KERKREG: EEN IS ONS MEESTER

 

As mense van Kerkorde en Kerkreg hoor skrik dit hulle dikwels af. Dit is iets waarvan hulle voel dat dit ver van hulle afstaan en dat dit iets vir enkele deskundiges is. Die woorde Kerkode en Kerkreg kan mense ook laat skrik want hulle het baie slegte ervaringe met die Kerkorde. Kerke wat vir die waarheid van God se Woord gestry het, het dikwels juis vanweë in naam van die kerkreg ervaar dat hulle uitgewerp, geskors, afgesit en al hulle besittings kwytraak.

Sulke ervarings kan mense bang vir ‘n kerkverband en dan ook vir ‘n kerkorde maak. As die kerkreg ‘n saak van baie reëls en wette word en selfs aktuarisse nodig is om te kan uitmaak wat kerkregtelik reg is, het dit ‘n saak van deskundiges geword. Dan het dit ‘n juridiese saak geword met allerhande tegniese slaggate en nie meer die eenvoudige reg van Christus in die kerk nie.

Ek wil  vir julle wys dat kerkverband en kerkorde goeie sake is waartoe Christus ons roep. Dan is kerkreg nie ‘n ingewikkelde saak nie maar die eenvoudige reg van Christus wat ons almal kan verstaan. Dan sien ons dat dit vir kerke wat  Christus volgens Sy Woord wil volg nooit ‘n bedreiging kan wees nie. Dit is dan juis ‘n ekstra beskerming en as dit ‘n bedreiging vir die waarheid word, kan die plaaslike kerk die band verbreek sonder dat dit invloed op daardie gemeente het.

 

Die begin van die gerformeerde kerkverband in Nederland en Suid-Afrika[1]

 

Ek wil eers met julle teruggaan na die eeu van die Reformasie. Toe Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap aangekom het, het Christus se kerk in ons geliefde Suid-Afrika gekom. Die Kerk in die Kaap was deel van die Gereformeerde Kerke in Nederland. Hoe het hierdie kerke mekaar gevind en volgens watter Skriftuurlike reëls het hulle in ‘n kerkverband saamgeleef.

Christus het daarvoor gesorg dat  die ware evangelie ook in Frankryk en die Nederlande verkondig word. Ook hier ontstaan teen die Roomse kerk weer ware kerke van Christus. Daar ontstaan weer ware gereformeerde kerke. Die groot probleem is dat die kerke in die Nederlande nie mag bestaan nie. Hulle word vervolg. Dit is ook daarom dat die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis Guido de Bres in 1567 in Valenciennes die marteldood sterf.  Vanaf  1568 woed die tagtigjare oorlog in die Nederlande. Die gevolg van die vervolginge is dat baie gereformeerdes uit die Nederlande vlug. So ontstaan daar Nederlandse vlugtelinge gemeentes onder andere in Londen, Frankental en Embden. Die gemeentes wat daar in die Nederlande is word die kruiskerke genoem. Dit is vanweë die vervolging baie moeilik om as kerke in ‘n kerklike vergadering saam te kom. Dit is ook daarom dat die eerste Algemene Sinode van die Nederlandse Kerke buite Nederland in Duitsland gehou word. Hierdie sinode is in 1571 in Embden gehou.

Die voorbereiding vir hierdie vergadering het drie jaar daarvoor plaasgevind in Wesel. Ook in Duitsland. Een van die kenmerke van die vergadering waar die kerkverband van Gereformeerde Nederlandse Kerke ontstaan het, is die sterke afwysing van elke oorheersing van persone en van kerke oor mekaar.

Opvallend is o.a. dat die eerste artikel van die Handelinge van die Sinode van Embden lui: “Geen kerk mag oor ‘n ander kerk, geen dienaar van die Woord, geen ouderling en diaken, mag die een oor die ander heerskappy voer nie maar enigeen moet hom vir die verleiding om heerskappy te voer wag.”

