Lukas, ‘n Griek wat geleef het in ‘n wêreld met baie stories van maagdelike verwekkings, wil byvoorbeeld sê vir hom is die verlosser nie die keiser of die een of ander godeseun van die Griekse verhale nie. Dit is Jesus.”

As van Aaarde van Jesus se opstanding praat, sê hy weer dat dit nie om die feit van die liggaamlike opstanding gaan nie maar: “Soos met die geboorte was daar destyds verskeie verhale van figure wat uit die dood opgestaan het. Wat die vroeë Christene met die opstandingsverhaal wou sê, is dat dit nie Augustus, die keiser, is wat vir hulle die manifestasie van God is nie. Dit is Jesus.”

Een van die teoloë wat hierop reageer is prof Pieter Craffert wat Nuwe Testamentikus by Unisa is. Hy meen dat Van Aarde en mense rondom hom te maklik sê dat iets histories nie gebeur het omdat dit volgens ons gedagtes nie moontlik is nie. Volgens hom mag ‘n mens teenoor Van Aarde nie sê dat hy nie reg is omdat die Bybel dit as feite meedeel nie. Craffert sê dat ons dan  vanuit ‘n vooroordeel redeneer. Hy wil ‘n ander pad vat. Volgens hom moet ons na die kultuur kyk waarin hierdie verhale geskryf is. Dit kan vir die mense toe in hulle kultuur feite en waarheid wees maar  in ons kultuur praat ons dalk anders oor feite en waarheid. Craffert se verhaal loop dan op die volgende uit:

“Dit is korrek om te sê dat die geloof in die opstanding die hart van die Nuwe Testament raak.

Dit is egter nie so vanselfsprekend dat dit oor ‘n “liggaamlike opstanding” gehandel het nie. Soos met die seeverhaal is die eerste vraag wat die kultuur-elemente daarvan is. Waaroor handel dit?

Dan moet gekyk word na al die destydse opstandingsverhale en die kultuurverwagtinge wat ‘n rol gespeel het.

Jesus het waarlik opgestaan, want hulle het Hom in visioene gesien, Hy het opgestaan, want Hy verdwyn en verskyn weer aan sy disipels.

Dis hoogs onwaarskynlik dat dit hier oor die opwekking van ‘n dooie liggaam gehandel het wat ‘n mens met ‘n videokamera sou kon vaslê. Moses, Elia en ander voorouers kon ook verskyn en verdwyn. Vir sy volgelinge was dit spesiaal dat dit met Jesus gebeur het.

Die vraag of sulke verhale vir ons “letterlik” waar is, is eintlik totaal misplaas. Net so misplaas is om te begin vra of iemand se voorouers werklik beveel het dat ‘n offer gebring moet word.

Voordat jy dit kan beantwoord, moet jy eers vra: hoe verstaan jy die verskille tussen jou eie kultuur en daardie ander kultuur, en het jy daardie kultuur ernstig opgeneem toe jy die verhaal gehoor het?”

Ek weet dat oor hierdie aanhalings baie meer gesê kan word. Ek wil nou net op een ding wys wn dit is dat ondanks verskille tussen Van Aarde en Craffert altwee  die Skrif  nie aanvaar as die Woord wat  die waarheid volgens die feite gee nie. Die feite van die Skrif word nie aanvaar as dit wat werklik, sintuiglik waarneembaar gebeur het nie. Die liberale moderne en ook pos-moderne teologie maak hom van die onfeilbare Woord van die HERE los.  Van Aarde is duidelik ‘n moderne teoloog. Dit wat volgens menslike wetenskap onmoontlik is, kan ook nie gebeur het nie. Craffert is ‘n pos-moderne teoloog en wil elkeen sy eie waarheidsbegrip gun en saam het ons die waarheid.

Mense begin almal op hulle eie manier wat volgens hulle menslike gedagtes en gevoelens reg is die Bybel te lees.

Hulle doen dit selfs so dat ‘n baie invloedryke stroming in die teologiese wêreld sê dat die betekenis van die teks van die Bybel steeds weer verander. Die teks van die Bybel is volgens hulle in homself dood. Dit is ‘n ou boek wat ons nou nie meer aanspreek nie. Mense lees in steeds weer ander tye hierdie dooie teks en as hulle dit in hulle tyd lees, gee hulle daaraan ‘n betekenis wat vir hulle in hulle tyd en omstandighede hoop gee. So bly volgens hulle die Bybel aktueel. Die Bybel is dan nie aktueel omdat die HERE daarin praat nie maar omdat mense dit volgens hulle eie idees vir hulle aktueel maak. Wie mooi oplet, sien dat ons hier weer by die willekeur van die allegoriese uitleg van die Bybel uitkom. Mense maak dan met die Bybel wat hulle wil.

