MYMERINGE

MYMERING 1

Fariseër?

 

By die begin van die sinode is daar oor Fariseërs gepraat. Vanuit Matteus 5. Die Here Jesus laat daar duidelik hoor dat ons nie soos die Fariseërs en die skrifgeleerdes moet wees nie. As jy dit hoor moet jy mooi onderskei.

Is jy  ʼn Fariseër as jy met liefde God se Woord naspreek en jouself en ander op die pa van God se Woord wil laat stap? In ons tyd word mense vinnig fariseërs genoem as hulle die Woord laat spreek teen die gees van die tyd in. Ons moet goed bedink dat die Here Jesus die fariseër negatief benader omdat hulle hul eie eer soek. Hulle staan en bid op die strate omdat hulle geëer wil word. Hulle soek hulleself pleks dat hulle dien. Hulle verag die gewone mense. Hulle voel meer as die gewone mense wat hulle verag. Dit is so in stryd met wat Christus ons in Markus 10:45 leer. Hy maak daar duidelik dat selfs Hy gekom het om te dien. Om Sy lewe as losprys vir ons te gee. Die Here Jesus en ook later Paulus kies as dit om die leer gaan vir die fariseër teenoor die Sadduseërs! Die ontken die bestaan van die engele en ‘n lewe na die dood. Vir die Sadduseërs sê die Here Jesus:

“Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. Want in die opstanding trou hulle nie en word nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. En wat die opstanding van die dode betref – het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Jakob? God is nie die ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.” Matteus 22:29-33

Wat  leer ons hier? Dat wie in liefde die duidelike Woord vorentoe bring nie ‘n Fariseër is nie. Dat dit juis roeping is om so saam volgens Gods se Woord te dink, te praat en te leef. Wie duidelik vanuit die Woord leer is nie ‘n Fariseër nie. Dit is ons roeping om dit te doen. Juis teen die tydgees in. Die Sadduseërs was die mense van die soek na mag en jou aanpas aan die gees van die tyd. Ons het besluite en ‘n  teologie nodig wat buig in alles vir God se Woord. Om op daardie manier moedig in die wêreld te staan as Christus se kerk.

 

MYMERING II

Derde dag op die sinode van die GKSA in Potchefstroom. Onder die indruk van die Gees se werk hier. Ek was ook in 2003 hier. Hoe anders was dit toe. Toe was dit veral so dat 'n groot deel van de vergadering meer los van die Bijbel besluite wou neem. Nou was die soek veral om naby wat die Gees ons in die Bybel leer te kom en bly. Juis ook jong predikante sien 'n mens so praat en handel. Hoe bly is 'n mens dan dat jy sien dat nie uit traditonalisme vrou in die amp met groot meerderheid verwerp word. Vanuit liefde en ontsag vir die HERE en Sy Woord. Die HERE werk. Laat ons gebed steeds weer daarvoor wees. Ook in Nederland. Ook dankbaar vir al die werk van barmhartigheid wat in die samelewing gedoen word. More die gesprek en besluite oor die verhouding met ander kerke in binne en buiteland. Mag die HERE Sy seen en die bewoenheid vir ander vanuit Christus se liefde bly gee.

 

MYMERING III

'n Bewoë dag. So dankbaar aan die HERE! Ek haal aan vanuit wat amptlik vanaf die Sinode geskryf is. Dit was vanoggend rond 9.00.

Die Algemene Sinode met dankbaarheid teenoor die Here besluit om die hand va volle ekumeniise eenheid uit te steek na drie kerke.

"Die eerste een is die Gereformeerde Kerken (GK) in Nederland. Vir ons as GKSA is oorsese bande niks nuuts nie - ons koester sreeds jare lank kosbare verhoudings met susterkerke reg oor die wëreld. Tog is hierdie besluit spesiaal. Die GK is 'n nuwe kerkverband ...... en die Gereformeerde Kerken wat, net soos ons, onwrikbaar vasstaan op Skrif en belydenis."

