WIE MAG TOT DIE KERK BEHOORT?

Ondersoek na die die betekenis van die uidrukking qehal Jahwe in die Ou Testament. 

 

‘n Mens kan met ‘n sekere ondersoek begin maar nog nie besef hoe moeilik dit kan wees om ‘n goeie en bevredigende resultaat te kry nie. Ek moet sê dat dit met my gebeur het toe ek met die ondersoek vir hierdie lesing begin het. Die vrae en probleme wat by hierdie ondersoek na vore gekom het, was baie. Dit lyk asof by elke oplossing weer nuwe vrae en probleme raakgesien moet word. Nogtans is ek daarvan oortuig dat die ondersoek na die uitdrukking qehal  Jahwe  vir ons onderwerp van groot waarde is. Dit sal nodig wees om die 10 plekke in die Ou Testament waar hierdie uitdrukking voorkom  eers kort te bespreek.

Die uitdrukking qehal Jahwe  lees ons in:

Num 16:3; 20:4; Deut 23:2-9 (6); 1 Kron 28:8; Miga 2:5.

Twee keer lees ons ‘n uitdrukking wat baie nou daarmee saamhang:  kehal  Elohim  Neh 13:3; kehal lk Klaagl 1:10.

 

Numeri 16:3

 

Dit is die eerste keer dat hierdie uitdrukking in die Ou Testament gebruik word. Korag, Datan en Abiram het ‘n opstand teen Moses en Aaron in die woestyn georganiseer. Moses en Aaron word deur hierdie groep van selfverheffing beskuldig. Ons lees in vers 3: “En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aaron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE.”

As ‘n mens die Hebreeuse teks lees val dit op hoe die woorde vergader en vergadering hier ‘n groot rol speel. Vir die bymekaarkom van die rebelle word hier die werkwoord qahal  gebruik. Vir die woord vergadering in die middel van die vers word die woord eda gebruik en aan die einde van die teks lees ons die uitdrukking qehal Jahwe.

Dit is duidelik dat die opstandelinge met eda  en qahal  dieselfde vergadering bedoel. Hierdie waarneming moet ons al dadelik voorsigtig daarvoor maak om tussen die woord eda  en qahal ‘n te groot verskil te maak en hulle as ‘n soort teologiese begrippe op te vat met ‘n hele eie betekenis.[1]  Hier sal die verband waarin die woorde gebruik word weer die betekenis en bedoeling moet gee.

Ons moet hier by die woorde eda  en qehal Jahwe aan die hele volk  dink wat onder Moses se leiding uit Egipte getrek het en in die pad geval het om na Kanaan te gaan om daar te woon.

Dit is belangrik om antwoord te kry op die vraag hoekom die opstandelinge hier die uitdrukking  qehal Jahwe gebruik.

Dit het daarmee te doen dat hulle teenoor Moses en Aaron daarop wys dat die hele volk heilig is. Die hele volk is heilig omdat die HERE onder hulle woon. Dit lyk daarop dat die opstandelinge deur hulle woorde ook  na die gebeure by die Sinai wil terugwys. Die hele volk moes hulle toe heilig[2] om die HERE te kan ontmoet. Die HERE het toe niemand uitgesluit nie. Die opstandelinge laat in hulle woorde meeklink wat Moses vir die hele volk moes sê: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees.” (Eks 19:5,6)

Die heiligheid van die hele nasie word deur Korag, Datan en Abiram teenoor Moses en Aaron as leiers uitgespeel. Hulle gebruik dit om tot ‘n demokratiseringproses op te roep terwyl die HERE Moses as die leier van die volk en Aaron as Hoëpriester aangestel het. Die heiligheid van Jahwe se volk staan nie teenoor die gesagstrukture wat die HERE binne Sy volk, binne Sy kerk gee nie.

Ons moet hier vir die vervolg vashou dat die woorde qehal Jahwe  hier op die hele volk wat  in die woestyn is wys.

 

Numeri 20:4

 

Dit is opvallend  dat die tweede keer dat ons van qehal Jahwe lees dit weer uit die mond  van rebelle onder God se volk kom. Mirjam is by Kades in die woestyn Sin begrawe. Hulle kort dan water. “En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en Aaron saamgekom. En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê:  Ag het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het! En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe?” (Num 20: 2-4)

Ons lees in vers 2 vir vergadering weer die woord eda. Dit gaan hier duidelik om die hele volk, om die hele groep mense wat in die woestyn onder Moses en Aaron se leiding staan. Dit is die eda wat hier  ook qehal Jahwe  genoem word.  

Die twee keer dat ons die uitdrukking qehal Jahwe in Numeri lees, wys dit in die mond van opstandelinge op elkeen wat saam met hulle in die woestyn saamtrek.  Ons moet hier in rekening bring dat ons hier met opstandelinge te doen het.