Dit is duidelik dat ons die moderne, liberale manier van Bybellees moet afwys. Beteken dit nou dat ons op ‘n fundamentalistiese manier die Bybel moet lees?

 

Fundamentalisme

 

Teenoor die liberale en moderne manier van die Bybellees het reaksie gekom. Mense wil die Woord van die HERE bewaar en daaraan vashou. Ons sien hierin raak dat die Gees in die geskiedenis liefde en gehoorsaamheid aan die Woord bly werk.

As ‘n mens reageer is die gevaar  van oorreaksie altyd aanwesig. Jy kan  dan ook te sterk reageer. Dit gebeur as mense op ‘n fundamentalistiese manier die Bybel wil lees. Nou moet ek eerlik sê dat die woord fundamentalisme op baie verskillende maniere gebruik word. Ek sien dit as ‘n eer as ‘n moderne teoloog my van fundamentalisme beskuldig. Die moderne teologie sien elkeen wat aan die onfeilbare Woord van die HERE wil vashou as  ‘n fundamentalis.

Wat bedoel ek nou met ‘n fundamentalistiese manier van Bybellees?

Ek noem drie sake wat daarvan kenmerke is:

  • Tekste in die Bybel word te letterlik opgevat. Teenoor die liberale teologie word nie mooi na die geheel van die Bybel gekyk en word nie mooi onderskeid gemaak tussen die verskillende literatuursoorte in die Bybel nie. Alles of dit nou geskiedenis, ‘n gedig, ‘n profesie of ‘n brief is word letterlik opgevat.

‘n Mens moet baie mooi die onderskeid raaksien tussen aan die eenkant  die beskrywing van die geskiedenis en briewe en aan die ander kant profesie en digterlike en wysheidsboeke. Selfs in ‘n brief  kan alles nie streng letterlik gelees word nie. Laat ek een voorbeeld noem. Paulus skryf in 1 Tes 5:17:   “Bid sonder ophou.”

Dit beteken verseker nie dat ‘n mens die hele dag moet bid nie. Die Here Jesus self het gesê: “Waak en bid”.  Matt 26:41. Die uitspraak: “Bid en werk” is ook volledig volgens God se Woord. Kyk o.a: 1 Tes 3:9,10.  Dit sal altyd so moet wees dat ons dit wat ons in ‘n teks lees in verband met die hoofstuk, die Bybelboek en met die hele Bybel moet lees. Ons sal daarby ook altyd daarmee rekening moet hou dat in gedigte meer beelde en beeldryke taal gebruik word as in die beskrywing van feite.

  • ‘n Volgende kenmerk van ‘n fundamentalistiese manier van Bybellees is dat met die voortgang van die heilsgeskiedenis geen rekening gehou word nie. Ek het in die kerkblaaie van Pretoria, Kompas, Esraverslag en die blad Etiese Medisyne al op die voorbeeld van die bloedwreker gewys. Ek wil nou ander voorbeelde gee om te wys wat ek bedoel.

Dit is nou byna ‘n jaar gelede dat ek ‘n lesing gehoor het waarin op die belang van die Bybel vir die ekonomiese lewe gewys is. Die spreker het teenoor die aantasting van die Skrif en teenoor beweringe dat die Bybel niks met politiek en ekonomie te doen het nie ernstig na die wil van God vir die ekonomiese lewe gesoek. Sy bedoeling was goed en opreg.

Nogtans het hy die Bybel as ‘n te tydlose boek gebruik. Hy het  1 Samuel 8 benoem om daaruit te bewys dat die HERE se wil is dat die owerheid baie min belasting  vra. ‘n Ander voorbeeld van hierdie manier van Skrifgebruik was dat hy die geskiedenis van Agab en Nabot aanhaal om te bewys dat onteiening van grond deur die staat verkeerd is.

Wat is die probleem hiermee?

