BYBELBOEK JOB
HOE LEES ONS DIE BOEK JOB?
Ons weet almal dat in die Bybel ‘n boek met die naam Job voorkom. Ons ken almal die verhaal van Job. Nogtans is dit nie so maklik om hierdie boek te lees nie. Die hoofstukke 1,2 trek ons aandag en dit is nie moeilik om te verstaan nie. Dieselfde geld van hoofstuk 42. Nogtans is dit nie so maklik te verstaan wat ons in die hoofstukke 3-41 lees nie. Ek hoop met hierdie en die volgende artikel ‘n bietjie hulp te verleen.
Is Job 3-41 God se Woord?
Vyf persone voer in hierdie hoofstukke die woord. Dit is Job, sy drie vriende: Elifas, Bildad en Sofar. Dan is daar nog ‘n ander vriend van Job: Elihu. Die HERE antwoord in die hoofstukke 38-41.
Ons lees in hoofstuk 42 dat Job sy skuld bely en hoe die HERE op Job se vriende reageer en Job weer in Sy groot seën laat deel.
Een van die moeilikste dinge in die boek Job is om vas te stel wanneer Job verkeerd van die HERE gepraat het en wat die verkeerde in Job se vriende se woorde is. Dit moet ‘n mens ook versigtig maak om sommer tekste in hoofstuk 3-37 te gebruik om iets te bewys. Ons moet seker maak of dit wat daar gesê is in ooreenstemming met God se wil is. ‘n Voorbeeld waarby ‘n mens vrae kan vra is die bewystekste vanuit die boek Job wat ons onder vraag en antwoord 13 van die Heidelbergse Kategismus vind. Ons vind daar as bewystekste o.a. Job 4:18,19; 15:15,16. Dit is woorde wat Elifas uitgespreek het. Ons moet bedink dat ons in Job 42:7 lees: “En nadat die HERE Job toegespreek het met hierdie woorde, sê die HERE aan Elifas, die Temaniet: My toorn het ontvlam teen jou en jou vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.”
As ons antwoord wil gee op die vraag of Job 3-37 God se Woord is, behoort die antwoord ja te wees. Die Heilige Gees het ook hierdie hoofstukke tot deel van God se Woord gemaak. Nogtans beteken dit nie dat alles wat ons daar lees die regte pad en leer vir ons wys nie. Hier is dit belangrik om ‘n onderskeid tussen historiese en normatiewe gesag te maak.
Alles wat ons in hoofstuk 3-37 lees, is ‘n betroubare verslag van dit wat Job, sy vriende en die HERE gesê het. Die woorde word op ‘n historiese betroubare manier aan ons oorgelewer. Nogtans het nie al die woorde in hierdie hoofstukke normatiewe gesag nie. Ons kan nie van al Job se vriende se woorde sê dat dit regte woorde was nie. Al hul woorde is nie met Goddelike gesag beklee nie. Dit moet ‘n mens versigtig maak om sommer die woorde van Job se drie vriende te gebruik en daarmee iets te bewys. Selfs Job sê in hierdie hoofstukke dinge waaroor die HERE hom in hoofstuk 38-41 bestraf. As ons weer na vraag en antwoord 13 van die Kategismus kyk, sou dit dan ook beter wees om die tekste vanuit Job 4 en 15 met gedeeltes in Romeine 3 te vervang. Ek kom in ‘n volgende artikel nog daarop terug hoe ons die hoofstukke 3-37 moet lees.
Wie was Job?
Wie die menslike skrywer van die boek Job is, weet ons nie. Die boek Job gee vir ons daarvoor nie ‘n enkele aanwysing nie. Dit is ook nie belangrik as ons daaraan bly vashou dat dit wat ons in hierdie boek lees werklik so gebeur het. Ons lees in hierdie boek wat op ‘n sekere oomblik in die hemel (1:6-12;2:1-7) en op die aarde gebeur het. As ons op die toesprake in die boek Job let, sien ons dat hulle in ‘n poëtiese styl geskryf is. Dit wil nog nie sê dat Job en sy vriende mekaar in poëtiese woorde geantwoord het nie. Die poëtiese vorm kan ‘n bewerking onder leiding van die Heilige Gees wees wat op ‘n volledig betroubare wyse weergee wat daar toe gesê is.