In  Kerkorde van die vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika is daar nog ‘n duidelike herinnering aan hierdie woorde in art 83: “Geen kerk mag oor ander kerke, en geen ampsdraer oor ander ampsdraers, op watter manier ookal, heers nie.’

Hoekom was hierdie woorde toe en is hulle vandag so belangrik? Laat ons eers teruggaan na die tyd dat ons vaders besig was om Christus se kerke in ‘n kerkverband te verenig.

As die broeders in 1568 in Wesel saamkom, gedra hulle hul nie as mense wat alles self nog moet uitvind nie. Hulle let op voorbeelde van gereformeerde kerke in ander lande wat al ‘n kerkverband gevorm het. ‘n Belangrike voorbeeld vir hulle was die kerkorde wat vanaf 1559 deur die Franse gereformeerde kerke vasgestel is. Hierdie kerke het veral weer gekyk na dit wat in Geneve waar eers Calvyn en later Beza ‘n baie belangrike posisie ingeneem het, gereël het.

Nogtans was ons voorvaders nie slaafse navolgers nie. Hulle het ook met hulle eie onderskeidingsvermoë en insig gewerk. Die broers wat daar saamgekom het, het in die jare wat agter hulle lê gesien hoe gevaarlik en sleg dit is as predikante probeer om oor die gemeente te heers.[2]  As die konvent van Wesel twee lyste opstel van sondes waarvoor veral leraars moet uitkyk, sluit Wesel aan by die Kerkorde van Geneve. Twee lyste word opgestel waarvan die een sondes noem wat in ‘n leraar nie verdra mag word nie. Die ander is ‘n lys van sondes wat aan ‘n leraar vergewe kan word maar waardeur hy wel strafwaardig geword het.

Die Nederlandse broers voeg aan die eerste lys toe dat ‘n leraar “nie openlik na heerskappy oor die kerk en sy ampgenote mag streef nie.”

Aan die tweede lys voeg hulle toe: “eersug en ydele roem en die in die geheim daarna streef om heerskappy oor die kerk of mapgenote te voer.”

Die konvent van Wesel het baie duidelik die gevaar van die heerskappy van leraars gesien en dit afgewys.

Die beginsel is dat Christus Here en Meester is. Hy en Sy Woord moet in alles as die hoogste norm geeerbiedig word. Dit is ook daarom dat die konvent van Wesel van die leraars o.a. uitspreek: “hulle is in die diens van ons Here Jesus Christus op geen enkele manier eie meeste nie.” (IV,12)

Na die konvent Wesel wil meerdere kerke nou werklik tot ‘n gereformeerde kerkverband kom. Die konvent van Wesel was nog nie ‘n Sinode nie dit was ‘n konvent wat nie bindende besluite kon neem nie.

Ons moet mooi bedink dat die gereformeerde kerkverband  nie sonder besware en teenstand  tot stand gekom het nie. Onder gereformeerdes was daar toe ook angs vir ‘n kerkverband. Verskillendes meen dat dit weer die slawerny van die plaaslike kerke aan ‘n hoër gesag sal terug bring. Hulle is bang dat die tyd van die Pous en die Roomse kerk weer sal terugkeer. Hulle is bang dat ‘n Sinode die plek van die Pous sal gaan inneem. Die kerke wat  hulle inspan om in 1571 die Sinode in Embden saam te bring, kry teenstand. Daar moet baie gepraat[3] en geskryf word. Die gereformeerde kerk in Embden self is nie enthousiasties oor die idee van ‘n sinode en ‘n kerkverband. Hierdie gemeente hou hom dan ook afsydig al word die sinode in hulle eie stad gehou. ‘n Ander deel van die Nederlandse Kerke wat probleme met hierdie vergadering het is die Hollanders.

