HOE LEES ONS DIE BYBEL?

 

Hierdie artikel het in 2001 in twee keer verskyn. Dit is sowel in Suid-Afrika as in Nederland nog altyd aktueel.  

 

Dikwels word in ons tyd die Bybel op 'n kritiese manier gelees. Hierdie kritiese manier van Bybellees verwoes die lewe met die HERE en maak God tot ‘n leuenaar. As ons hierdie manier van Bybellees veroordeel, beteken dit nog nie dat wie Skrifgetrou wil wees die Bybel altyd goed gebruik nie. Dit is belangrik om oor die omgaan en toepas van die Bybel saam na te dink en die gevare van ‘n goedbedoelde maar verkeerde Skrifgebruik raak te sien.

 

Waar begin dit?

 

God se kinders wil  hulle Vader in die hemel leer ken. Om die Drieënige God te ken is dit nodig om die Bybel te ken. Daarin lees ons wat die HERE gedoen en gesê het. Daar lees ons hoe Hy vandag sorg en regeer en hoe Hy wil dat ons as Sy kinders lewe. Daar lees ons hoe die geskiedenis funksioneer en wat die doel van die geskiedenis is. Daar leer ons Jesus Christus ken want die Skrifte getuig van Hom! Kyk Joh 5:39,40.

Ons sou nog baie meer dinge kon noem. Waar begin die leer ken van God in ons lewe?

By die persoonlike lees en oordink van God se Woord.  Ons lewe in ‘n tyd waar ons baie bevoorreg is. Die broers en susters in Bybelse tyd kon nie elke dag die Bybel lees nie. Daarvoor was twee redes:

  1. Die Bybel was nie in boekvorm beskikbaar nie. Net enkele eksemplare was beskikbaar. Dit was ‘n baie groot werk om die Bybel met die hand oor te skryf. Toe die Here Jesus op aarde was, was die Ou Testament in baie boekrolle net in die sinogoges aanwesig. Nog weer later was ditmoontlik om die Bybel op papier te skryf en was nie meer baie boekrolle nodig nie. Die gevolg daarvan was dat die Bybel in een boek geskryf kon word. Nog altyd het dit baie lank gevat om ‘n Bybel oor te skryf en daardeur was ‘n Bybel ook baie kosbaar. Die gevolg was dat toe die Bybel in hanteerbare vorm verkrygbaar was dit vir baie min mens bekostigbaar en beskikbaar was. Pas na die uitvinding van die boekdrukkuns begin dit om die anders te word. Dit was omtrent 1500 voor Christus.  
  2. Baie mense kan nie lees nie en is van die voorlees deur ander afhanklik. ‘n Mens besef ook dat die oordink van God se Woord in daardie tyd ‘n groot plek ingeneem het. Ons lees in die Ou Testament geen oproep vir elkeen om die Bybel reëlmatig te lees nie. Ook in die Nuwe Testament lees ons nie so’n oproep nie. Dit is logies want baie mense kon nie lees nie en hulle kon geen Bybel bekostig nie.

Omdat dit die situasie was word in die Bybel veral klem op die oordinking van die Word gelê. Sien vir die oordink van die Woord  Jos 1:8; Psalm 1: 2; Psalm 119:99; Psalm 143:5.

 

Die voorreg  wat ons het om die Bybel elke dag te kan lees moet deur ons gebruik word. Die lees en oordink behoort nog altyd by mekaar. Hoe belangrik is dit om in jou persoonlike lees van die Bybel vir jou steeds weer te vra wat dit wat jy gelees het beteken en  omdaarvoor ook tyd te neem. Dit sal ook die gebedslewe ryker maak.

 

Is persoonlike Bybelstudie nodig?

 

As ‘n mens  oor hierdie vraag wil praat is dit nodig om daarna te kyk of persoonlike geloof en geloofsbelewing nodig is. Is dit reg om van persoonlike geloof en geloofsbelewing te praat? Sou dit nie beter wees om by die gesamentlike te begin nie?

Is die geloof  in die eerste plek persoonlik? Is dit nie ‘n verloëning van die verbond nie?