Dit is om so dankbaar voor te wees. Ook as dit om die Vrye Gereformeerde kerke in Suid-Afrika gaan is 'n pragtige en ingrypende besluit geneem. De VGKSA het die GKSA al erken as kerk van Jesus Christus. Die GKSA het dit bevestig. Daar was nog 3 dinge waaroor saam vanuit hierdie erkenning gepraat moes word. Een daarvan is deur die GKSA weggeneem. Dit was die susterkerkrelasie wat daar nog met die NGkerk in Suid-Afrika was. Hierdie verhouding is nou verbreek. Ons kyk uit na die verdere werk van die Gees om ons al hoe meer aan mekaar te verbind. Om saam tot God se eer te bely en werk. My hart is so vol van dankbaarheid. Vir die werk van ons Heer en Verlosser.

 

MYMERING IV

Die wêreldgebeure is baie onrustig. Baie mense voel onseker en opgejaag. Wat gaan gebeur? Wat gaan dit vir ons en vir ons kinders en kleinkinders beteken? Watter kant gaan dit met die wêreld op? Dit lyk asof die oorloë en die dreiging van oorloë  net groter raak.

Hoe belangrik en ook troosvol is dit dan om jou Bybel te lees. Om te lees wat die HERE vir ons sê. Wat Hy sê wat die hele geskiedenis oorsien. Nie net oorsien nie maar ook so beheer dat die geskiedenis van die aarde tot Sy doel kom! As ons ellende, siekte, dood en oorloë sien kyk ons in ons eie spieël. Dan sien ons raak dat ons die oorsaak van al hierdie moeilikheid en ellende is. Dan wys die ellende se vinger na ons. Ons het die sonde en daarmee die ellende en die oorloë en die dreiging van oorloë in die geskiedenis gebring. Dit is nie die HERE wat dit gedoen het nie. Ons moet mooi bedink dat ons nie ‘n einde aan hierdie ellende kan maak nie! Dat ons dit nie werd is dat aan hierdie hartseer dinge ‘n end gemaak word nie.

As jy dit tot jou laat deurdring tot in jou hart dan is dit so bemoedigend wat ons in Openbaring 4 en 5 lees. Vir vandag kyk ons vinnig na wat ons in Openbaring 4:1-3 lees: “Hierna het ek gesien, en kyk, 'n deur wat in die hemel geopen is, en die stem wat ek voorheen so hard soos 'n basuin met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur. Onmiddellik het die Gees van my besit geneem, en kyk, daar was 'n troon in die hemel, en Iemand wat op die troon sit. Die Een wat daarop sit, se voorkoms was soos jaspis en karneool, en rondom die troon was daar 'n reënboog wat net soos smarag lyk.”

Ons moet besef dat ons hierdie werklikheid lees. Dit is soos dit vandag is. Ons kan dit nie sien nie maar dit is Christus wat ons deur die apostel Johannes die realiteit wys. Ons kan dit met ons menslike oë en volgens ons menslike gedagtes nie weet nie. Die Gees wys dit ons deur Christus. Die deur na die hemel gaan ook. Wat sien Johannes en ons terwyl daar so bitter baie ellende op die aarde is? Dat die HERE regeer. Dat ons daaraan nie hoef te twyfel nie. Die Gees wys dat nie die wêreldleiers in beheer is nie. Nie Putin, nie Trump, nie Xi en nie die keiser in Rome wat toe geregeer het nie. Wat hierdie mense ook al doen nogtans gaan die geskiedenis na God se doel en nie na hulle doel nie. God sit op die troon! Groot troos en bemoediging is daarby dat ons lees dat die daar die reënboog om daardie troon is. Dit beteken dat die Here God in volkome trou aan Sy Woord en belofte handel en regeer. Dit beteken dat vir wie op Christus bou nie die dood en die ellende die bestemming van hul lewe is nie. Die bestemming is die heerlike lewe op die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die HERE regeer, Christus regeer en is trou aan Sy eie belofte. Die volgende keer meer daaroor.

 

MYMERING V

Daar is so baie ellende en onreg  in hierdie wêreld! Ook in Suid-Afrika. Ook in Nederland al is dit dikwels op ‘n heeltemal ander manier. Mense leef in konkurrensie met mekaar. Dit sorg daarvoor dat op baie vlakke die reg van die sterkste en die meerderheid heers. As ons na die geskiedenis kyk sien ons ‘n stroom van ellende. Ook steeds weer die dood en die oorlog en die dreiging van oorlog. As jy na di geskiedenis kyk en jy let daarop wat nou op die wêreld gebeur, kan jy nie optimisties wees nie. Dan is dit onmoontlik om in die ewolusie te glo nie. Ons maak net meer wapens en ook wapens waarmee ons meer mense in een keer kan doodmaak. Dit is verskriklik!

