VRAAGSTELLING: BETEKEN DIT DAT PROFESIE OOR CHRISTUS IN DIE OU TESTAMENT ALTYD DIREK MESSIAANS IS?

 

Die broers en susters in die Ou Testament het geweet dat die Verlosser kom. Hulle het daarna uitgesien. Die HERE het ook steeds weer van Hom laat profeteer. Steeds ook meer van Hom vertel sodat die volk Hom kon herken as Hy sou kom.

Die dele van die Ou Testament waarin van Christus self geprofeteer word noem ons Messiaanse profesieë. Die HERE het ook in die Psalms van Christus laat profeteer.

Een van die Psalms waarin dit gebeur is Psalm 2. ‘n Duidelike bewys in die Bybel daarvoor is wat Paulus in Handelinge 13 in die sinagoge van Antiochië sê: “En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede Psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.”  (32,33)

Nogtans sê baie teoloë vandag dat Psalm 2 oorspronklik niks met Christus te make gehad het nie. Dit sou hier gaan om ‘n lied wat by die troonsbestyging van ‘n koning gebruik is. As ‘n nuwe koning gekom het, sou  die volk dit by die inhuldiging gesing het. Sekeres sê selfs dat dit ‘n lied was wat elke jaar weer op ‘n vaste dag gebruik is om die HERE se troonsbestyging te vier. Die uitleggers wat dit sê, beroep hulle op sekere gebruike by ander volke in die Ou-Nabye Ooste. Volgens mense wat so dink is die latere gebruik van hierdie Psalm wat dit op Christus betrek ‘n latere herinterpretasie maar nie die oorspronklike betekenis nie.

‘n Duidelike voorbeeld daarvan vind ons in die Bybel in Praktyk:

“Sommige psalms is in die verlede as Messiaanse psalms beskou omdat uitleggers daarin die voorspelling van die geboorte of die lyding van Jesus Christus gelees het. Hierdie siening is reeds deur Joodse eksegete gehuldig wat in die psalms trekke van die amp en werk van die Messias gesien het. Die skrywers van die Nuwe Testament het in Christus die direkte vervulling van hierdie psalms verstaan. Dit sluit in die tien koningspsalms (2,18,20,21,45,72,101, 110,132, en 144) en Psalm 22, die lydenspsalm. Ons kan egter nie te gou die Ou Testament vanuit die Nuwe  verklaar nie., maar moet dit in sy eie reg lees. Die koningspsalm handel immers in die eerste plek oor Israelitiese konings en Psalm 22 beskryf die lyding van ‘n onbekende enkeling. Die koningspslam is eintlik “politieke” psalms waarin Israel se geloof in God baie direk aan die militêre sukses en aan die voortbestaan van die Dawidsdinastie gekoppel is. Veral in die psalms waar Dawid se rol in die erediens so sterk in die opskrifte daarvan beklemtoon word, is godsdiens en eietydse politiek onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die “gesalfde” (dit is wat messias letterlik beteken) koning wys net in Dan 9:25 na ‘n toekomstige koning.

Die idee van ‘n messias was dus ‘n nuwe gedagte in die tyd van die Nuwe Testament. Die Christelike messiasverwagting het heeltemal ‘n ander oorsprong as die militêr-politieke, nasionale, Joodse veragting. Dit hou verband met die profete van die Ou Testament wat ‘n koning van vrede (Jes 9 en 11) verwag het, wat op ‘n donkie ry (Sag 9:9). Later het die koning van vrede nog ‘n eienskap bygekry: hy sou vrede en versoening bring deur sy plaasvervangende lyding (vgl Jes 53). Psalm 22 het hierdie gedagte versterk. Na die geboorte, lewe en lyding van Jesus het die Christene in Hom hierdie gesalfde (Messias-) koning herken. Ons moet daarom nie in hierdie psalms dadelik ‘n voorspelling van Christus sien nie, maar weet dat dit ‘n latere interpretasie is van die eerste Christene waarin ons vandag natuurlik mag deel.” 756

Hoe moet ons daaroor dink? En kan ons ook as ons dit afwys nog sê dat hierdie Psalm ook betrekking het op ‘n koning van Israel wat voor Christus geleef het? Hierdie vrae is nie net akademiese vrae nie maar baie belangrik vir die verstaan van die profesie in die Ou Testament.