Die geloof is in die eerste plek verseker persoonlik. ‘n Mens wat geen persoonlike geloof en geen persoonlik omgang met die HERE het,  het geen geloof en geen gemeenskap met God nie. Onpersoonlikheid behoort nie by die christelike geloof nie. Dit gaan juis om die omgang met, die geloof  in die Drieenige God as persoon. Dit is ‘n lewende omgang! Ons glo nie in ‘n boek nie, ons glo nie in die verbond nie, ons glo nie in die kerk nie. Ons glo in die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Die persoonlike element kom ook duidelik in die Tien Gebooie en die Apostoliese Geloofsbelydenis na vore. Die HERE gee Sy wet vir Sy volk en spreek dan elkeen persoonlik met die woordjie jy aan. Die Apostoliese Geloofsbelydenis begin met die woordjie ek.  As ‘n mens met hierdie geloofsbelydenis saam met die kerk van alle tye sy geloof bely, bely hy dat hy dit ook persoonlik glo.

Die geloof, die lewe met Christus mag nie buite ons persoonlike geloof, buite ons hart staan nie. Die HERE wys steeds weer hoe Hy ‘n mens persoonlik soek, hoe hy die mens se hart soek.

 

Die HERE soek jou persoonlik

 

‘n Mens kan nie agter die gemeenskap, agter die kerk wegskuil nie. Ook nie as dit om die groei in kennis van die Bybel gaan nie. ‘n Mens kan nie sê dat hy die belangrikste dinge weet en dat vir die ander deel die kerk vir hom glo nie. Dis nie so dat hy kan sê:  Daar is genoeg slim mense in die gemeente wat hulle met die Bybel besighou, ek sal hulle volg nie.

Die HERE soek juis in die verbond jou persoonlike antwoord. Ek sal ‘n enkele voorbeelde in die Bybel noem waar ons sien hoe persoonlik die HERE ‘n mens soek.

  1. As Adam en Eva in die paradys gesondig het, spreek die HERE vir Adam as die eers verantwoordelike persoonlik aan. Hy sê dan: “Waar is jy”. (Gen 3:9)
  2. As Kain al hoe meer in die greep van die sonde kom, is dit die HERE wat vir hom persoonlik opsoek en sê: “Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie – die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gen 4:6,7)
  3. Ons kan hier ook dink aan dit wat gebeur as die Here Jesus voor die Joodse raad staan en Petrus vir Hom drie keer verloën het. Dan soek die Goeie Herder met Sy oë Sy skaap wat van die pad afgedwaal het. Ons lees in Lukas 22 dat nadat die haan drie keer gekraai het die volgende gebeur: “En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk, en Petrus het die woord van die Here onthou wat Hy vir hom gesê het:  Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal  verloën. En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween.” (61,62)
  4. Die Goeie Herder  soek elke skaap afsonderlik. Hy stel in elke skaap belang.  Nie een mag gemis word nie. Dit word baie duidelik in die gelykenis wat die Here Jesus  in Lukas 15 vertel. Hy vertel daar van die herder wat die een skaap soek wat hy aan die einde van die dag mis. Die herder gaan soek en vind die een skaap en ons lees dan: “En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.”  (5-7)

Ons lees hier hoe die HERE in jou en my persoonlik belang stel. Dit roep om ons persoonlike antwoord. 

     

Hoe hou ‘n mens persoonlike geloofsbelewing suiwer?

 

Die geloof  word beleef.  ‘n Dooie geloof is geen geloof nie. Die HERE se verbond is vol van lewe, vol van omgang met die mens. Daarom kan dit nie anders of  in ‘n gelowige se lewe is geloofsbelewing.  Dit gaan om ‘n lewende verhouding met God, om ‘n lewendige omgang met Jesus Christus.