 

Deuteronomium 23:1-8

 

Die uitdrukking qehal Jahwe  kom in hierdie verse 6 keer voor. Ons het hier met woorde van die HERE self te doen. Dit is vir die uitleg van hierdie teks baie belangrik om vers 1 nie oor te slaan nie. Die eerste vers is baie belangrik om te kan raaksien wat die woorde qehal Jahwe hier nie kan beteken nie.

Vers 1: “Hy wat deur verbryseling vermink of van wie die manlike deel  afgesny is, mag in die vergadering van die HERE nie kom nie.”

Hierdie woorde maak dadelik duidelik dat in Deut 23 die volk Israel en die qehal Jahwe nie saamval nie.[3]  ‘n Mens kan selfs nie sê dat die qehal Jahwe met God se volk, met Sy kerk saamval nie. Dit is nie so dat die Israeliete wat sigbaar vermink is of wat op een of ander manier ontman is geen deel van God se volk, van Israel kon wees nie.

Die HERE wys in Jesaja 56 juis daarop dat die vreemdeling wat deur geloof  met Hom verbonde is en dat die ontmande wat op Hom bou regtig by Sy volk behoort. Ons lees in Jes 56: 3-5: “En laat die uitlander wat Hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê: Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê: kyk, ek is ‘n droë boom nie. Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond:

Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ‘n gedenkteken en ‘n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.”

‘n Mens kon nie tot die qehal Jahwe  behoort nie en nogtans by God se volk behoort. Dit wys vir ons dat qehal Jahwe  nie met God se gelowige volk saamval nie. Ons moet die betekenis van die woorde qehal Jahwe  dus in ‘n ander rigting soek.

Van die baster word gesê dat hy tot die tiende geslag nie in die qehal Jahwe mag kom nie. ‘n Moeilike vraag is of hier met baster  iemand bedoel word  wat uit ‘n owerspelige verhouding in die algemeen gebore is of dat dit ‘n mens is wat uit ‘n verhouding van bloedskande voortgekom het.

Die volgendes  wat genoem word  is die Ammoniet en die Moabiet. ‘n Moabiet en ‘n Ammoniet mog nie in die qehal Jahwe kom nie tot in die tiende geslag. Die rede  wat die HERE daarvoor noem lê in die geskiedenis. Toe Israel  na die beloofde land gereis het het die Ammoniete en Moabiete, wat nakomelinge van Lot is,[4]  Israel  nie gehelp nie maar juis teen Israel saamgespan en wou hulle Israel vernietig.

Die Edomiet en die Egiptenaar mag eerder in die qehal Jahwe  opgeneem word. Die motiewe daarvoor lê ook in die geskiedenis. Die Edomiete stam van Esau Israel se broer af. Deur die bloedband bestaan tussen Edom en Israel ‘n besondere band. Ondanks Israel se verdrukking in Egipte vergeet die HERE nie dat ruim 400 jaar gelede Egipte Jakob en sy familie verwelkom het en hulle daar mog woon nie.

Die Ammoniet en Moabiet  mag nie in die qehal Jahwe kom nie. Dit mag tot in die tiende geslag nie gebeur nie.  Beteken dit dat elkeen wat van ‘n  Ammonitiese of Moabitiese man of vrou afstam nie in die qehal Jahwe mag kom nie?

Dit kan nie so wees nie want  dan sou  Dawid en sy nakomelinge,  dan sou selfs die Here Jesus nie tot die qehal Jahwe  behoort het nie. Want die hele Dawidiese huis stam van Rut, die Moabitiese, af.  Hier moet ons mooi bedink dat  afstamming volgens die man se lyn gegaan het.[5] Iemand wat ‘n moeder uit ‘n ander volk gehad het, het nogtans as ‘n  Israeliet gegeld.

‘n Ammoniet en ‘n Moabiet mag tot in die tiende geslag nie in die qehal Jahwe  kom nie. Beteken dit dat ‘n Ammoniet en ‘n Moabiet nooit tot God se volk kon behoort nie? Beteken dit dat iemand uit hierdie volke in die Ou Testament nooit tot ware geloof kon kom nie? Dit is nie so nie. Ons moet mooi bedink dat ons al gesien het dat die qehal Jahwe  nie met God se gelowige volk saamval nie.