Die opvallende is dat Job ‘n nie-Israeliet is. Hy woon in die land Us wat verseker buite Israel lê sonder om met sekerheid te kan sê waar ons hierdie land kan vind. Ons lees van die land Us in: Gen 36:1,28; 1 Konings 1:42; Klaagliedere 4:21. Dit lyk asof dit hier om ‘n stuk land gaan wat suid van Juda lê. Ander plekke waar ons van Us lees is: Gen 10:23; 22:21; 1 Kron 1:17. Hier wys dit meer in die rigting Noordoos van Israel. Dit is baie goed moontlik dat verskillende stukke grond dieselfde naam gedra het.
‘n Interessante tradisie oor Job vind ons in die Septuagint. Die Septuagint is die eerste vertaling van die Ou Testament. Dit was ‘n Griekse vertaling wat in Jesus se tyd deur baie gebruik is. Ons vind daar by Gen 42:17 ‘n toevoeging. Volgens hierdie toevoeging sou Job dieselfde as Jobab die seun van Serag wees. Ons lees van Jobab in Gen 36:33. Job sou dan ‘n kleinseun van Esau wees. Dit is natuurlik niks anders as ‘n menslike oorlewering nie. Nogtans is dit wel so dat as ons die boek Job lees, dit die mees waarskynlike is dat Job in die tyd van die aartsvaders of daarvoor geleef het.
Aanwysings dat Job omtrent die tyd van Abraham geleef het is:
Die organisasie van sy familielewe en van sy eiendomme pas by daardie tyd in die Ou-Nabye Ooste. Hy is ‘n herdersvors en sy rykdom word uitgedruk in die besitting aan vee wat hy het. 1:3; 42:12
Hy word baie oud. 42:16 Sy leeftyd van 140 jaar pas nog in die tyd van die aartsvaders of daarvoor maar nie daarna nie.
Die tyd voor Israel se volksbestaan was daar gelowiges op aarde wat nie tot die nakomelinge van Abraham behoort het. ‘n Ander voorbeeld daarvan is Melgisedek. Kyk Gen 14.
Is die boek Job ‘n ideëboek?
Ook teoloë wat as meer behoudend bekend staan, aanvaar nie altyd die hele boek Job as histories nie. ‘n Eietydse handboek vir die bestudering van die Ou Testament is R.B Dillard/Tremper Longman An Introduction tot the Old Testament. Hierdie twee teoloë meen dat Job ‘n historiese figuur uit die vroeë tyd was maar dat dele van hierdie boek uit later tyd stam. Hulle skryf o.a:
“Dit is meer waarskynlik dat sekere godsdienstige ideë in die boek pas laat in die geskiedenis van Israel ontstaan het. Terwyl dit aan die een kant verkeerd is om dit net aan ‘n ewolusionêre visie op de ontwikkeling van godsdienstige ideë in het Oude Testament (a la Wellhausen) toe te skryf, is dit so dat in die Bybel die waarheid stadig in die proses waarin die heilsgeskiedenis vorder, ontvou. De meer ontwikkelde leer van die engele in die boek, waarby ook meer details ten aansien van die Satan behoort, stam waarskynlik uit ‘n later periode in Israel se geskiedenis. Ons kan die gevolgtrekking maak dat die agtergrond van die boek sonder twyfel vroeg is, terwyl de datering van de oorsprong onbekend bly.”
