MYMERINGE

MYMERING 1

Fariseër?

 

By die begin van die sinode is daar oor Fariseërs gepraat. Vanuit Matteus 5. Die Here Jesus laat daar duidelik hoor dat ons nie soos die Fariseërs en die skrifgeleerdes moet wees nie. As jy dit hoor moet jy mooi onderskei.

Is jy  ʼn Fariseër as jy met liefde God se Woord naspreek en jouself en ander op die pa van God se Woord wil laat stap? In ons tyd word mense vinnig fariseërs genoem as hulle die Woord laat spreek teen die gees van die tyd in. Ons moet goed bedink dat die Here Jesus die fariseër negatief benader omdat hulle hul eie eer soek. Hulle staan en bid op die strate omdat hulle geëer wil word. Hulle soek hulleself pleks dat hulle dien. Hulle verag die gewone mense. Hulle voel meer as die gewone mense wat hulle verag. Dit is so in stryd met wat Christus ons in Markus 10:45 leer. Hy maak daar duidelik dat selfs Hy gekom het om te dien. Om Sy lewe as losprys vir ons te gee. Die Here Jesus en ook later Paulus kies as dit om die leer gaan vir die fariseër teenoor die Sadduseërs! Die ontken die bestaan van die engele en ‘n lewe na die dood. Vir die Sadduseërs sê die Here Jesus:

“Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. Want in die opstanding trou hulle nie en word nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. En wat die opstanding van die dode betref – het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Jakob? God is nie die ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.” Matteus 22:29-33

Wat  leer ons hier? Dat wie in liefde die duidelike Woord vorentoe bring nie ‘n Fariseër is nie. Dat dit juis roeping is om so saam volgens Gods se Woord te dink, te praat en te leef. Wie duidelik vanuit die Woord leer is nie ‘n Fariseër nie. Dit is ons roeping om dit te doen. Juis teen die tydgees in. Die Sadduseërs was die mense van die soek na mag en jou aanpas aan die gees van die tyd. Ons het besluite en ‘n  teologie nodig wat buig in alles vir God se Woord. Om op daardie manier moedig in die wêreld te staan as Christus se kerk.