Die Edomiet en die Egiptenaar se nageslag kon Edomiet en Egiptenaar bly en nogtans in die derde geslag in die qehal Jahwe opgeneem word. Ook dit was net moontlik om dat die volk Israel en die qehal Jahwe  nie saamval nie.[6]

Ons moet daarop let dat dit in Deut 23 in alle gevalle om ‘n beperking gaan. Die Edomiet en Egiptenaar word op grond van die geskiedenis bo die Ammoniet en Moabiet bevoorreg maar word as ‘n mens dit met die ander vreemdelinge onder Israel  vergelyk beperk. ‘n Ger, ‘n vreemdeling  wat hom tot die HERE bekeer en hom laat besny en die Pasga vier en verder volgens die HERE se wette wil lewe, kry dadelik toegang tot die qehal Jahwe.[7]

Nou klem die vraag wat die qehal Jahwe wel is. Ek meen dat ons hier aan die plek moet dink  waar  God in Sy heiligdom vereer word. Daar waar die vergadering saamkom om die HERE in die amptelike heiligdom te vereer. Dit was in die Ou Testament  die tabernakel en die tempel. Dit gaan volgens my nie oor die ander plekke waar God se volk offers vir die HERE mog bring.[8]  Ons moet hier by die qehal Jahwe aan die kultiese vergadering in die amptelike heiligdom dink.

Klaagliedere 1:10 wys ook in hierdie rigting.

 

Klaagliedere 1:10

 

Ons lees in Klaagliedere 1 van die verwoesting van God se stad en tempel deur die Babiloniërs. Ons lees in vers 10: “Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom inkom, van wie U bevel gegee het dat hulle in u vergadering nie mag inkom nie.”

Die Babiloniërs het Jerusalem binnegetrek en het hulle hande tot roof uitgestrek. Hulle het die skatte wat in die stad is gesteel. Ons moet hierby veral aan die skatte van die koninklike paleis[9] en die tempelskatte dink. Die ergste van alles is die ontheiliging van die tempel. Die heidene het selfs die HERE se heiligdom binnegegaan, ontheilig en verwoes. Die heiligdom, wat toe die tempel was, word in Klaagliedere 1:10 duidelik met die qehal Jahwe  gelykgestel. Dit is die HERE wat bevel gegee het dat heidene nie in U qehal  mog ingaan nie. Dit beteken dat die heiligdom, die tempel vir hulle verbode gebied was.

Die HERE bestraf  Sy volk  daaroor as hulle heidene in Sy heiligdom toelaat. Die HERE noem dit selfs ‘n gruwel. Ons lees daarvan in Esegiël 44: “En sê aan die wederstrewiges, aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Laat dit genoeg wees met al julle gruwels, o huis van Israel!

Omdat julle uitlanders ingebring het, onbesnedenes van hart en onbesnedenes van vlees, om in my heiligdom te wees, om dit, my huis, te ontheilig; toe julle my brood, vet en bloed gebring, en hulle my verbond verbreek het by al julle gruwels. ……[10] So sê die Here HERE: geen uitlander, onbesnede van hart en onbesnede van vlees, mag in my heiligdom ingaan, van al die uitlanders wat onder die kinders van Israel is nie” (vers 7,9,10)

Dit gaan hier om uitlanders wat verseker nie in geloof met God se volk verbonde was nie. Sien hiervoor ook  Psalm 79:1 en Jer 51:51.

Klaagliedere 1:10  stel  die tempel en die qehal Jahwe  aanmekaar gelyk.

 

Nehemia 13:1-3

 

Ons vind in hierdie gedeelte ‘n duidelike toepassing van Deuteronomium 23. Die ballinge het terugkeer en die mure van Jerusalem is herbou. Nou die herbou van Jerusalem se mure klaar is, word dit feestelik gevier en dank die volk die HERE.

By hierdie geleentheid word ook uit die Skrif gelees. Die gedeelte wat ook gelees is, is Deut 23:1-8. As die volk dit hoor besluit hulle om die mense onder hulle van gemengde bloed uit Israel af te sonder.

Die vrae wat ons nou moet beantwoord is:

  1. wat is mense van gemengde bloed?
  2. Wat beteken dit dat hulle uit Israel afgesonder is?

 

  1. Wat is mense van gemengde bloed?

 

Die woorde waar ons aandag op gerig moet wees is: kol-ereb. Hoe moet hierdie woorde vertaal word, waarop dui hulle hier?

Enkele vertalings:

Ou Vertaling:  al die mense van gemengde bloed

Nuwe Vertaling: almal wat van gemengde herkoms was

Statenvertaling: alle vermengeling van Israel

Nieuwe Vertaling: alwie van gemengde afkomst waren

Willibrord        :  allen die tot ‘n ander ras behoorden

King James ( ook NKJ): all the mixed multitude

‘n Mens sien in die vertalings al duidelike verskille. Dit is tog ‘n groot verskil of ons hier te doen het met mense van ‘n ander ras of mense van gemengde bloed, of mense wat van mense van gemengde bloed afstam of dat dit  om ‘n sekere groep onder die volk gaan wat ‘n groep vorm wat uit mense van verskillende afkoms bestaan..

Dit is hier nodig om na die woord ereb  nader te kyk.