Hierdie siening kan ons in die lig van God se Woord nie aanvaar nie. Enkele redes daarvoor is:
Ons lees hier dat ‘n idee van die skrywers hoe die leer van God se Woord ontwikkel het vir hulle beslissend is. Hulle kan hulle nie voorstel dat in die vroeë tyd voor Israel se volksbestaan God se kinders al so baie van die engele en die Satan geweet het nie. Ons moet nie leef by ons idee wat die broers en susters in vroeë tye al geweet het nie. Ons moet nie leef met dit wat volgens ons idee die HERE vroeër of later geopenbaar het nie. Ons moet ons ook wat hierdie dinge betref deur God se eie Woord laat leer. Ons mag van die boek Job nie ‘n boek maak wat mense uit gedeeltes van verskillende tye saamgestel het nie. Ons mag daarvan nie ‘n boek maak wat wel ‘n historiese agtergrond het maar met ideë van later tyd aangevul sou wees. Dan ontstaan op die ou end ‘n onbetroubare boek waarvan die historiese gedeelte nie betroubaar is nie.
Hier word nie reg daaraan gedoen dat dit hier oor feite gaan en die Skrif dit ook so presenteer. Dit het in ‘n sekere tyd plaasgevind. Toe het hierdie dinge gebeur en het dit wat ons lees in die boek Job gebeur. As dit in die tyd van of voor die aartsvaders is, maak dit duidelik dat die HERE toe al kennis van die engele en wat hulle in die hemel doen aan mense geopenbaar het.
Die leer van die engele is nie die resultaat van mense se ideë daaroor nie maar die HERE het die werklikheid wat daar was, geopenbaar.
Dit gaan hier nie oor ‘n sekere idee oor die Satan nie maar om die openbaring van die werklikheid.
‘n Groot gevaar wat ons hier en ook elders in sogenaamde behoudende kring sien is dat die Bybel as ‘n ideëboek benader word. Eers vra ons wat volgens ons die bedoeling van ‘n Bybelboek is. As die bedoeling van die boek Job volgens ons is om die probleem van die lyding aan die orde te stel en daaroor sekere antwoorde te gee, maak dit nie meer baie saak of dit hier om geskiedenis gaan nie. Die belangrikste is dit wat volgens ons die boodskap of idee van die boek is. Ons mag van die Bybel geen ideëboek of dogmatiek maak nie maar moet juis sien hoe God Hom in die geskiedenis aan ons geopenbaar het. Dan sien ons baie meer van God se wysheid en grootheid as dit wat volgens ons die boodskap is.
Job was verseker ‘n historiese persoon. Dit wys die boek Job self en ook dit wat ons in ander dele van die Bybel van hom lees. Kyk Es 14:14,20; Jakobus 5:11.
Die indeling van die boek.
As ons die boek Job begin lees, is dit goed om die indeling van hierdie boek in jou kop te hê of langsaan jou op papier te hê. Die volgende indeling kan ons help.
Historiese situasie 1,2
Die toesprake van Job en sy vriende 3-31
Job 3
1e rondte 2e rondte 3e rondte
Elifas 4,5 15 22
Job 6,7 16,17 3,24
Bildad 8 18 25
Job 9,10 19 26-31
Sofar 11 20
Job 12-14 21
Toesprake van Elihu 32-37
God se woorde 38-39:35 40,41
Job se antwoord 39:36-38 42:1-6
Job se historiese se situasie onder God se nuwe seën 42:7-17
Hoe moet ons Elihu se woorde waardeer?
Wie na die indeling kyk, sien dadelik dat die toesprake van Job se vierde vriend heeltemal los van die ander vriende staan. Is dit toevallig? Of het Elihu se toesprake ‘n heeltemal ander karakter?
Ons kry verskillende beoordelings van Elihu. Dikwels word hy maar by die ander drie gereken. Die beoordeling is dan dat hy eintlik dieselfde as die ander gesê het en onder God se oordeel val soos die HERE dit oor die ander uitgespreek het. ‘n Voorbeeld daarvan is die boek van Dillard en Longman wat ek al in die vorige artikel genoem het. Hulle skryf oor Elihu se toesprake o.a. die volgende
“Twee faktore dra daartoe by dat volgens die gebruiklike Schrifkritiese standpunt die toespraak van Elihu oorspronklik nie tot die verhaal behoort nie. De eerste een is dat de drie vrienden in die laaste hoofstuk van Job wel aangespreek word maar nie Elihu nie. God kon Elihu, soos Barr tereg opgemerk het, moontlik as onbetekenend ignoreer. Nogtans is dit die feite dat Hy hom as ‘n brutale jongman op sy plek sit. Die ander faktor wat aan de teorie bydra dat Elihu se toespraak ‘n latere toevoeging is, is die feit dat hy niks sê wat nuut is nie.”