Dit kan wees dat ‘n mens persoonlik,  dat ‘n hele gemeente van geloofsbelewing bruis. Dis pragtig as dit so is. Die groot ding waarop ons dan moet let is dat  nie ons belewing norm word nie.  ‘n Mens en ook ‘n gemeente moet  bereid wees om eie geloofsbelewing aan dit wat die HERE in die Bybel sê, te toets. Dis daarom so belangrik om regtig Bybelstudie te doen. Dit kan wees dat ‘n mens se gevoel, ‘n mens se entousiasme hom so meesleep dat dit hom onbedoeld  tot verkeerde sienings bring. ‘n Voorbeeld daarvan vind ons in die gemeente van Tessalonika.   

Paulus prys hierdie gemeente vanweë hulle geloof, die geloof  waarvan hy ook ander gemeentes vertel. Kyk 2 Tes 1:3,4. Nogtans is ook  hier steeds weer toetsing nodig.  Die gevaar in hierdie gemeente is dat hulle tot ‘n verkeerde siening oor Christus se wederkoms kom. Kyk 2 Tes 2:1,2 en ook 1 Tes 4:13-18.

Geloofsbelewing moet getoets en gestimuleer word deur die aandagtig lees en luister na God se stem.

 

Die HERE vra antwoord en geen papagaaiwerk nie

 

Hoe belangrik is dit dat ons hart, ons aandag, ons liefde daarby is as ons Bybellees. Dit moet vir ons daarom gaan dat ons verstaan wat ons lees. Dit moet nie so wees dat ons net tekste kan weergee, net kan herhaal wat ons gelees het nie.

Dit gaan daarom dat dit wat ons lees, ons tot die antwoord van geloof bring. Dan herhaal ‘n mens nie dit wat hy gelees het nie maar antwoord daarop in eie woorde en dade.

Juis daarom is begrypend lees van die Bybel so belangrik. Dit gaan nie daarom dat ‘n mens elke dag sy 10 of 20 of meer verse lees  nie. As ‘n mens se hart op die HERE gerig is, sal hy steeds wil verstaan wat sy God en Redder sê. As hierdie hart vir die HERE uit ons lewe verdwyn het, kan ‘n mens nog allerhande gereformeerde teorië verkondig, dan kan ‘n mens nog  baie woorde gebruik maar dan het die lewende geloof wat Vader in liefde wil beantwoord, verdwyn.

 

Die Bybel God se liefdesbrief vir ons

 

Die Bybel is God se Woord. Die Bybel is die boek waarin God Sy liefde vir jou verklaar. Die HERE verklaar daarin dat Hy jou hart wil hê. Hy bied Hom vir jou as jou Vader en Sy Seun as jou Redder aan. Niemand kan meer en groter liefde vir ‘n sondaar gee as die HERE nie. Hy wat so onpeilbaar baie vir jou wil gee, wil God se kind dan ook al hoe meer en beter leer ken. Die manier waarop ‘n mens God beter leer ken is die aandagtig lees van die Bybel. ‘n Mens wat weet dat die HERE sy Verlosser is, wil graag dat die HERE by jou op besoek kom, dat Hy met jou praat. Dit gebeur as jy Bybellees.

Dit is ‘n heerlike wonder dat die HERE daarvoor sorg dat ‘n mens elke dag  Sy Woord kan lees. Dis vir ons nie nodig om baie moeite te doen om Bybel te kan lees nie. Dis vir ons nie nodig om vir ‘n ander te vra om ons uit die Bybel voor te lees nie. Ons mag God se Woord binne handbereik hê. Die doel van die lees moet steeds weer wees om in liefde vir die HERE toe te neem. Om al hoe meer uit liefde God se wil te doen. Ons lees in Deut 30:14: “Maar baie naby jou is die Word, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.”

As ‘n mens persoonlik die Bybel lees, is dit die HERE self wat met jou praat. Wat doen ‘n mens as die HERE by jou op besoek kom?  Sou ‘n mens dan nie met groot eerbied en aandag luister nie?! Die HERE praat ook geheimtaal nie maar Hy gebruik gewone woorde. Hy spreek ons in ons eie taal aan.