‘n Invloedrijke Hollander Laurens Jacobz. Reael  sien  die planne vir ‘n Algemene Sinode as ‘n plan om na die bevryding van die Nederlande die ware kerklike en geestelike vryheid weer in te perk. Hy noem dit die nuwe pousdom en  saam met ander Hollanders sien hy dit net as menslike instellings.[4] Dieselfde geluide was ook al daar by die vorming van die kerkverband van die Franse gereformeerde Kerke. Die aanvoerder van die beswaarmakers was in Frankryk: Morily. Hy en sy volgelinge wil dat elke plaaslike gemeente as ‘n demokrasie funksioneer.[5]

Die brief waarin kerke na die Sinode van Embden genooi word, beklemtoon dadelik al dat  die gesamentlike oorleg en die besluite wat daar geneem sal word nie die doel het om oor ander te heers nie.[6] Dit maak ook die laaste artikel van die Handelinge van die sinode van Embden duidelik. Daar word die volgende gesê: “Deze artikelen de  wettelijke en behoorlijke orde der kerken betreffende, zijn alzo met gemeen akkoord gesteld, dat ze (zo het de nuttigheid der kerken vereist) veranderd, vermeerderd en verminderd mogen en behoren te worden. Nochtans zal het geen bijzondere kerk vry staan, zulks te doen. Maar alle kerken zullen arbeiden deze te onderhouden, totdat in een synodale vergadering anders besloten word.”

Ons sien op die Sinode van Embden dat die selfstandigheid van die plaaslike kerk beklemtoon word sonder dat dit die roeping en funksie van die kerkverband ondergrawe. Dit is nou belangrik om na die Skriftuurlike gronde vir die selfstandigheid van die plaaslike kerk en die roeping tot kerkverband te kyk.   

 

Die plaaslike kerk volledige kerk

 

Dit is belangrik om te sien dat elke plaaslike kerk ‘n volledige, komplete kerk is. Ons sien dit raak as die apostels volgens Christus se bevel die wêreld oorgaan om die evangelie te verkondig. Dit is dan nie so dat in elke plek gemeentes gevorm word wat deel van die moederkerk Jerusalem is nie.

Nadat ‘n groot vervolging in Jerusalem gekom het en die gemeente oor Judea en Samaria verstrooi word, ontstaan in die hele land gemeentes. Die Here gebruik hierdie vervolging om daarvoor te sorg dat ‘n deel van Sy woorde  in Hand 1:8 werklikheid word: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria  en tot aan die uiterste van die aarde.”

Ons lees in Handelinge 9 hoe daar in  die hele Joodse land kerke van Christus ontstaan het: “En die gemeentes deur die hele Judea en Galilea en Samaria het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.”

Elke gemeente is ‘n volledige kerk van Christus. Die gemeentes het almal hulle eie ampsdraers wat hulle eie taak in daardie gemeente het. Ons lees dat as Paulus die evangelie in verskillende plekke verkondig het en die Here seën dit so dat ‘n gemeente ontstaan hy en sy medewerkers die volgende doen: “En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, na gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.”

Ons sien ook dat  die apostels as hulle briewe skryf die gemeentes as volledige kerke eerbiedig. Hulle spreek die gemeente self aan op dit wat daar gebeur. Paulus en die ander vermaan die plaaslike kerk as daar sondes is en roep daardie kerk op om op daardie punt hulle lewe te verander.

Ek noem net twee voorbeelde:

“Paulus, ‘n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Efese is, en die gelowiges in Christus Jesus: Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus.” Efese 1:1,2

“Paulus en Timoteus, dienskengte van Jesus Christus, aan al die heiliges in Christus Jesusw wat in Filippi is, saam met die opsieners en diakens: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus.”

Somtyds word in een brief meerdere gemeentes aangespreek. Dit gebeur dan sonder dat Paulus die een gemeente bo die ander stel. Elkeen moet in eie gemeente die gesag van die Woord aanvaar en daarvolgens besluite neem. ‘n Voorbeeld daarvan die die brief aan die Galasiërs wat so begin: “Paulus, ‘n apostel nie vanweë mense of deur ‘n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader wat Hom uit die dode opgewek het, en al die broeders wat by my is –aan die gemeentes van Galasië: Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus.”