Ons lees die woord ereb  ook as Israel uit Egipte trek. Die HERE het die tiende plaag oor Egipte laat kom en nog in dieselfde nag trek Israel  uit die land van hulle onderdrukking uit. Ons lees van hulle wat uittrek in Eks 12:38: “En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste – ‘n groot hoeveelheid vee.”

Sonder om nou antwoord te kan gee wat hier met gemengde bloed bedoel word, is dit duidelik dat dit hier  ‘n sekere groep is. Dit is nie enkele individuele mense nie maar ‘n sekere groep mense wat bymekaar behoort.

Hierdie groep word in Numeri 11:4 met die woord asafsuf  genoem.  Hierdie woord is van die werkwoord asaf afgelei. Hierdie werkwoord beteken vergader, bymekaarbring.[11] Die betekenisse wat die woordeboeke by die woord  asafsuf, wat net hier in die Bybel voorkom, gee, is: die veragtlike groep wat saamgegaan het,[12] groep mense.[13] Dit is verseker baie moeilik as ‘n woord net een keer in die Bybel voorkom om met sekerheid te sê of die woord self al ‘n negatiewe betekenis het. Een ding is duidelik dat dit hier om ‘n aparte groep gaan. Ons moet hier  sowel die Ou as Nuwe Vertaling verwerp wat vertaal met: die gemengde bevolking wat onder hulle was, die mense wat van ander afkoms was. Die woord asafsuf  wys net op ‘n sekere aparte groep wat saam met Israel uit Egipte getrek het.  

Die woord ereb lees ons nog op drie ander plekke in die Ou Testament: Jer 25:20, 50:37; Eseg 30:5. ‘n Ondersoek na hierdie woord op hierdie plekke wys op ‘n aparte groep mense wat mense van verskillende herkoms insluit. Hulle is ‘n aparte groep ten aansien van die volk wat in daardie land sy vaderland het. Daarby kan dit mense van gemengde bloed wees maar dis nie nodig nie. Die groep bestaan as ‘n groep mense wat  uit  verskillende volke kom. As ‘n mens dit vasgestel het, maak dit ‘n mens voorsigtig om in Neh 13 wel aan die mense van gemengde  bloed te dink. Dit lyk baie waarskynliker dat ons hier aan ‘n groep mense moet dink wat  bestaan uit mense van verskillende afkoms  en steeds weer as ‘n drukgroep in Israel optree. As ‘n mens die boeke Esra en Nehemia lees lyk dit meer daarop dat ons hier met ‘n groep te doen het wat hulle steeds weer vyandelik teenoor Esra en Nehemia opstel. Die volgende sake wys hierop:

  1. Die ondersoek na die woord ereb.
  2. Die vervolg van Nehemia 13 waar ons lees dat die priester Eljasib vir Tobia ‘n kamer in die tempel gegee het. Hierdie priester was op een of ander manier familie van Tobia. Wie was nou hierdie Tobia?   Hy is een van die leiers teen Esra en Nehemia. Hy is ‘n man wat in vyandskap teen God se volk en die opbou van Jerusalem en die tempel lewe. Ons lees dit duidelik in Nehemia 2:10: “Maar toe Sanballat, die Horoniet, en Tobia, die Ammonitiese kneg, hoor dat iemand gekom het om vir die kinders van Israel iets goeds te soek, was hulle daaroor ontstemd.”    

Ons lees later van Tobia dat hy langsaan Sanballat staan as Sanballat met die Jode spot en dan sê Tobia: “Wat hulle ook al bou – as ‘n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi!” (4:3; Hebr 3:35). Enkele verse verder lees ons: “Maar toe Sanballat en Tobia en die Arabiere en die Ammoniete en die Asdodiete hoor dat die verbetering aan die mure van Jerusalem vorder, dat die skeure begin toeraak, het hulle baie kwaad geword. En hulle het almal met mekaar ‘n sameswering gesmee om teen Jerusalem te gaan veg en daar verwarring te stig.” (4:7,8; Hebr 4:1,2)

Dit is nou juis een van die leiers, die priester Eljasib, wat hom met Tobia verbind en hom selfs ‘n kamer in die tempel gee. ‘n Seun van hierdie Eljasib was weer die skoonseun van Sanballat (13:28) en hy was dalk die eerste hoëpriester van die Samaritane in die heiligdom op die berg Gerisim.[14]

As ‘n mens die boeke Esra en Nehemia lees is dit duidelik dat onder die Jode twee groepe was. Die een groep wat vir Esra en Nehemia in hulle ywer vir die HERE volg en ‘n groep wat  met  die vyand saamspan. ‘n Groep wat ‘n pad soek waarby eie  materiële belang en rus op die eerste plek kom. Dit is ook die groep en die  leiers wat selfs die voortou neem om hulle deur huwelike met ander volke te vermeng. Dit was ‘n vermenging wat ook ‘n vermenging van godsdiens beteken het! Ons lees dit duidelik in Esra 9:1,2: “En toe dit klaar was, het die owerstes na my gekom en gesê: Die volk van Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie afgesonder van die volke van die lande, wat hulle gruwels betref nie, naamlik van die Kanaaniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete. Want hulle het van hulle dogters vir hulleself en vir hul seuns geneem, sodat die heilige geslag hom met die volke van die lande vermeng het; en die owerstes en die leiers het in hierdie ontrou eerste die hand gehad.”