As ‘n mens na 1 Samuel 8 kyk, sien jy dat die HERE in hierdie hoofstuk op geen enkele manier vir die koning en die owerheid reëls gee nie. Hy doen dit wel op ander plekke soos in Deuteronomium 17:14-20. Dit is belangrik om hierdie hoofstuk en wat van die koningskap gesê word in sy verband te lees. Die volk vra vir die HERE deur Samuël om ‘n koning. Die koningskap self is nie verkeerd nie. Die HERE het self al wette gegee vir die geval dat ‘n koning aangestel word. Die probleem is hier dat die volk ‘n koning soek soos ‘n koning by die volke rondom hulle funksioneer.  Dit gaan nie net om ‘n koning nie maar hulle voel pas veilig en werklik ‘n nasie met aansien as hulle ‘n koning het wat funksioneer soos by die ander volke. Die motief en die soort koning wat hulle soek is vir die HERE nie reg nie.  Hy waarsku die volk nog een keer deur daarop te wys dat die kry van ‘n koning die laste vir die volk sal verswaar. Hy noem dan in dan in 1 Samuel 8 allerhande voorbeelde waaronder: “En van die saailande en julle wingerde sal hy tiendes neem en dit aan sy hofdienaars en sy dienaars gee. En julle slawe en slavinne en julle beste jongmanne en julle esels sal hy neem en vir sy werk gebruik. Van julle kleinvee sal hy tiendes neem, en self sal julle sy slawe wees.”  Vs 15-17.

Hierdie waarskuwing mag ons nie so gebruik dat ons sê: Alles wat hier genoem word, veroordeel die HERE. Sekere dinge wat die HERE hier noem, stry met ander wette wat Hy vir die volk gegee het maar nie alles nie. As die koning tiendes aan die volk oplê, kan hulle nie met God se wet in hulle hand sê dat hy dit nie mag doen nie. Ons lees later ook nooit dat die HERE die koning daarvoor vermaan of straf nie.

Ons kan wel sê dat die koning toe nie die land van die Israeliete mog onteien nie. So kom ons by die tweede voorbeeld wat ek genoem het. Dit is die geskiedenis van Agab en Nabot.  Koning Agab wil Nabot se stuk grond koop en Nabot weier om dit te verkoop. Die rede daarvoor is dat die HERE daardie stuk land by die intog in Kanaan vir sy familie gegee het. Dit mag daarom nie verkoop word nie. Nabot is hier reg. Hy leef in gehoorsaamheid aan die HERE se wet. Agab kry hierdie stuk grond as sy besitting deur Nabot vals te laat beskuldig en te laat doodmaak. Kan hierdie geskiedenis vandag dien om te sê dat die owerheid nooit grond mag onteien nie?

As ons die Bybel so gebruik hou ons nie genoeg rekening met die oomblik in die heilsgeskiedenis waarop dit gebeur het nie. Waarom mog in Israel die ou familiebesitting nie verkoop word nie?

Die rede daarvoor was dat die HERE vir Sy volk toe ‘n eie land gegee het. Hy het die grense van hierdie land bepaal. Hierdie land was vir die volk groot genoeg en was ook vrugbaar genoeg om die hele volk van voedsel te kan voorsien.

Elke stam kry binne die grense van Kanaan ‘n eie gebied wat vir hulle goed genoeg is. Elke familie kry ‘n eie stuk grond waardeur die HERE daarvoor sorg dat  geen enkele familie in Israel vir altyd in armoede moet leef nie. Hoe belangrik dit vir die HERE  in daardie periode van heilsgeskiedenis was, sien ons as in die woestyn die vraag kom of  as iemand net dogters het die dogters die besitting van hulle pa kan erf. Dit is die dogters van Selofad wat in Num 27 met hierdie vraag kom en die HERE se antwoord is dat dogters sal erf as daar nie seuns is nie. As ons verder in die Bybel lees, sien ons raak dat dit wel aan hierdie voorwaarde gebind was: “En elke dogter wat ‘n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel, moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe. So sal dan ‘n erfdeel nie van een stam na ‘n ander stam oorgaan nie; want die stamme van die kinders van israel moet elkeen sy erfdeel vashou.” Num 36:8,9

Ons doen aan hierdie gedeeltes in die Bybel nie reg as ons hierin ‘n bewys wil sien dat die owerheid nooit grond mag onteien nie. Die HERE het die geskiedenis verder gelei. Die tyd van die volk Israel as die spesiale volk van God met die spesiale land Kanaan as die HERE se land is verby. Hierdie spesiale tyd het om besondere reëls gevra wat nou nie meer so van toepassing is nie. Ons sal mooi op die tyd en die omstandighede moet let waarin sekere dinge gesê en gebeur het voordat ons kan sê wat dit vir ons vandag beteken.

  • ‘n Derde kenmerk van ‘n fundamentalistiese manier van Bybellees is as nie  met die tyd en omstandighede waarin die HERE Sy Woord tot Sy volk laat kom, gereken word nie.  Dit is dikwels ‘n reaksie op die liberale teologie wat die Bybel of groot dele van die Bybel as tydgebonde sien en dan die gesag van die Woord op baie punte afwys. Ek noem een voorbeeld waar dit dikwels gedoen word ook deur mense wat hulle gereformeerd noem. Die uitsprake wat ons veral by Paulus oor die posisie van die vrou vind, word  as tydgebonde van gesag vir ons tyd gestroop. Dit terwyl Paulus deur die Heilige Gees o.a. skryf: "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.” 1 Tim 2:12-14.