 

Ek wil hierdie vrae nou beantwoord vanuit die uitleg van wat ons een van die Messiaanse Psalms noem naamlik Psalm 2.

 

Die vraag of hierdie Psalm van Christus profeteer is nie moeilik om te beantwoord nie. Wie die Heilige Gees erken as die Skrywer van die Bybel en daarom die eenheid van God se Woord bely, kan nie anders as om te sê dat hier van Christus gepraat word nie. Die Gees self wys op verskillende plekke in die Nuwe Testament dat Hy hier van Christus geprofeteer het, dat hierdie Psalm in Christus in vervulling gaan. Baie duidelik lees ons dit in: Hand 4:25; 13:33; Hebr 1:5; 5:5; Openb 2:26; 19:15.

Beteken dit nou dat hierdie Psalm net van Christus praat? Dit is baie verleidelik om dit te sê teenoor hulle wat beweer dat Psalm 2 eintlik glad nie van Christus praat nie. Nogtans moet ons sê dat ons ook dan aan God se openbaring kort doen. Hoe moet ons profesieë en ook Psalms wat profeties praat, lees?

Die Heilige Gees gee vir ons ‘n duidelike voorbeeld hoe ons dit moet doen as Petrus op die Pinksterdag Psalm 16 gebruik om te bewys dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het en dat sy liggaam in die graf nie begin verteer het nie. Petrus wys daarop dat Dawid Psalm 16 geskryf het en dat hierdie Psalm ook oor Dawid self gaan. Nogtans is daar sekere gedeeltes in hierdie Psalm wat in Dawid se lewe nie in vervulling kon gegaan het nie. Die is o.a. die gedeelte van die Psalm waar Dawid sê: “Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by U aangesig.”  Hand 2:27,28

Petrus maak duidelik dat hierdie gedeelte nie in Dawid sy volle vervulling gevind nie. Dawid het naamlik gesterf en sy liggaam het verteer en die weë van die lewe het by hom nog nie beteken dat hy uit die dood opgestaan het nie. Daar is dus gedeeltes wat op Dawid betrekking het en in hom gedeeltlik sy vervulling vind maar die volle vervulling is in Christus.

So leer die Heilige Gees om die profesie te lees. Dit gaan nie altyd daarom dat ons moet sê:  of Christus of ‘n ander nie. Dit kan ook  ‘n gedeeltlike vervulling in iemand wat voor Christus geleef het, hê en die volle vervulling in Jesus Christus. Laat ons met hierdie aanwysing van die Gees nou ook Psalm 2 lees.    

 

 

By vers 1-3. Ons lees in Psalm 2 nie wie hierdie Psalm geskryf het nie. Nogtans weet ons dat dit Dawid was want ons lees in Hand 4 waar die gemeente in Jerusalem hierdie Psalm gebruik: “wat deur die mond van U kneg Dawid gesê het:” vs 25

Dawid skryf hierdie Psalm in omstandighede dat dit in sy lewe as koning moeilik is en sy koningskap deur vyande van buite bedreig word. Volke en nasies het hulle verbind om Israel aan te val. Dit gaan hier regtig om ‘n konkrete situasie. Ons lees in vers 6 dat hierdie koning, koning oor Sion is. Dit gaan hier om die konkrete gesalfde wat toe God se gesalfde koning op aarde was. Ons lees van Dawid ook dat hy deur Samuël in God se naam tot koning oor Sy volk gesalf is. 1 Sam 16.

Ons kan nie met sekerheid sê na watter situasie Dawid in ons psalm verwys nie. ‘n Moontlikheid is dat ons hier moet dink aan wat ons in 2 Samuël 10 en 1 Kronieke 19 lees. Dit is daar  koning Hanun van Ammon wat die leiding neem om saam met soldate van ander konings en volke teen Dawid te stry. Dan ontstaan vir Dawid se leër ‘n baie moeilike situasie. Volke en konings woel en gaan te kere om teen  God se volk, teen die kerk te veg. Daar is baie aktiwiteit en daar word baie tyd en dinkkrag gebruik om teen God se volk te kan stry. Die Heilige Gees maak in ons teks duidelik dat die veg teen God se volk nie een of ander gewone oorlog is nie. Dit is nie ‘n oorlog soos dit toe baie tussen volke en konings plaasgevind het nie. As volke saamsweer om teen God se volk en teen Dawid op te trek is dit ‘n stryd teen die HERE self!