Dan vind onder leiding van Esra ‘n suiwering plaas. Sien Esra 10. Nogtans moet dit later weer gebeur omdat die eerste suiwering nie tot werklike bekering by ‘n groot deel van die volk gelei nie. Dit lyk baie waarskynlik dat die ereb in Neh 13 die groep is wat hom steeds weer teen God se weg onder die volk verset en wat ‘n groep van verskillende afkoms is. Hierby het ook wat die bloedband betref suiwere Israeliete behoort. 

  1. Later lees ons vanaf Neh 13:23 nog van Joodse mans wat met heidense vroue getroud is. Nehemia se probleem is dan dat die kinders verheidens en hy beveel die ander Jode dan dat hulle nie met die kinders wat as halwe heidene leef en praat, mag trou nie al is dit amptelik Jode.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                               2. Wat beteken dit dat hulle uit Israel uitgesonder is?

 

Ons moet hierby daaraan dink dat hierdie groep van verskillende afkoms wat hulle steeds weer teen God se weg verset, weggestuur word en nie meer by die volk van God gereken word nie.  Dit was veral hulle innerlike houding teenoor die HERE waarmee hulle gewys het dat hulle nie by die HERE en Sy volk behoort nie. Hierdie afsondering beteken nie dat elke persoon  wat iewers in sy stamboom ‘n Ammonitiese of Moabitiese vader of moeder het, nie by die volk kon bly behoort nie. Mense uit ander volke wat regtig met hulle hart die HERE saam met die Israeliete wou dien, het saam met Israel die HERE gedien as God se een volk. Voorbeelde daarvan lees ons ook in die boeke Esra en Nehemia.

Esra 6:21: “En die kinders van Israel wat uit die ballingskap teruggekeer het,  het dit geëet en elkeen wat hom  van die onreinheid van die nasies van die land afgesonder het om saam met hulle die HERE, die God van Israel te soek. Hulle het ook die fees van die ongesuurde brode met blydskap sewe dae lank gehou; want die HERE het hulle verbly en die hart van die koning van Assirië na hulle omgewend, om hule hande te versterk in die werk aan die huis van God, die God van Israel.”

Neh 10:28,29: “En die res van die volk, die priesters, die leviete, die poortwagters, die sangers, die tempelbediendes en almal wat hulle afgesonder het van die volke van die lande tot die wet van god, hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters, almal wat enigsins kon verstaan,  het by hulle broers, die vername manne onder hulle, aangesluit, en hulle het onder eed en met beswering hulleself verplig om te wandel in die wet van God, wat deur die diens van Moses, die kneg van God, gegee is, en om te hou en te doen al die gebooie van die HERE onse Here, en sy verordeninge en sy insettinge.”

Die afsondering van die groep van verskillende herkoms in Neh 13:3  staan teenoor die afsondering van sekere mense van die volke van die lande in Esra en Nehemia.

Die toepassing van Deuteronomium 23 in Nehemia 13 wys daarop dat dit ‘n toepassing kry wat ‘n beoordeling van die lewe met en vir die HERE bevat. Wie nie die HERE wil volg, het geen toegang tot die tempel  en behoort ook nie meer by die volk Israel nie.   

 

1 Kronieke 28:8

 

Ons lees in 1 Kronieke Dawid se laaste woorde. Hy wys dan daarop dat die HERE sy seun Salomo as sy opvolger aangewys het. Die HERE het belowe  dat Hy Salomo se koningskap sal bevestig as hy trou aan die HERE se wil bly. Dit gaan hier dus om die koningskap van Salomo oor die hele volk en dan lees ons in vers 8: “Nou dan, voor die oë van die hele Israel, die vergadering van die HERE, en voor die ore van onse God: Onderhou en soek al die gebooie van die HERE julle God, sodat  julle hierdie goeie land kan besit en julle kinders na julle tot in ewigheid kan erwe.”

Hier wys die woorde qehal Jahwe nes in Numeri 16 en 18 op die hele volk Israel. Dit gaan hier om die hele volk Israel as God se heilige nasie. Die volgende vers wys ook daarop dat ‘n mens werklik by God se volk, by die qehal Jahwe  behoort as hy volgens God se wil lewe. As Salomo in sy lewe die HERE soek sal die HERE Hom deur Salomo laat vind; “maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.” (vers 10)

    

Miga 2:5

 

Ons lees in Miga 2:5: “Daarom sal daar vir jou niemand wees wat die meetsnoer werp in ‘n erfdeel in die vergadering van die HERE nie.”