Die Here Jesus Christus is self die groot voorbeeld hoe Hy in die aanspreek van gemeentes wys dat elke gemeente ‘n volledige kerk van Hom is. Christus roep Sy apostel Johannes op die eiland Patmos om die boek Openbaring te skryf. Hierdie boek, hierdie openbaring van Jesus Christus moet in die eerste plek aan 7 afsonderlike gemeentes gestuur word: “Efese en Smirna en Pergamus en Thiatire en Sardis en Filadelfia en Laodicea.” (1:11)

Dan volg in hoofstuk 2 en 3 vir elke gemeente ‘n aparte brief vir elke gemeente. Dit is Christus as die Koning van die kerk self wat elke gemeente op sy swak en sterk punte wys. Die gemeentes self word deur Christus aangespreek om sekere sake in die gemeentes te verander. Die gemeentes self word aangespreek om hulle wat in leer en lewe dwaal en sondig te tug. ‘n Voorbeeld daarvan is wat Christus vir die gemeente van Pergamus skryf: “Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bileam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer. So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaiete, wat Ek het haat. Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.” Openb 3:14-16.

Dit maak duidelik dat elke plaaslike gemeente ‘n volledige gemeente van Christus wat. Elke gemeente staan in volle verantwoordelikheid voor Christus. Dit is ook daarom dat Paulus in 1 Korintiërs 12  as hy praat van die eenheid van die ligaam in vers 27 kan skryf: “Maar julle is die liggaam van  Christus en lede afsonderlik.”

Die Heilige Gees noem ‘n afsonderlike gemeente Christus se liggaam. Dit is dus duidelike dat elke plaaslike gemeente ‘n volledige gemeente van Christus is met daardeur ‘n eie verantwoordelikheid teenoor Christus as die Koning van die kerk.

Dit verklaar ook dat in die gereformeerde kerke in die geskiedenis steeds weer gesê is dat die die kerkverband nie die wese van die kerk is nie maar by die welwese daarvan behoort. Ek kom hierop later nog terug.

 

Plaaslike kerk selfstandig

 

Ek het  in die gedeelte waarin daarop gewys is dat elke gemeente ‘n volledige kerk van Christus is eintlik al die belangrikste gesê hoekom elke plaaslike kerk selfstandig is.

Elke gemeente is selfstandig want hulle het van die Here ampsdraers ontvang wat saam die gemeente moet regeer. Let ook daarop hoe ons in artikel 30 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely dat die kerkraad die ware kerk, dit is die plaaslike gemeente regeer. Ek haal om dit duidelik te maak hier die hele artikel aan:

“Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en oordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee.”

Hier sien ons raak hoe ook ons belydenis wys dat die wese van die kerk in die plaaslike kerk lê waar Christus ampsdraers aangewys het wat in Sy diens Sy gemeente moet regeer. Ons moet dan ook sê dat die kerkverband nie die kerk is nie. Dit is nie die kerkverband wat daarvoor sorg dat die ware prediking van die evangelie gehoor word nie, dat die sakrament so bedien word soos Christus wil nie, dat die tug op die regte manier uitgeoefen word nie. Dit is die plaaslike kerk onder die regering van die ampsdraers wat daarvoor sorg. Die wese van kerk wees lê in die plaaslike kerk en dit maak duidelik dat die plaaslike kerk selfstandig is.

As ons al hierdie dinge gesê het kom die vraag of kerkverband dan onbelangrik is. Om hierdie vraag te kan beantwoord wil ons eers die vraag beantwoord of elke plaaslike kerk outonoom is.  

 

 

Plaaslike kerk nie outonoom nie

 

Outonoom is meer as selfstandig wees. Outonoom beteken dat jy heeltemal op jouself staan en dat jy jou eie baas is. Jy staan los van alles rondom jou.Daar is verskillende redes hoekom ‘n gemeente wel selfstandig is maar nooit outonoom mag wees nie. Ek noem daarvoor enkele redes:

  • Die kerk is in al sy dele aan Christus en Sy Woord gebind. ‘n Gemeente mag nooit sy gesag in homself soek nie. Hier en vir alles wat ons oor kerkregering en kerkverband sê is baie belangrik wat ons in Matteus 23:8-12 lees:

“Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.”