Dillard en Longman wil nie Skrifkrities wees nie en sê dan ook nie dat dit wat Elihu sê nie by die boek Job behoort nie. Dit kan in hulle gedagte wel ‘n latere toevoeging wees. Hulle stem daarmee saam dat Elihu niks wat nuut is sê nie en ‘n brutale jongman is.
Hierdie uitleg is nie baie aanneemlik nie. ‘n Mens moet dan dinge lees waarvan ons in die Bybel niks lees nie. Die opvallende is juis dat die HERE die drie vriende bestraf en nie Elihu nie! 42:7-10
Ons sien by Elihu verseker nuwe dinge wat ons nie by die ander drie vind nie. Dit is o.a. die volgende:
Die drie vriende verhef hulle bo Job. Hulle beskuldig Job daarvan dat hy ‘n baie groot sondaar moet wees want die ellende wat nou oor hom gekom het bewys dit. Van tyd tot tyd kom Job se drie vriende selfs met baie konkrete beskuldigings wat moet bewys dat Job se ellende die gevolg van ernstige sondes in sy lewe is. ‘n Voorbeeld daarvan is wat Elifas in 22:6-9 sê: “Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek. Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou. Maar aan die man van geweld – aan hom behoort die land; en die aansienlike – hy moet daarin woon! Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.”
Job se drie vriende verhef hulle heeltemal bo Job. Die HERE se beoordeling van Job en sy lewe is naamlik die volgende: “Die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwys van die kwaad.” 1:8
Ons sien by Elihu dat hy hom nie bo Job verhef nie. Sy oortuiging is nie dat Job ‘n baie groot sondaar moet wees vanweë die ellende wat oor sy lewe gekom het nie. Hy erken dat hy nie beter as Job is omdat hy nie deur groot ellende getref is nie. Hy gaan langsaan Job staan: “Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp. Kyk, vrees vir my hoef u nie te beangstig nie, en my las sal op u nie swaar wees nie.” 33:6,7
Die drie vriende kan aan niks anders dink as dat Job ‘n groot sonde gedoen het. Hierteen verset Job hom. Die gevolg van die manier waarop die drie vriende met Job praat is dat Job daartoe kom om die HERE tot verantwoording te roep en selfs van onregverdigheid teenoor hom te beskuldig. Kyk o.a. 4:6-8; 8:20; 11:11;18:5.
Elihu se groot bydrae in die gesprek is nou juis dat hy wys dat ons almal die grootste ellende as sondaars verdien het. Ons het almal vanweë ons sondes en skuld God se bevryding, verlossing nodig. Hy wys, soos Job al eerder gedoen het, dat enige mens die Verlosser nodig het. Kyk 33:23-25. Kyk vir Job 19:25.
Vanuit die regte perspektief dat ons almal sondaars is en die ergste ellende verdien het, bestraf Elihu nou vir Job omdat hy God van onreg durf beskuldig het. Job het begin twyfel en hom al hoe meer teen God rig: 3:3; 9:22;16:11-18;19:6 Elihu wys dat dit nie by ‘n mens se optrede teenoor God pas nie. Hy wys op hierdie verkeerde in Job se woorde o.a. in 34:35-37: “Job spreek sonder kennis, en sy woorde is sonder verstand. Ag, mag Job getoets word tot die einde toe weens die antwoorde in die trant van die kwaaddoeners. Want hy voeg ‘n oortreding by sy sonde; onder ons spreek hy smadelik en vermenigvuldig sy woorde teen God.” Die HERE wys in dit wat Hy in die hoofstukke 38-41 sê, ook daarop. Baie kernagtig lees ons dit in 39:34,35: “En die HERE het Job geantwoord en gesê: Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord!”