Miga wys in die verse hiervoor op die sonde dat  sekere mense onder God se volk op ‘n onregverdige manier die grond en besittings van hulle broers en susters toeëien. Dit  was ‘n groot sonde omdat die erfdeel wat ‘n familie by die inname van Kanaan gekry het die onvervreembare eiendom van hulle is wat net tydelik in ‘n ander se besit mag wees. As God se oordeel deur die ballingskap oor God se volk kom, sal juis hierdie persone hulle besittings verloor en nooit meer terugkry nie. As die oomblik kom dat weer grond verdeel sal word, sal hulle niks kry nie. Die verdeling van die land gebeur dan in die qehal Jahwe. Dit was ‘n heilige saak. Die land is God se land en word deur die lot deur Hom verdeel. Sien ook Jos 18:10. Ons moet by hierdie vergadering aan ‘n amptelike vergadering dink wat onder leiding van ampsdraers gestaan het en waar onder die aanroeping van God se naam die land verdeel is. Die qehal Jahwe wys ook hier op die plek waar die volk vir hierdie doel saamkom. Dit is God se heiligdom. Die eerste keer dat na die verowering van die land die grond deur die lot verdeel word, gebeur dit onder leiding van Josua en dit gebeur in Silo!  Silo was die plek waar toe die tabernakel  ‘n vaste plek gekry het. Sien Josua 18:1-10 en ook Jer 7:12!    

 

Enkele gevolgtrekkings

 

  1. Die woorde qehal Jahwe beteken nie oral dieselfde nie.
  2. Hierdie woorde kry in die mond van die opstandelinge die klank van totale gelykheid aan Moses en Aaron. Die woorde qehal Jahwe moet daar die deur vir die ideaal van vryheid, gelykheid en broederskap oopmaak. Die straf van die HERE oor die opstandelinge wys dat God se volk as die qehal Jahwe geen demokratiese vergadering en gemeenskap is nie maar dat daarin die gesagstrukture wat die HERE daar gestel het geerbiedig moet word. Dit beteken vir vandag dat die Kerk  geen demokratiese gemeenskap mag word nie maar dat die gesagstruktuur van ampsdraers soos die Here dit voorgeskryf het vir alle tye bly geld.
  3. Die woorde qehal Jahwe wys in Deuteronomium, Klaagliedere en  Nehemia op die tabernakel of die tempel.
  4. Mense met sekere gebreke mog nie in die heiligdom kom nie sonder dat dit beteken dat hulle nie by die HERE se volk wat die ewig heil ontvang behoort nie. Sien Jesaja 56.
  5. Gelowiges met sekere gebreke mog nie in tabernakel of tempel diens doen of kom nie omdat die tabernakel en tempel beeld van die nuwe hemel en aarde was. [15]  Sien Levitikus 21:17-24.
  6. Mense word nie op grond van volk of ras buite die qehal Jahwe gesluit nie en verseker nie buite die volk wat in God se ewige heil deel nie.
  7. Die qehal Jahwe is ‘n vergadering waar God se reg moet heers. As Sy reg daar nie meer heers nie is dit geen qehal Jahwe  meer nie.
  8. ‘n Persoon wat die HERE se reg nie wil eerbiedig nie kan nie meer deel van die qehal Jahwe wees nie. Die tug  is hier noodsaaklik en dit beteken dan ook uitsluiting uit die Koninkryk van God.
  9. ‘n Persoon wat ‘n dubbel lewe gelei het of in sy hart die HERE nie liefgehad het, het in God se oë nie tot Sy volk behoort nie en sy deelneem aan die erediens was vir hom verswaring van sy oordeel. Sien o.a: Ps 50:7 e.v. Jes 1:10 e.v. Jer 7:21 e.v.; Hos 6:6; Amos 5:21 e.v.; Miga 6:6 e.v.    