Die gemeente wat volgens eie demokratiese siening en gedagtes wil leef, is besig om homself te verhoog. Die gemeente is besig om geen slaaf van Christus te wil wees nie. Die kerk se eer en bestaansreg lê juis in die volg van Christus en in alles onderdanig en gehoorsaam wil wees aan Sy Woord. Ons bely in ooreenstemming daarmee in artikel 32 van die Nederlandse Geloofsbelydenis:

“Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ‘n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wys van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.”

  • Dit mag nie so wees dat Christus se kerke los van mekaar bly staan nie. Die verskillende gemeentes vind in Christus as hulle Koning en Verlosser hulle eenheid. Hulle is saam Sy volk. Die eenheid in Christus wat die verskillende gemeentes het sien ons o.a. in Openbaring 1. Dit is Christus wat daar die opdrag gee dat die boek Openbaring na die sewe gemeentes gestuur moet word. Sy Woord is vir alle gemeentes van die grootste belang. As Christus dit gesê het sien Johannes o.a. die volgende: “en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel.” (12,13) Die sewe kandelaars staan nie los van mekaar nie omdat Christus tussen hulle stap. Sonder Hom kan hulle nie regte kandelaars wees wat die ware lig versprei nie. Hulle moet aan Christus as die lig van die wêreld verbind wees om die ware lig te versprei. Kerke wat in die lig van Christus staan wil mekaar dan ook help. Wil mekaar help om in hierdie lig te bly staan. Wil mekaar help met dinge wat beter saamgedoen kan word. Wil mekaar help om die Woord van God  al hoe meer in Sy rykdom te verstaan. Gemeentes mag hulle nie op hulleself hou nie. Hulle moet mekaar soek. Die band aan Christus sorg daarvoor dat ons nie die voorgeslag vergeet wat die HERE gedien het nie en ook nie die wysheid en kennis ignoreer wat in ander gemeentes is wat die HERE in waarheid en liefde dien nie. Hier kan ons dink aan dit wat Paulus in Efesiërs 3 skryf: “sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en hoogte is,  en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.” 17-19
  • Christus se kerke het die roeping om mekaar te help, om na mekaar in liefde om te sien. Dit beteken dat ‘n gemeente nie outonoom is nie. Vanuit die band aan Christus moet ook die band met ander gemeentes sigbaar word en beoefen word. Daarom is kerkverband vir Christus se kerke ‘n roeping.

 

Hoe ontstaan kerkverband?

 

Dit is weer belangrik om te sien hoe die kerke in die tyd dat die apostels die evangelie verkondig gefunksioneer het. Dit het nie by ‘n kerkverband begin nie. Dit is nie so dat ‘n sekere kerkverband homself uitgebrei het nie. Die apostels het die evangelie van Christus verkondig in ‘n sekere plek. So het gemeentes ontstaan wat later mekaar se hulp gaan soek het. Kerke het hulle later vir sekere sake by mekaar aangesluit.

Dieselfde sien ons in die tyd van die Reformasie gebeur. Dit is nie so dat ‘n kerkverband homself uitbrei nie. Nee, deur die verkondiging van die ware leer teenoor die leer van die valse kerk ontstaan kerke wat regtig kerke van Christus is. Hulle soek mekaar vanuit die gesamentlike binding aan Christus, vanuit hulle gesamentlike binding aan die waarheid.

Die kerkverband is gegrond in die waarheid. As die gesamentlike binding aan die onfeilbare Woord van God en die belydenisskrifte wat daarmee in alles ooreenkom nie meer daar is nie is daar nie meer ‘n ware kerkverband nie. Dit is daarom ook ‘n pragtige gebruik dat by die begin van elke meerdere vergadering die afgevaardigdes moet gaan staan om met die Belydenisskrifte van die kerk instemming te betuig. Ons eenheid lê in Christus en in Sy leer!