Ons moet nou nie in die slaggat val om as reaksie nie meer te kyk of sekere Skrifgedeeltes nie so met sekere omstandighede toe en daar te doen het dat dit nie meer op dieselfde manier vir ons geld nie. ‘n Voorbeeld daarvan is wat Paulus in 1 Korintiërs 11 van die bedekking op die vroue se koppe in die kerkdiens skryf. Dit gaan hier om die houding wat die vroue in die gemeente toe in daardie stad uitdra deur niks op hulle kop te dra nie. Hulle wys daarmee dat hulle by die feministiese beweging in Korinte behoort. As vandag die dra van ‘n hoed in die kerkdiens ‘n teken sou wees dat jy ‘n feminis is, is die toepassing van 1 Kor 11 dat in die kerk deur vroue geen hoedens gedra mag word nie.

Ons sal steeds weer daarop moet let wat die Heilige Gees in die omstandighede toe vir Sy volk wil leer en dit sal vir ons die norm vir alle tye wees.

Dit sal duidelik wees dat ‘n fundamentalistiese manier van Bybellees nie die regte antwoord op die moderne, liberale manier van omgang met die Bybel is nie. Ons sal baie keer die bedoeling, die motief om in alles na die HERE te wil luister moet waardeer en dit ook uitspreek. Nogtans sal ons ‘n ander pad moet gaan as ons die HERE se stem regtig met gesag laat praat. Ons moet die leeu in al Sy krag laat brul. Ek noem nou nog kort die belangrikste dinge waarop ons dan moet let.       

     

Enkele aanwysings hoe ons die Bybel behoort te lees.

 

  1. Die belangrikste van alles is dat ons die Bybel aanvaar as die Woord van God wat absolute gesag oor ons het. Dit gaan dan ook om ‘n aanvaarding dat God se Woord gesag het op alle terreine van ons lewe. Die gesag van die Skrif is dan ook nie beperk tot ‘n deel van die Bybel nie, ook nie net tot die Nuwe Testament nie. Die hele Skrif is die onfeilbare en gesaghebbende Woord van God.

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot  teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk toegerus.” 1 Tim 3:16,17.

Belangrik is hier ook dat ons bly sien dat die HERE nie net ‘n belangrike boodskap vir ons in die Bybel gegee het nie waarvan ons kan sê dat die manier waarop dit tot ons kom nog allerhande foute en gebreke kan bevat. Die Heilige Gees se werk van inspirasie gaan nie net oor die groot boodskap nie maar ook oor die woorde en die opskryf  daarvan.   

Dit is onmoontlik om met ‘n mens wat dit nie glo en daaruit leef nie in die eenheid van die ware geloof te staan.

  1. Die tweede wat by die lees van die Bybel baie belangrik is, is dat ons onderskeid maak tussen die historiese en normatiewe gesag. Elke woord en en elke geskiedenis in die Bybel het nie die doel dat ons dit navolg nie. Ons hoor die duiwel in die Bybel praat, ons hoor valse profete en dwaalleraars, ons hoor hoe God se teenstanders praat. Dis het histories so gebeur en is werklik so gesê en het daarom historiese gesag maar dit gee vir ons nie die norm vir ons lewe nie. HERE wys op ander plekke hoe Hy wil dat ons leef en glo en dit het vir ons normatiewe gesag.
  2. ‘n Derde is dat ons altyd daarop let wanneer die HERE dinge sê en doen. Ek het daarop al uitgebreid gewys by die behandeling van die fundamentalisme. Ons moet die klok van die heilsgeskiedenis altyd weer in die oog hou as ons die Bybel lees en toepas in ons lewe.
  3. ‘n Vierde punt wat alles met die derde te doen het is dat ons dit wat ons lees altyd moet probeer lees in die geheel van die Skrif. Hoe meer ons die inhoud van die Bybel ken hoe beter ons allerhande gedeeltes in die Bybel verstaan en die rykdom daarvan sien. Die Here Jesus wys dit baie duidelik as Hy op die dag van Sy opstanding vir die dissipels die Ou Testament oopmaak en vir hulle allerhande gedeeltes wys wat van Hom en Sy werk profeteer. Hoe belangrik is dit dat ons groei in die kennis van God se Woord om al hoe meer ‘n groter deel van die onuitputlike rykdom daarvan raak te sien en so al hoe meer die HERE se grootheid leer ken en  Dan lei ons lees en omgaan met die Woord van God in ons lewe al meer tot die jubel: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” Rom 11:35,36