 

BIBLIOGRAFIE    

 

  1. Aalders, G.C. De Klaagliederen. Kampen: Kok.
  2. Albertz, R. 1997. Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit 2. Gottingen: Vandenhoeck &
  3. Bijl, C. 1989. Wat het geloof verwacht. Barneveld: De Vuurbaak.
  4. Clark, D.J. & Mundhenk, N. 1982. A Translator’s Handbook on The Books of Obadiah and Micah. London: United Bible Soceities.
  5. De Jong, H. 1987. Deuteronomium XVIII-XXXIV. Kampen: Kok
  6. Edelkoort, A.H. Baarn: Bosch & Keuning
  7. Flavius Josephus. 1722. Alle de werken. Amsterdam: Joannes Oosterwyk.
  8. Galling, K. 1954. Die Bucher der Chronik Esra, Nehemia. Gottingen: VandenHoeck & Ruprecht.
  9. Gesenius, W. 1962. Handworterbuch uber das Alten Testament. Berlin: Springer-Verlag.
  10. Gispen, W.H. 1959. Numeri I. Kampen: Kok
  11. Harrison, R.K. 1974. Jeremiah and Lamentations. London: Inter-Varsity Press.
  12. Heyns, J.A. 1977. Die kerk. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.
  13. Holwerda, B. 1957. Exegese Oude Testament (Deuteronomium). Kampen: Copiëerinrichting v.d. Berg.
  14. Jagersma, H. 1988. Numeri II. Nijkerk: Callenbach.
  15. Kautzch, E. 1980. Gesenius Hebrew grammar. Oxford: Clarendon Press.
  16. Keil, C.F. & Delitsch, 1981. Commentary on the Old Testament I, Grand Rapids: Eerdmans.
  17. Keil, C.F. & Delitzsch, F. 1978. Commentary on the Old Testament III, Grand Rapids: Eerdmans.
  18. Keil, C.F. & Delitzsch, F. 1980. Commentary on the Old Testament Grand Rapids:  Eerdmans
  19. Keil, C.F. & Delitzsch, F. 1980. Commentary on the Old Testament X, Grand Rapids: Eerdmans.
  20. Koehler, L. & Baumgartner, W. 1985. Lexicon in Veteris Testamenti Libros. Leiden: Bril.
  21. Kritsinger, J.D.W. 1957. Qehal Jahwe. Kampen: Kok
  22. Labuschagne, C.J. 1990. Deuteronomium II. Nijkerk: Callenbach
  23. Lettinga, J.P. 1976. Grammatica van het Bijbelse Hebreeuws. Leiden: Bril.
  24. Muller, H.P. 1984, khl (In: Jenni/Westermann Theologisches Handworterbuch zum Alten Testaments. Munchen: Chr. Kaiser Verlag, p 609-619.
  25. Noordtzij, A. 1937. Kronieke I. Kampen: Kok.
  26. Noordtzij, A. 1939. Ezra-Nehemia. Kampen: Kok
  27. Noordtzij, A. 1957. Numeri. Kampen: Kok
  28. Ohmann, H.M. 1983. Tellingen in de woestijn. Bedum: Scholma Druk
  29. Poythress, V.S. 1991. The shadow of Christ in the Law of Moses. Phillipsburg: P&R
  30. Preuss, H.D. 1991. Theologie des Alten Testaments I. Stuttgart: W. Kohlhammer.
  31. Preuss, H.D. 1992. Theologie des Alten Testaments II. Stuttgart: W. Kohlhammer.
  32. Renkema, J. 1983. ‘Misschien is er hoop…’. Franeker: Wever.
  33. Ridderbos, J. 1964. Deuteronomium II. Kampen: Kok
  34. Ridderbos, J. De Kleine Profeten II. Kampen: Kok
  35. Roubos, K. 1985. 1 Kronieke. Nijkerk: Callenbach
  36. Taetsch, T. 1965. Jeremiah. Saint Louis: Condordia Publishing House.
  37. Thompson, J.A. 1974. Deuteronomy. London: Inter-Varsity Press.
  38. Van Aarde, A.G. 1990. Die “heiligheid van die kerk teen die agtergrond van die breuk kerk-sinagoge. In: In die Skriflig 24; 251-262.
  39. Van der Meiden, L.H. De Klaagliederen van Jeremia. Baarn: Bosch & Keuning.
  40. Van der Woude, A.S. 1977. Micha. Nijkerk: Callenbach.
  41. Van Selms, A. 1984. Jeremia en Klaagliedere. Nijkerk: Callenbach.
  42. Van Zijl, A.H. 1983 Die gesag van die Ou Testament. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.
  43. Visser, Rob. 1999. Die eerste vyf boeke van die Bybel:  grondslag of resultaat van israel se godsdiens. In: Breytenbach, H e.a.  Die Bybel is God se Woord.  Pretoria: Victoria Drukkers
  44. Vriezen, Th.C,   Hoofdlijnen der Theologie van het Oude Testament.  Wageningen: H. Veenman en Zonen.
  45. Waltke, B.K. 1988. Obadiah, Jonah and Micah. Leicester: Inter-Varsity Press.
  46. Weiser, A. 1949. Buch der zwolf Kleinen Propheten I. Gottingen: Vandenhoeck&Ruprecht.
  47. Wiersinga, W.A. Zendingsperpectief in het Oude Testament. Baarn: Bosch en Keuning.