Die Kerke wat  die waarheid leer en verkondig soek as selfstandige kerke mekaar. Deur die gesamentlike liefde vir die waarheid ontstaan dan ‘n liefdesverbond van Kerke. Dit is ook daarom  dat ‘n gereformeerde kerkverband ontstaan deurdat Kerke deur ‘n vrywillig keuse hulle by die kerkverband aansluit. Dit wys vir ons dat as iewers ‘n gemeente ontstaan daardie gemeente eers geinstitueer moet wees. Dan is dit die kerkraad wat  die keuse vir die kerkverband moet maak. Hierdie gemeente behoort nie outomaties by die kerkverband nie maar moet self  vra om tot die kerkverband toegelaat te word.

‘n Ander saak wat hiermee saamhang is die sogenaamde kerkvisitasie. Die kerkvisitasie wat in art 44 van die K.O. gereël is, het die volgende doel: “Die visitatore sal ondersoek of die ampsdraers elkeen afsonderlik en gesamentlik hulle ampte getrou vervul, hulle by die suiwer leer hou, die aanvaarde orde inn alles nakom en die opbou van die gemeente na die beste van hul vermoë met woord en daad bevorder. Die doel van die visitasie is om ampsdraers by wie nalatigheid bemerk word, betyds te vermaan en ook om met raad en daad saam te werk aan die vrede, die opbou en welsyn van die kerke.”

Die doel van visitasie by ‘n plaaslike kerk is om die ander te help. Om as die ander kerk besig is om in ‘n verkeerde rigting te beweeg of  in die genade te veragter weer op die spoor van die Gees te laat stap.

Die verslag van die visitatore moet ook vir die kerkverband wys of  ons volgens hulle ondersoek nog met ‘n ware kerk van Christus te make het.  As hierdie kerk die spoor van Christus byster geraak het en daarna nie wil terugkeer nie sal die kerkverband moet uitspreek dat met hierdie gemeente nie meer saamgeleef kan word en dat daardie gemeente nie meer deel van die kerkverband uitmaak nie. Ons sien ook by die ontstaan van die gereformeerde Kerkverband van die Nederlandse Kerke die groot belang van eenheid van die geloof, die eenheid wat ook in die binding aan die Belydenis vaslê. Die tweede artikel van die Sinode van Embden is naamlik:

“Om die eendrag in leer tussen die Nederlandse Kerke te bewys, het dit die broeders geodgedink om die belydenis van geloof van die Nederlandse Kerke te onderskryf en om ook die belydenis van die kerke in Frankryk te onderteken om daarmee hulle verbintenis en eenheid met die Franse Kerke te wys. Dit in die vertroue dat die dienaars van die Franse Kerke ook van hulle kant die belydenis van die geloof van die Nederlandse Kerke eengesind sal onderteken.”  

Die kerkverband is ‘n verband van selfstandige gemeentes wat saam in die leer wat die Gees van die waarheid leer hulle eenheid vind en dit het  gevolge vir die ontstaan en die leef in die kerkverband.

 

Ons maak in die kerkverband afsprake

 

Die kerkverband is nie die kerk nie maar nogtans is dit nie so dat die kerkverband niks is nie. As die kerke in die kerkverband saamkom, maak hulle afsprake hoe hulle mekaar sal help in die dinge wat beter saamgedoen kan word en hoe hulle mekaar kan help om by die leer van Christus te bly. Die kerke bind mekaar dan ook aan die gesamentlike afsprake. Dit is daarom dat die kerke in die kerkverband vir mekaar in art 31 van die K.O. belowe: “Die uitspraak wat met meerderheid van stemme aanvaar is, sal as bindend aanvaar word, tensy daar bewys word dat dit in stryd is met die Woord van God of met die Kerkorde.” Hier sien ons weer dat God se Woord die norm vir die Kerke in die Kerkverband is, ook vir hulle kerkverbandelike saamleef. Dit beteken ook dat in ‘n gereformeerde kerkverband nie ‘n wetboek kan en mag ontstaan nie. Ons moet altyd weer daarop let dat ons mekaar nie meer bind as nodig is nie. Nie meer bind as wat die Woord ons bind. Hier geld ook wat ons in artikel 32 van die NGB in ooreenstemming met die Skrif bely  oor ‘n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk:

“En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die wetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou.”