Ons moet bedink dat dit in die koppe van die mens toe glad nie ‘n vreemde gedagte was nie. Ook nie vir die heidense volke nie. Die volke het gode vereer en elke volk of land het sy eie hoofgod gehad. Dit was vir die gevoel van die mense die god van die land. As die vyand kom dan stry die vyand met sy gode teen jou god. As die vyand oorwin het die gode van die vyand jou god oorwin.

As magte teen God se volk opstaan is hulle besig om die HERE en Sy Koninkryk aan te val. Dit is dan nie net een of ander gedagte nie maar die werklikheid! Dan is hulle in diens van die duiwel besig. Die werklikheid is dan dat die koninkryk van die duiwel die HERE se Koninkryk soek om te vernietig.

Dawid se posisie is dat teenoor hom ‘n magtige koalisie klaarstaan om hom te verslaan. Ons lees in vers 2 dat “die konings van die aarde gereedstaan”. Hulle staan klaar om te veg omdat hulle nie aan die HERE en Sy Gesalfde onderworpe wil wees nie. Hulle wil hulle eie ding doen en nie volgens die HERE se wil lewe nie. Die sonde, die opstand teen die HERE woel en werk in hulle lewe. Hulle wil daarom die mag wat die HERE se Gesalfde oor hulle het van hulle skouers gooi. Hulle wil vry wees om die duiwel en die verlangens van eie sondige hart te volg. Die sameswering is teen die HERE en Sy gesalfde koning gerig. Dawid skryf dit in ‘n konkrete situasie waarin volke wat  op een of ander manier onder sy gesag staan, nie meer aan God se gesalfde koning onderdanig wil wees nie. Juis deurdat die Gees ons nie vertel watter spesiale situasie dit was nie wys die Gees dat dit wat ons hier lees in en vir die hele geskiedenis betekenis het.

Elke keer weer dat in die geskiedenis God se volk deur verskillende magte aangeval word, sien ons gebeur wat ons in die eerste drie verse van Psalm 2 lees. Dit is ook daarom dat die gemeente van Jerusalem hierdie Psalm gebruik as hulle daar so sterk bedreig word. Die duiwel gebruik al sy krag om deur die volke die begin van die Nuwe-Testamentiese kerk te vernietig. Hy doen alles om te voorkom dat die evangelie ook buite Jerusalem verkondig sal word en kerke sal ontstaan. Die gemeente word van alle kant bedreig. As hulle dan in hulle gebed Psalm 2:1,2 aangehaal het, sê hulle: “Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het”. Hand 4: 27

Hier sien ons ook hoe die vervulling van hierdie Psalm verder gegaan het. Dit het in Dawid se lewe net ‘n gedeeltlike vervulling gevind. Dit vind sy volle vervulling in die Seun van Dawid Jesus Christus.  Hy is die Gesalfde. Teen hom sal nog baie meer konings en volke opstaan as wat dit met Dawid gebeur het. Christus is die Koning van die kerk. Die haat teen Christus openbaar hom steeds weer in die geskiedenis. Hoe span mense steeds weer saam om of met geweld of deur verleiding God se volk te vernietig. Hoe is volke in ons tyd  besig om die sogenoemde christelike juk af te gooi. Hoe roem mense in hulle vryheid wat hulle nou weer gekry het nou hulle nie meer aan die norm van God se Woord gebind is nie. As dit gebeur en volke kies vir ‘n grondwet waarin nie meer die gehoorsaamheid aan die HERE en Sy wet die hoogste norm is nie, gebeur wat ons in ons Psalm lees. Dan is volke en magtiges besig om te sê: “Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp”. Die bande is die mag wat die HERE en Christus as die Gesalfde oor hulle uitoefen. ‘n Mens sien hoe oor die hele wêreld volke en magtiges so teen die HERE en Sy Gesalfde optree.

Ons sien ook dat dit mense met wie jy nog nie so lank gelede een gevoel het beinvloed. Mense begin dan sê: Ons kan nie meer so reguit die evangelie verkondig nie. Ons kan nie meer so sterk die  HERE se norme handhaaf nie. Dit kan nie meer in ons post-moderne tyd nie. As ons dit doen gaan ons baie mense in die kerk verloor.  Dit sal beter wees dat ons saam praat en nie meer so sterk aan die norme van God se Woord vashou nie. Ons kan beter saam praat wat ons nog kan doen en nie meer luister na die verkondiging van die Woord wat net van die preekstoel kom nie. Jy moet nou eenmaal daarmee rekening hou dat ons in ‘n post-moderne wêreld leef en ons moet om aantrekkingskrag te hou ook ‘n bietjie post-moderne kerk word.