Die eerbied, die liefde, die respek vir die HERE beteken ook dat ons werklik luister na dit wat die HERE sê. ‘n Mens lees dan nie elke dag Bybel omdat dit nou eenmaal so behoort nie. ‘n Mens lees omdat  hy graag die HERE beter wil leer ken. Omdat liefde vir God  sy lewe beheers

 

Persoonlike Bybelstudie is baie belangrik. Nogtans is dit die begin maar mag verseker nie die enigste manier van Bybelstudie in ons lewe wees nie. Ons wil nou kyk na ander vorme van Bybelstudie wat in ons lewe belangrik is of moet wees.

 

Huisgodsdiens

 

Huisgodsdiens is nie ‘n uitvinding van ons tyd nie. Die aandag daarvoor vind ons steeds weer in die geskiedenis. ‘n Voorbeeld daarvan is die Sinode van Dordtrecht 1618-1619 . Hierdie Sinode het drie soorte kategese onderskei:

  1. huiskategese
  2. skoolkategese
  3. kerkkategese

 

Die huiskategese het alles met die huisgodsdiens te doen gehad. Daaroor sê hierdie Sinode o.a. die volgende: “Die amp van die ouers is om tuis hulle kinders en ook die hele huisgesin wat aan hulle toevertrou is so vlytig as moontlik in die beginsels van die Christelike geloof, volgens die begrip van elkeen, te onderwys; om hulle ernstig en met vlyt tot die vrees van God en die opregte saligheid te bring, om hoofstukke uit die Heilige Skrif aan hulle voor te lees en op ‘n eenvoudige en bevatlike manier te verklaar.”

 

Hierdie huisgodsdiens het ook in ons land deurgewerk. Ons lees in ‘n reisbeskrywing  van‘n sekere dr. Heinrich Lichtenstein in 1803 van sy ervarings in die Kaapse binneland o.a: “Die dagwerk het elke mêre, na sonsopgang, begin met die sing van ‘n psalm en die lees van ‘n hoofstuk uit die Bybel. As in die aand alles versorg was, het die hele gesin weer bymekaargekom.”

Van die Voortrekkerlaer lees in Langenhoven se boek: “Die pad van Suid-Afrika”:

“Slapenstyd nader, die laer maak klaar vir sy rus;  

Uit een vir een wakis word boeke gehaal en met eerbied geopen;

Ongesien altare rys by die vuurtjies;

Die veld is in ‘n tempel herskape. ‘n Nasie bid.”

Die huisgodsdiens, die boekevat het in die geskiedenis tot groot seën vir God se kinders deurgewerk. Hoe belangrik is dit vir ons vandag, in ons tyd waarin so gejaag word.

 

Wat is huisgodsdiens?

 

Die huisgodsdiens  omvat sowel die saam lees en bid van vrou en man as om  dit saam   met die hele gesin te doen.

Ostandighede waarin dit gedoen word verskil. Die manier waarop dit gebeur hang nou daarmee saam of kinders in die huis is en  wat hulle leeftyd is.

Dit is baie belangrik om elkeen by die huisgodsdiens te betrek. As elkeen wat kan lees ‘n Bybel kry en kan saamlees,  beteken dit dat hy meer van dit wat gelees is, kan onthou en ook makliker daaroor verder kan praat.

Belangrik is ook dat die gebed nie net ‘n vaste gebed is nie. Die dinge van die dag moet daarin betrek word en ook voorbedes behoort daarin ‘n plek te hê.  Dit is ook goed om vir ander wat daarby aanwesig is te vra waarvoor gebid kan word.   

 

 

Die doel van die huisgodsdiens

 

Die ken van God is die belangrikste in ‘n mens se lewe en dit is ook  wat die meeste ware vreugde vir ‘n mens gee. Ek noem hier enkele plekke in die Bybel waar ons dit lees:

“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat u gestuur het.” Joh 17:3

“So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie,  en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkste nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in die dinge het Ek behae, spreek die HERE.” (Jer 9:23,24)

“Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffer.” (Hos 6:6)

Huisgodsdiens is ‘n middel om vir ons te leer om regtig vir die doel waarvoor God ons geskep het te lewe. Die groot doel van ons lewe is dit wat ons in antwoord 6 van die Kategismus bely : “God het die mens goed en na Sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en en te prys.”