Ons maak as Kerke in ‘n Kerkverband afsprake om saam te groei en saam op die beste manier Kerke van Christus in ons omgewing te wees. Ons het mekaar nodig. Ons het die gawes wat Christus in verskillende Kerke gegee het nodig.

Dan kan ons sonder om op enige manier hierargies te wees of te word sê dat Christus Sy bloed ook vir die kerkverband gegee het.        

 

Meerdere vergaderings

 

Ek wil nou  ‘n paar prinsipiële lyne wys wat die karakter en gesag van die meerdere vergaderinge raak. Ons behandel dan dadelik die gesag van die kerkverband.  Ek wil dan ook graag nog weer kyk na die geskiedenis, na die begin van die kerkverband van Gereformeerde Kerke in Nederland.

Voordat ons teruggaan in die geskiedenis wil ek ‘n sekere opmerking en vraag wat ‘n mens somtyds hoor, beantwoord. Broers en susters vra somtyds of die kerkverband soos ons dit ken wel effektief genoeg is. Is dit nie so dat hierdie kerkverband baie meer by die 16e en 17e eeu pas as by die 21e eeu?

Die kritiek is dan veral dat daar nie ‘n permanente kommissie is wat allerhande sake in die Kerke reël of kan reël as dit skielik opkom nie. Ons moet mooi onthou dat dit nie te doen het met die 16e of die 21e eeu nie. Dit gaan  daarom wat die beginsel vanuit die Skrif vir die kerkverband is.

Ons het al gesien dat die Kerkverband nie die Kerk is nie. Die kerkraad is die enigste vergadering van ampsdraers en is die enigste vergadering  wat permanent is. ‘n Sinode, partikuliere sinode of klassis waarin meer kerke saamkom, mag net die sake behandel wat kerklik is en nie deur die kerkraad of ander mindere vergadering afgehandel kon word nie. Die oomblik dat ‘n meerdere vergadering sy agenda afgehandel het, bestaan die vergadering nie meer nie. Dan bestaan ook die moderame nie meer nie en het hulle nie meer ‘n enkele gesag nie. Dit het daarmee te doen dat elke plaaslike kerk selfstandig is en bly en net daardie ampsdraers as onderherders van Christus funksioneer. Dit is ook daarom dat vanuit die gereformeerde kerkreg ‘n permanente Sinodale kommissie om sake tussen twee Sinodes te reël en te besluit veroordeel word. ‘n Meerdere vergadering is ‘n vergadering van afgevaardigdes van meerdere selfstandige kerke wat vir vasgestelde sake saamkom en nie meer nie.

 

Iets uit die geskiedenis

 

Die tagtigjarige oorlog het in 1568 in die Nederlande begin. Die Prins van Oranje lei die oorlog teen die koning van Spanje wat die Nederlande in die greep van die valse Roomse leer wil hou. Een van die Prins se vertrouelinge en raadgewers is Marnix van Sint Aldegonde. Marnix was toe ‘n vooraanstaande gereformeerde. Hy verskyn dan ook op verskillende kerklike vergaderinge en is dikwels ook die verbindingsman met die Prins. Die Prins sien saam met Marnix die groot belang van ‘n verband van Gereformeerde Kerke. Marnix skryf in 1570 saam met Gasper van der Heyden ‘n brief wat die ander Kerke die belang van ‘n Kerkverband moet wys. Hulle skryf hierdie brief namens die kerke van Heidelberg en Frankenthal. Marnix en Gasper van der Heyden, die laaste word die voorsitter van die Sinode van Embden!,  maak in hulle brief o.a. ‘n voorstel om ‘n gesamentlike fonds te stig waaruit broeders versorg word wat  predikant wil word en waaruit predikante wat diens doen betaal sou word. Die Sinode moes volgens hierdie brief dan ook ‘n deputaatskap aanwys wat sou reël waar predikante hulle bediening moet uitoefen en wat predikante kan skuif. Dit was volgens hulle een van die redes om “alle gemeynten der Nederlanden tot eenen lichaeme in te lijven, opdat sy met eenen gelijcken voet nae de opbouwinge der Kercken Godes trachten”.