 

By vers 4-6 Die HERE is die enigste God. Dit beteken dat Hy alles weet en hoor. Dit bly vir Hom nie onbekend as magtiges ‘n aksie teen Sy koninkryk uitdink nie. ‘n Pragtige voorbeeld daarvan in die Ou Testament is as die koning van Aram Israel in Elisa se tyd wil aanval. Elke keer as hy vir sy manne sê dat hulle op ‘n sekere plek Israel moet aanval, staan Israel se leër op die plek gereed. As Aram se koning dan daaraan dink dat een van sy manne ‘n spioen is, wys een van sy knegte daarop wat die werklikheid is: “Nee, my heer die koning, maar Elisa, die profeet wat in Israel is, kan die koning van Israel die woorde te kenne gee wat u in u slaapkamer spreek.” 2 Kon 6:12

Elisa kan dit omdat die HERE alles weet en niks Homm ontgaan nie. Hy sien hoe mense baie tyd daaraan bestee om planne teen Sy volk te maak. Mense dink dat hulle baie invloedryk en sterk is. Nogtans maak dit op die HERE geen indruk nie. Dit kan Hom nie bang maak nie. Ons lees in vers 4 die HERE se reaksie op die magsontplooing van die volke, van duiwelse magte: “Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle.”

Mense dink dat hulle magtig is maar in werklikheid kan hulle niks en dan ook werklik niks wat teen God se plan is indoen nie. Dit bely ook die gemeente in Jerusalem as hulle van alle kant bedrieg word. As hulle in die gebed noem wie almal saamwerk om Christus se gemeente te vernietig, wat saamwerk teen die Gesalfde Jesus Christus bely hulle in vers 28: “om  alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.”

Die sogenaamde magtiges kan net beweeg binne die ruimte wat die HERE  vir hulle gee. Hoe hulle ook dink dat hulle belangrik en magtig is nogtans doen hulle dit wat daarvoor sorg dat God se plan uitgevoer word en verder gaan op pad na die koms van die nuwe hemel en aarde. Hulle doen dit wat daarvoor sorg dat Christus se werk en kerk tot hulle doel kom.

Die HERE lag vir die magtiges wat Hom en Sy Gesalfde teen staan. Ons sien dit ook as die Here Jesus gevangegeneem word. As die soldate Hom gevange wil neem, wys Hy dat hulle dit net kan doen as Hy dit wil. Dat Hy die Gesalfde Koning is. Jesus vra vir die soldate wie hulle soek om gevange te neem. Hulle sê dan: Jesus die Nasarener. Jesus sê: Dit is Ek. En dan lees ons in Joh 18: “Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.” Vs 6. Die soldate en in hulle die wat teen Christus planne maak moet weet dat Hy die magtige Koning is en nie hulle nie.

As Jesus gevangegeneem is, is dit nie ‘n neerlaag van die HERE in die hemel nie. Ons lees naamlik daarvan in Matt 26:56: “Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word.”

Selfs God se teenstanders kan niks anders as God se plan werklikheid laat word nie. Die HERE spot en lag met Sy teenstanders as die Here Jesus voor die Joodse Raad staan. Die Gesalfde van die HERE spot met die hele Joodse Raad. As die hoëpriester Kajafas vir die Here Jesus gevra het of Hy die Christus, dit is die Gesalfde is, sê Hy: U het dit gesê. Vs 64. Jesus sê dadelik meer en voeg vir die hele Joodse raad daaraan toe: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” Vs 64

Hoe hoor ‘n mens hierin die lag en spot van die HERE. Die Joodse raad is daarvan oortuig dat hierdie Jesus nou in hulle mag is. Nou wys Jesus daarop dat dit nie so is nie want Hy sal sit as die Koning aan God se regterhand. Hy sal juis regeer en eendag in die wolke terugkeer en dat sal elkeen voor Sy regterstoel verskyn en beoordeel word.

Die magte, die konings wat teen die HERE en Sy Gesalfde saamspan, moet weet dat die HERE hulle “in Sy toorn sal aanspreek”. Hy sal hulle “in Sy grimmigheid verskrik”. Hoe doen die HERE dit?