 

 

 

[1]  ‘n Voorbeeld daarvan dat tussen qehal en eda  ‘n te groot  verskil gemaak word en hulle as teologiese begrippe met ‘n heel eie getekenis gesien word, vind ons  o.a.by  C.F. Keil (1981). Hy skryf  op p 106 van sy kommentaar op Numeri: “The distinction between eda  en qahal  is die folowing: eda signifies conventus, the congregation according to its natural organization; qahal signifies convocatio, the congregation according to its divine calling and theocratic purpose.”

[2] Eks 19:10,11

[3]  J. Ridderbos (1964) skryf tereg: “Hierby blijft echter te bedenken, dat uitsluiting uit Israëls volksgemeenskap en uitsluiting van die gemeenskap met Israëls God, hoe dikwijls ze ook samengingen, tog niet hetzelfde zijn, zie ook bij vs. 1” p 45. Dit is reg dat Ridderbos onderskeid maak en vers 1 by die vervolg  betrek. Baie kommentare maak  nie hierdie onderskeid nie en betrek vers 1 nie by die uitleg die volgende verse nie.  Dit is te sterk gesê dat  byvoorbeeld die verminkte van vers 1 uit die gemeenskap met Israëls God gesluit is. Dit gaan hier nie om die volle gemeenskap met die HERE nie maar om die toegang tot die tabernakel en later die tempel.   

[4]  Genesis 19: 30-38; Psalm 83:9.

[5]   Ons lees in Deuteronomium 21:10-14 juis die voorskrif dat Israëliete met vroue mag trou wat hulle in die oorlog  gevangegeneem het.  Hierdie bepaling van God se kant is onverstaanbaar as  Israelitiese mans nooit met vroue uit ander volke mog trou nie. Dit lyk daarop dat iemand as ‘n Israeliet gesien is as sy vader ‘n Israeliet was.  Die vader was beslissend.

[6] C. Bijl  sien raak dat  Israel en die gemeente van die HERE nie saamval nie. Hy skryf daaroor: “Strikt genomen ging het dus in het OT niet om Israë als natië, maar om ‘de gemeente van de HERE’. Die twee vielen niet automatisch samen, want niet elke Israeliet was lid van deze gemeente. God stelde aparte toelatingseisen: wie melaats was of ontmand, werd niet toegelaten, al was hy Jood. De woorden ‘gemeente’ en ‘vergadering’ geven aan dat haar leden door de HERE werden uitgekozen en vergaderd.” P. 123

Die gevaar van hierdie redenering is net  dat dit lyk asof die melaatse en die ontmande nie God se kinders kan wees nie, nie by God se volk kon behoort nie.   

[7]  J.A. Heyns skryf tereg op pagina 357 van sy Dogmatiek: “Om tot hierdie vergadering van die Here toegelaat te word was daar allerlei vereistes wat as voorwaardes gestel was: so o.a.  die besnydenis, reinheid – eties en religieus – en in die algemeen ‘n regte houding teenoor God en die naaste, m.a.w. gehoorsaamheid aan die wet.Nêrens egter was die voorreg om tot die kultusgemeenskap te behoort, die prerogatief  van die Israeliete alleen nie.” Dis net jammer dat dit alles weer in die kader van die deel van die kerk, van God se volk genoem word. Dit was moontlik dat iemand in die Ou Testament geen deel van die qehal Jahwe was nie en nogtans by God se volk behoort het.     

[8]  Sien Rob Visser  Die eerste vyf boeke van die Bybel: Grondslag of resultaat van Israel se godsdiens? In: Hannes Breytenbach e.a.  Die Bybel is God se Woord  p 5-16.

[9]  Sien 2 Kon 25:9; 2 Kron 36;19; Jer 52:17,18.

[10] Vers 8 is hier weggelaat omdat daar nie gaan om die toelaat van onbesnedenes in die tempel nie. Vers 8 gaan nog verder. Dit gaan daar selfs om onbesnedenes wat as priesters diens in die tempel doen. 

[11] Gesenius  s.v.  asaf en Kohler  s.v.  asaf.

[12] Gesenius  s.v. asafsub.

[13] Kohler s.v. asafsub..

[14] Ons  vind  hieroor gegewens by Flavius Josefus Joodse Oudhede XI,7,2; XI,8,2.  Josefus moet hier wel in sy kronologie ‘n fout gemaak het. Hy is verseker 100 jaar uit koers. Sien hier ook:  A.H. van Zyl  Die gesag van die Ou Testament p 90-98. 

[15]  Dit is baie opvallend dat Poythress in sy  insiggewende boek: The shadow of Christ in the law of Moses  aan hierdie aspek geen aandag gee nie.  Hebreërs 4 word in sy boek selfs nie genoem nie.  Dit belemmer hom om sekere gedeeltes van God se wet in die Ou Testament in die regte kader te plaas.

 

Lesing gehou in 1998