As ons net na die mense kyk is die toekoms donker. So diep donker. Juis as jy dit raaksien is dit so goed om nog ‘n keer na Openbaring 4 en 5 te kyk. Ons het gesien in die vorige mymering dat Christus vir Johannes en so ook vir ons God se troon in die hemel wys. Die troon van Hom wat die enigste God is. Die troon van Hom wat in alles goed is. Die troon van Hom wat die Almagtige is. Hom tref nie enkele skuld vir die ellende, die onreg, die moorde, die uitsigloosheid, die dood wat op die aarde heers nie. Ons het in die wêreld gebring het. Ons het daarvoor gekies om na die duiwel te luister en teen God op te staan. Dit is die oorsaak vir alle ellende wat oor ons in hierdie wêreld is en kom.  

Die geskiedenis gaan op eie krag ons en die wêreld geen hoop en uitsig gee nie. Ook nie die toekoms nie as ons daarvoor sou moet sorg. Dit word duidelik as ons in Openbaring 5 lees:  “Ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit 'n boekrol gesien, aan die binnekant en die buitekant vol geskryf, en met sewe seëls goed verseël. Ek het ook 'n sterk engel gesien, wat met 'n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?” Niemand – nie in die hemel, nie op die aarde, nie onder die aarde – was egter in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie. Ek het baie gehuil, omdat daar niemand gevind kon word wat waardig is om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie.”

Sonder Christus se werk, sonder Christus as die Verlosser en Koning van die konings is ons bestaan sonder hoop. Dan kan daar net hartseer en hopeloosheid wees.  Die boekrol is naamlik die geskiedenis wat tot sy doel moet kom. Sonder Christus gaan die geskiedenis nie op pad na die nuwe hemel en aarde nie. Net Christus en die glo in Hom bring ons na die wêreld waar alle ellende verdwyn het. Daaroor die volgende keer meer.              

 

MYMERING VI

 

Ellende, hartseer, dreiging, oorlog. Onrus in ons lewe. Die dood lyk alles sinloos te maak. Johannes huil. Niemand op aarde is dit werd om die boekrol oop te maak nie. Dit lyk asof op aarde die geskiedenis op geen enkele manier ‘n goeie draai kan maak nie. Geen toekoms, geen pad regtig vorentoe nie. As ‘n mens net op mense let, is die toekoms net donker. Johannes huil want dit lyk asof Jesus Christus se werk nie gehelp het nie. Ons leer hier in die eerste plek dat ons as mense nie vir ‘n goeie toekoms kan sorg nie. Ons groei nie toe na ‘n toekoms van volmaakte vrede. Ons groei nie deur die wetenskap en kennis van mense  na ‘n wêreld sonder hartseer, sonder siekte en sonder dood nie toe.

Nogtans kom die wonderlike! Die heerlike werk van God. Ons lees naamlik in Openbaring 5:5-7: “Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.”6En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, 'n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. En Hy het nader gegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.”

Die Een wat meer as net ‘n mens is. Hy wat deur die Vader as God se Lam na die aarde gestuur is en die werk as Verlosser op aarde tot op die kruis gedoen het, Hy het verdien  dat God se toorn verdwyn vir hulle wat by Hom vergifnis en nuwe lewe soek. In Hom is ons toekoms seker as ons vir Hom, vir Christus lewe. Ons hoef nie wanhopig en radeloos te wees nie. Ook nie in ‘n tyd vol hartseer en dreiging nie. Baie is onseker maar een ding is vas en seker dat Christus die boekrol geneem het. Dat die geskiedenis in Sy hand is en dat Hy daarvoor sorg dat die toekoms vol van alles wat goed is vir God se kinders vir ewig kom. Vir die skepping wat juis uitsien na die oomblik dat Christus terugkom en duidelik word wiet al God se kinders is. Ons lees in Romeine 8: “Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. 1Want die skepping is onderwerp aan 'n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God.” Vs 18-21

Christus is ons hoop en sekerheid dat God se volk met die heerlikheid van Sy hele skepping eendag in volle heerlikheid sal deel. Vir ewig. Danksy Christus! Die volgende keer nog ’n bietjie meer.