As ons eers aan Dawid terugdink wat hierdie Psalm in sekere omstandighede geskryf het, is dit duidelik dat die HERE Sy grimmigheid en toorn gewys het deur vir Dawid steeds weer die oorwinning te gee. Die teenstanders het groot neerlae gely en moes erken dat die HERE en Sy gesalfde koning onoorwinlik is. Die koning wat die HERE gesalf het om te regeer en ook oor Sion te regeer, sal en kan nie deur God se vyande oorwin word nie. Dan gaan dit natuurlik om die koning wat ook regtig as God se gesalfde in gehoorsaamheid aan die HERE regeer. Die liefde en gehoorsaamheid aan die HERE word ook duidelik in die manier waarop hy oor Sion regeer. Sion is die plek waar in Dawid se tyd die HERE se tent staan  en waar Salomo die tempel laat bou. Die koning wat as gesalfde van die HERE leef, beskerm God se heiligdom, bevorder die aanbidding deur die volk op Sion en is self daarin ‘n voorbeeld vir die volk. Die koning wat so vanuit die aanbidding en liefde vir die HERE leef en regeer mag sekerlik weet dat selfs die magtigste vyande sy koningskap en die leef van God se volk nie kan bedreig nie. Die koning is veilig omdat die HERE hom as die Almagtige beskerm. Dit is naamlik die HERE wat teenoor die volke en nasies wat optrek sê: “Ek tog  het my koning gesalf oor Sion, my heilige berg.”

Nou moet ons ook verder as Dawid en al die ander konings uit Dawid se huis wat geregeer het, kyk. Christus wat die seun van Dawid is, het gekom. Hy is die besonder Gesalfde van die HERE. Hy die die Messias. Hy het na die hemel opgevaar om daar aan God se regterhand oor die hele wêreld te regeer. Om op ‘n besondere manier ook die Koning van die kerk te wees. Hy is die Verlosser en Koning van Sion, van God se kerk.

Nou kan die aanvalle teen Hom en die gemeente maar kom. Hulle is daar. Die tydsgees doen sy sterk aanvalle op die kerk wêreldwyd. Doen sy aanvalle ook op God se kinders. Al hoe meer word dit wat in die Bybel staan aangeval, dit wat vroeër ‘n norm vir almal was en nie bevraagteken is nie word nou al hoe meer bevraagteken. Kerke sing saam in die koor wat die veroordeling van homoseksualiteit, wat die geloof in Christus as die enigste pad na die saligheid, wat die onfeilbaarheid van God se Woord bevraagteken. Met watter vroom woorde dit ookal gebeur, dit is aanvalle op die HERE en Sy Gesalfde!

Die HERE sê van Hom vir die hele wêreld: Ek tog het My Koning gesalf oor Sion. Daarom is die kerk onverwoesbaar. Dit gee moed in die wêreld van vandag. Dit is ook juis hierom dat die gemeente van Jerusalem in die situasie van bedreiging bid: “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek”. Vs 29

Die HERE laat sy gemeente voel dat Hy hulle gehoor het deur die huis waar hulle saam is te laat skud. Die gevolg  daarvan is: “en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die Woord van God met vrymoedigheid gespreek.” Vs 31

 

Tussenopmerking

 

Die tyd van die Ou Testament was ‘n tyd waarin die volke rondom Israel dikwels hulle konings die titel seun van god gegee het. Hulle het hulle koning as ‘n godeseun gesien.

Dit is die rede hoekom baie konings in die Ou Nabye Ooste toe ook as gode vereer is. Die Egiptenaars het hulle Farao’s as regte gode gesien en behandel.

Die laaste eeu het ons al hoe meer van die geskiedenis en die gedagtes in daardie deel van die wêreld ontdek. Een van die gevolge daarvan is dat allerhande boeke verkondig dat ook Israel sy koning as ‘n god, as ‘n godeseun gesien het. Psalm 2 moet daarvoor ‘n belangrike bewysplek wees.

Ons reaksie is en moet ook wees: Dat dit nie so kan wees nie. Die HERE leer ons juis in Sy Woord dat Hy die enigste God is. Hy is nie die god wat allerhande godinne as vrou het by wie Hy godeseuns verwek nie. Dit was die Godsbeeld van die Romeine, Grieke en ook die volke rondom Israel.

Die HERE is die enigste God en Hy is so anders as dit wat mense bedink het. Laat ons sien wat dit beteken as die HERE van die koning wat Hy gesalf het en wat oor Sion regeer sê: “U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.”