Ook op ‘n ander punt sien ons groot ooreenstemming tussen dit wat Elihu vir Job sê en wat die HERE sê. Dit is dat Elihu vir Job op God se majesteit wys. Hy doen dit veral in hoofstuk 37. Die HERE se onderwys in hoofstuk 38,39 sluit daarby aan.
Wat van 42:7?
Is dit werklik so dat Job ook dinge gesê het wat nie reg was nie? Die vraag kom op as die HERE hom in 42:7 veral tot Elifas rig en dan sê: “My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.”
Wat is die groot punt waarom die HERE kwaad vir die drie vriende is? Dat hulle nie reg van Hom gepraat het nie. Dit beteken nie dat hulle nie dinge gesê het wat waar is nie. Baie dinge van dit wat die vriende gesê het is op homself waar. Daarom kan Paulus in 1 Kor 3:19 ook ‘n woord van Elifas aanhaal. Hy haal daar aan wat Elifas in Job 5:13 gesê het. ‘n Mens kan met baie woorde wat op homself waar is ‘n verhaal maak wat ‘n verkeerde strekking het. Dit is wat die drie vriende gedoen het. Hulle het baie woorde wat waar is so met mekaar verbind dat die strekking van hulle verhaal was: Enige mens wat in groot probleme is en deur moeilike dinge getref word moet ‘n groot sondaar wees. Wie nie deur groot hartseer getref word, mag volgens die drie vriende weet dat God se toorn nie op hulle lê nie.
Die drie vriende het daarin heeltemal verkeerd van die HERE gepraat. Dit is nie die manier waarop Hy handel nie. Die Here Jesus wys dit later ook aan as Hy die blindgeborene genees het. As dan vir Hom gevra word wie nou so swaar gesondig het: hierdie man of sy ouers, is Jesus se antwoord: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom geopenbaar word.” Joh 9:3.
As die HERE sê dat die drie vriende nie reg van Hom soos sy kneg Job gepraat het nie beteken dit nie dat alles wat Job gesê het reg was nie. Dan sou ‘n mens nie kon verstaan dat die HERE self Job in hoofstuk 38-41 vanweë sekere van sy woorde bestraf het nie. Die HERE sê in 38:2 selfs vir Job: “Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder verstand?”
Dit gaan hier weer oor die strekking van Job se woorde. Hy hou teenoor die vriende vol dat dit nie so is dat jy vanuit die omstandighede waarin ‘n mens op aarde verkeer kan uitmaak of God se toorn oor iemand lewe lê of dat dit nie so is nie. ‘n Mens kan nie vanuit ander se omstandighede die gevolgtrekking maak dat die ander ‘n kind van God is of ‘n goddelose is nie.
Enkele belangrike elemente in die boek Job.
Ons het al eerder in hierdie twee artikels gesien dat ons nie eers moet vasstel wat die tema van ‘n Bybelboek is nie en dan sê dat dit daarin oor niks anders as dit gaan nie. As ek dan nou ook op enkele belangrike elemente in die boek Job wys, kan dit ook nog met ander aangevul word.
Die stryd tussen God en Satan. Satan dink dat die HERE ‘n mens wat swaar beproef word nie tot die einde by die lewe en aanbidding van Hom kan vashou nie. Die HERE wys Sy trou en krag wat bo die van die Satan uitgaan. Die bly dien van die HERE is nie afhanklik van aardse welvaart en geluk nie.
Job word deur God se trou en krag ‘n voorbeeld van lydsaamheid. Jak 5:10. Jy kan op God vertrou!
Die Satan kan nie verder gaan as wat die HERE hom toelaat om te doen nie. Kyk 2:6.
Lyding vir ‘n mens beteken nie dat daardie mens dus ‘n besondere sonde in sy lewe het nie. Elkeen het die Verlosser nodig.
Die mens kan nie die HERE in Sy wysheid en majesteit beoordeel en veroordeel nie. Hy gaan bo ons verstand en voorstellingsvermoë uit. Ons pas net aanbidding van Sy majesteit.
Die beproewinge van God se kinders is ook daar opgerig dat ons die HERE werklik ken. Kyk 42:5
‘n Mens leef en aanbid die HERE nie verniet nie. Kyk 1:9