 

 

 Die prediking

 

Die prediking behoort by die saam die HERE leer ken,  Sy Woord leer ken, ‘n belangrike plek in te neem.  Hoe belangrik is dit dat na die eredienste die prediking onderwerp van gesprek is. Ons is as hoorders daarvoor verantwoordelik dat dit op ‘n goeie manier gebeur. ‘n Mens kan so krities en afstandelik daaroor praat dat ons vir onsself die seën van prediking wegneem. Ons eerste vraag na die kerkdiens mag en moet nie wees:  Het jy dit ‘n goeie preek gevind nie. Ons moet leer om vir mekaar te sê wat het jy vandag in die preek opgeval,  wat het jy vandag geleer en dan probeer om saam daaroor verder te praat, die Bybel saam oop te maak en so vanuit die preek nog weer verder te kom en te groei.

 

Dit gaan daarom wat  die HERE vir my, vir ons vandag duidelik gemaak het. Dit hoef nie altyd iets te wees wat vir my nuut is nie. Dit kan iets wees wat ek al geweet het maar vir my nou weer duidelik voor oë staan.

Die prediking wys ook altyd weer na die doel van toenemende kennis van die Woord. Kyk vr en antw 84 H.K. Dit moet ‘n oproep  vanuit die uitleg van die teks wees om in Christus te glo en jou van jou sondes te bekeer.

 

Saam leer buite die kerkdienste

 

Die grond vir gesamentlike bybelstudie lê in die gemeenskap van die heiliges, in die verbond. Hier is vr en antw 55 van H.K. van groot  belang. Die gemeenskap van die heiliges het die HERE gegee om mekaar te help. Om vanuit die ken van Christus mekaar te dien met  die gawes wat ‘n mens gekry het. Ons het al eerder gesien dat die groot doel van ons lewe is om God te ken. As dit die belangrikste is, is dit ook in ons onderlinge omgang die belangrikste  om mekaar daarby te help. Dan sê ‘n mens nooit: Ek gaan nie meer na Bybelstudie  want ek leer daar niks meer nie. As ‘n mens werklik baie weet en die HERE regtig ken, sal hy as hy daartoe enigsins in staat is, Bybelstudie bywoon om  ander te help.

 

‘n Ander motief om saam Bybelstudie te doen is dat ‘n mens nie alles weet nie. Ons het juis mekaar nodig om regtig te groei in kennis van die HERE en Sy Woord.  Belangrik is hier wat ons in Efese 3:16-19 lees:

“dat hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is,  en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.”

 

Saam Bybelstudie doen is in Christus se gemeente roeping. Die vorm waarin dit gebeur kan nie voorgeskryf word nie.  Dit kan op allerhande maniere gebeur. Dit kan deur kursusse, deur jeug, manne, vroue en ook deur Bybelstudieverenigings. Dit sou selfs op nog ander maniere kan plaasvind. Die belangrikste is nie die vorm nie. Die vorm sal en moet ook wissel met die omstandighede en tyd waarin ‘n mens lewe. Die verenigings soos ons dit vandag ken het nie eerder as omtrent 1880 ontstaan. Die kerk van die Reformasie het dit nie geken nie. Die kerk van die Reformasie het ‘n soort kerkdienste op weeksdae geken waar juis aan die insig en vermeerdering van kennis van die Bybel gewerk is. Die preke het dan ‘n ander karakter as op die Sondae gehad. Dit het meer die karakter van die uitleg van aaneengeslote Bybelgedeeltes gehad. Daar was ook  die sogenaamde profesie. Dit was dat gemeentelede saamgekom het en om beurte uitlegging van ‘n Bybelgedeelte gegee het en dit is dan saam getoets. Wie hier iets oor wil lees kan dit vind in: Totius Versamelde Werke 6, 75-108.

 

Die vorm is nie die belangrikste nie maar dat ons mekaar genoeg toerus vir die tyd waarin ons lewe en dat die gemeente hierby betrokke is.

Belangrik is dat ons mekaar so toerus dat ons kan doen wat ons in 2 Tim 3:16,17 lees: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”