 

By vers 7-9 Dan kom ons nou by vers 7. Nou moet ons mooi oplet. Die Ek in vers 6 is die HERE. Nou is ‘n mens geneig om ook die woorde van vers 7 as woord wat deur die HERE gesê word op te vat. Nogtans is dit nie so nie

Die persoon wat in vers 7-12 praat is nie die HERE nie maar die Gesalfde koning. Kyk maar na die eerste deel van vers 7: “Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is My Seun, vandag het Ek self U gegenereer.” Die Gesalfde vertel nou wat die HERE vir Hom gesê het.

Die koning vertel van die HERE se besluit. Die HERE sê in Sy besluit dat hierdie koning Sy seun is. Beteken dit nou dat ons hier dadelik aan Christus moet dink en dit geen enkele betrekking op Dawid gehad het nie. As ons dit sou doen, doen ons weer kort aan die HERE se eie Woord.

Dit is nie vreemd dat die HERE  Dawid hier op ‘n besondere manier Sy seun noem nie. Dit wys op die besondere verhouding wat die HERE met Dawid het en met sy gelowige nakomelinge wat sal regeer. Die HERE wys ook daarop as Dawid ‘n tempel vir die Hom wil bou. Dawid mag dit nie doen nie. Sy seun sal hom opvolg en moet die tempel bou. Die profeet Natan moet hierdie boodskap aan Dawid oorbring en dan moet hy ook sê van Dawid se opvolger sê: “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders.” 1 Sam 7:14.

Ons lees in Psalm 89 van Dawid self die volgende: “En Ek sal Dawid se hand  lê op die see en sy regterhand op die riviere. Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil! Ja, Ek sal hom ‘n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.” 26-28

Die HERE noem Sy volk Sy kinders nogtans staan Dawid en ook sy opvolgers as hulle in liefde en gehoorsaamheid aan die HERE regeer in ‘n spesiale verhouding met God. Die spesiale verhouding het op ‘n sekere oomblik in die geskiedenis begin. Hierop wys die woorde: “vandag het Ek self U gegeneer”. Dit is nie Dawid wat homself koning gemaak het nie. Nee, die HERE het hom daartoe bestem en het dit op ‘n sekere oomblik in die geskiedenis vir die mense gewys. Hy het daarvoor gesorg dat Dawid op ‘n sekere dag vir die oë van sy famlie gesalf is, dat Dawid op ‘n sekere oomblik voor die oë van die volk amptelik koning geword het. Die HERE het hom as koning verwek en aangestel. Dit is die HERE se werk.

Hier sien ons hoe anders dit was dat Dawid as God se gesalfde koning seun van God genoem word as dat die volke rondom Israel hulle koning as godeseun gesien en aanbid het. God se volk het Dawid nie vergoddelik nie en dus nie aanbid nie. Die volke rondom Israel het met hulle konings afgodediens gepleeg.

As ons hierdie dinge gesê het, is ons nog nie met vers 7 klaar nie. Ons sien in Dawid se lewe ‘n gedeeltelike vervulling van hierdie woord maar nog nie die volle een nie. Die volle vervulling van hierdie woorde lê in Christus.

Ons sien dit baie goed raak as hierdie vers in die Nuwe Testament aangehaal word. Dit gebeur in Hand 13 en Hebr 5.

As Paulus in die sinagoge van Antiochië preek sê hy o.a: “En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons , hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.” Hand 13: 32,33

Hebr 5:4,5: “En niemand neem die waardigheid (om hoëpriester te wees RV) vir homself nie, maar hy wat deur God geroep word, net soos Aaron. So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hy het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is My Seun, vandag het Ek U gegenereer.”

Niemand is op hierdie manier die Seun van God as Christus nie. Dawid was nie die ewige en natuurlike Seun van God nie. By hom het dit op ‘n besondere verhouding met die HERE gewys. By Christus gaan dit dieper en verder. Dawid profeteer hier in Psalm twee daarvan dat Christus van ewigheid God se Seun is en dit het die HERE op sekere oomblikke in die geskiedenis op ‘n baie besondere manier vir die wêreld gewys. ‘n Baie belangrike gebeurtenis wat dit gewys het, is Christus se opstaan uit die dood. Dit is die dag dat die HERE op ‘n besondere manier wys dat Jesus Christus Sy Seun is. Die ewige gebore Seun van God word op die dag met krag as die eniggebore Seun van God aangewys. Paulus wys daarop met die volgende woorde in Romeine 1 waar hy van die evangelie skryf: “wat God tevore beloof het deur sy profete in die Heilige Skrifte, aangaande Sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here”. 2-4       

Hoe heerlik profeteer Dawid in ons Psalm al van Sy groot Seun wat Dawid se Here en Verlosser is. Hoe ryk is hierdie profesie. Hy waarvan die Here sê dat dit Sy seun is, kry die belofte van wêreldheerskappy: “Eis van My, en Ek wil naises gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.”

As ons aan Dawid se lewe dink sien ons dat hy deur die HERE op ‘n besondere manier in sy koningskap geseën word. Hy word in die omgewing ‘n magtige koning. Dawid se mag strek hom selfs buite die grense van Israel uit en meerdere volke is aan hom onderworpe. Dawid het ‘n magtige koning geword maar dit is nie so dat hy oor die hele wêreld heers nie. Hier sien ons weer so’n element in ons Psalm waar die volledige vervulling bo Dawid se lewe uitstyg. Dawid profeteer hier van Christus wat die wêreldheerskappy as loon op Sy werk as die Verlosser ontvang. As die Here Jesus op aarde vir die gelowiges vergifnis verdien het en opgestaan het sê Hy net voor Sy hemelvaart: “Aan my is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” Matt 28:19

Die Gees skryf deur Paulus van Christus: “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee.” Ef 1:22

“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” Fil 2:9-11

Dit is Christus wat God se Seun is wat die wêreldheerskappy ontvang het. Hy regeer die geskiedenis nou so dat eendag elke teenstand teen God en Hom van hierdie wêreld verdwyn het. Hy regeer so dat dan mense uit elke volk en nasie saam die lof op God en die Lam sal sing en die aarde skoongemaak is van elke sonde en herinnering daaraan.

Dit is die sekere oorwinning wat die Gees in Psalm 2 laat profeteer. Elkeen en elke mag en volk wat nou nog teen die HERE en Sy Gesalfde opstaan sal verpletter en uitgeroei word. Van daardie mag wat in diens van die duiwel, van die sonde staan sal eendag niks meer oorbly nie. Wie vandag in diens van Koning Christus leef , wie vandag steeds weer sy ore oophou om na die Verlosser en Koning te luister en vir Hom te leef mag weet dat hy saam met Christus so mag regeer. Ons lees dit in die brief wat Christus aan die gemeente van Thiatire laat skryf. Wie tot die einde van sy lewe aan Christus en die evangelie vashou kry in Opnb 2:26,27 hierdie belofte: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek van My Vader ontvang het.”

Hier sien ‘n mens raak dat elke mens wat in die geloof sterf by die regering en oorwinning op God-vyandige magte ingeskakel word en ‘n oorwinnaar is.

 

By vers 10-12  Die konings en regters wat teenoor die HERE en Sy gesalfde staan word nou gewaarsku. As hulle hul eie gevoelens en gedagtes volg moet hulle weet dat hulle dwaas en onverstandig is. Hoe innig en indringend klink hier die HERE se oproep: “laat julle waarsku, o regters van die aarde!” Hoe sien ons hier dat die HERE geen behae het in die dood van die goddelose nie maar dat Hy so bly is as daar ware bekering kom. So is die HERE en daarom moet ons ook so in die wêreld staan.

Ons regering en die regters in ons land moet weet dat Christus Koning is! Dit moet in hulle manier van regering oor die land sigbaar word, dit moet in die uitsprake van die regters gesien word. Ook hulle moet Christus se Koninkryk op aarde bevorder. Ons het ook as kerke die taak om ons owerheid vanuit die HERE se Woord aan te spreek en waar nodig te waarsku.

Hierdie woorde van vers 10 en wat nog volg in vers 11,12 het natuurlik nie net betekenis vir konings en regters nie. Ons mag nooit mense word wat vir ander groot woorde praat en self nie die HERE se woorde in ons lewe eerbiedig nie. Hoe belangrik is dit dat jy ook tot jouself laat deurdring wat die HERE hier sê. Wie God se Woorde lees en hoor maar dit langsaan hom neerlê moet weet dat hy dwaas is en homself vir God se oordeel ryp maak. Hoe belangrik is dit elke mens, ook vir elkeen van ons om te doen wat ons in vers 11 lees: “Dien die HERE met vrees, en juig met bewing”.

Mense wat die HERE nie regtig ken nie, verstaan nie wat hier staan nie. Dit is vir hulle onmoontlik om te dien met vrees en te juig met bewing. Somtyds kan ‘n mens om hierdie rede in ‘n verklaring van Psalm 2 lees dat dit nie die regte teks kan wees nie. Ons lees dit by WS Prinsloo in sy boek:  “Die lof van my God solank ek lewe” bls 13.  Wie net menslik kyk, kan dit nie verstaan nie maar wie deur die HERE se liefde Hom mag ken, ken die dien met vrees en die juig met bewing. Jy ken dan naamlik die HERE in Sy grootheid en heiligheid. Jy ken die Seun Jesus Christus as jou God en Here. Hom dien doen jy met groot eerbied. Jy let op Hom met liefde maar nooit asof Hy jou maatjie is nie. Dit is ‘n eerbiedige liefde waarin die HERE vir jou altyd God bly en jy mens. Dit is ook ‘n dien met steeds weer ‘n skaamrooi hart omdat jy weer jou eie verkeerde verlangens gevolg het. Jy het vergifnis nodig om Hom te kan bly dien, om Sy vriendelike aangesig te bly sien. Hoe goed is dit om Hom met diepe eerbied te dien. Dan kan jy ook juig. Dan kan jou hart so bly wees omdat jy vergifnis om Christus ontwil gekry het. Dan juig jy omdat jy God se kind mag wees. Dan juig jy met bewing omdat jy besef hoe groot die wonder is dat jy Hom mag ken en by Hom behoort. Omdat jy besef hoe groot die genade, die onverdiende voorreg is dat jy die HERE as jou Vader, as jou beskermer mag ken. Dan is jou blydskap vol van heilige eerbied en verwondering.

Nog een keer beklemtoon die Heilige Gees hoe belangrik dit is om jou aan die Seun, aan Jesus Christus te onderwerp. Hoe belangrik dit vir alle mense, ook vir die magstigstes op die aarde is.  “Kus die Seun”. Dit was in die tyd ‘n gewone gebruik dat as jy jou aan ‘n ander onderwerp jy as teken daarvan sy voete kus. Dit gaan hier om volledige onderwerping, gehoorsaamheid aan Christus. Om die erken dat jou hele lewe diens aan Hom as die Koning is. Dit gaan hier nie oor die liewe Jesus wat net met stroopsoet woordjies en boodskappies kom nie. Ja, Hy kom met die heerlike evangelie en met Sy onpeilbaar groot liefde na ons toe maar wie Hom nie wil erken en weier om sy lewe vir Hom volledig te gee moet weet Sy toorn gou kan ontvlam en die ongehoorsame met Sy oordeel tref. Christus vra van jou en my ons hele lewe, ons hele bestaan. As jy in jou lewe stry en leef vir Christus, sien die Vader in die hemel jou. Sy liefde gaan na jou uit en Hy sê: “Welsalig is almal wat by Hom skuil.” Die HERE wens jou geluk as jy by Christus, by die Seun met jou hele lewe skuil. As jy met jou sondes na Hom gaan en dit bely. As jy so agter Sy volkome sondeloosheid skuil. As jy met jou aanvegtings en onsekerhede na Hom gaan en jy Sy hulp en Sy beskerming ontvang. As jy steeds weer Sy hulp en leiding vra om in hierdie lewe in die geloof staande te bly. As jy so Christus, die Seun soek is jy gelukkig. Dan staan Christus wat die Gesalfde is vir jou in by die Vader. Dan geld vir jou dat Christus jou naam voor sy Vader sal bely. Dan sê Christus: Vader Ek het vir hom of haar gely. Hierdie mens staan onder My ewige beskerming.

Dan kan die konings van die aarde en elke aardse mag maar aanval. Nogtans is jy veilig en geborge in Christus.

 

GEVOLGTREKKING:  DIE MESSIAANSE VERSTAAN VAN DIE OUTESTAMENT BETEKEN NIE DAT  ALLES ALTYD DIREK OP CHRISTUS WYS NIE. DAAR IS GEDEELTES WAT DIREK EN INDIREK OP CHRISTUS WYS. INDIREK BETEKEN DAN DAT DIE VOLLE VERVULLING NOG NIE OP IN ‘N ANDER BEREIK IS NIE