Die opvallende is dat die Sinode hierdie voorstel van die belangrike Marnix van Sint Aldegonde en haar eie voorsitter nie  aangeneem het nie. Die rede hiervoor was dat die Sinode van Embden as meerdere vergadering vanuit die beginsels van die kerkreg wou waarborg dat die selfstandigheid van die plaaslike kerk by die beroeping en versorging van predikante geëerbiedig bly. Hulle het bewaak dat nie die gedagte kon ontstaan dat die kerkverband die kerk is en so die hierargie ‘n kans sou kry nie. Dit het alles te doen met die karakter van die meerdere vergaderinge. Ons sien hier dat binne ‘n kerkverband van kerke van Christus nie  wat volgens ons effektief  is nie en wat stry met die beginsels van Christus se reg beslissend mag wees nie. Ons mag God se seën verwag as ons ons aan Sy Woord hou al lyk dit in ons oë minder effektief.         

 

Wat is ‘n meerdere vergadering?

 

Die Dordtse Kerkorde praat van meerdere en mindere vergaderings. Dit wek by mense dikwels die indruk dat dit hier gaan om minder en meer belangrike vergaderings. Dat dit hier gaan om vergaderings met meer en minder gesag. Dit is op geen enkele manier die bedoeling nie.

Die woorde mindere en meerdere wys op die minder of meerdere aantal kerke wat in so’n vergadering verteenwoordig is. Dit wys vir ons ook wat die karakter van hierdie meerdere vergaderings is. Dit is ‘n vergadering van kerke wat saamkom.

Dit is nie ‘n vergadering van ampsdraers nie. Dit is nie ‘n vergadering wat beklee is met die ampsdraers se gesag nie.  Die ampsdraers wat Christus in die plaaslike kerk aangewys het, het as ampsdraers geen gesag buite hulle eie gemeente nie.

Die enigste vergadering waarin die ampsdraers as ampsdraers saamkom is die kerkraad. Die ampsdraers mag net in eie gemeente as ouderling, diaken of leraar optree. Dit geld ook vir ‘n leraar. Hy kan op versoek in ander gemeentes die Woord bedien maar hy het daarmee nie ‘n ampsdraer van die ander gemeente geword nie.

Dit wat ons nou gesê het, het ook betekenis vir die vraag wat die gesag van die meerdere vergaderings is.

 

Wat die gesag van ‘n meerdere vergadering is

 

Ek wil by hierdie punt eerste aandag vra vir artikel 35 van die Kerkorde van die Vrye Gereformeerde Kerke en art 36 van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke. Dit is by Vrye Gereformeerde Kerke so geformuleer: “Die klassis het die bevoegdheid om regsgeldige uitsprake te doen ten opsigte van die kerkraad. Dit geld ook vir die partikuliere sinode ten opsigte van die klassis en vir die algemene sinode ten opsigte van die partikuliere sinode.”

Ons lees in art 36 van die Gereformeerde Kerke se Kerkorde. Die formulering daar sluit nader aan by hoe dit in die sestiende eeu was: “Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.”

As ‘n mens dit lees kan maklik die indruk ontstaan dat dus die sinode tog die hoogste vergadering is wat oor alles heers.  Hierdie artikel word ook wel misbruik om die meerdere vergaderings hoër gesag te gee en te sê dat hulle die reg het om ampsdraers en selfs hele kerkrade te skors en af te sit.

Nogtans is dit verseker nie wat hierdie artikel wil sê nie. Dit word duidelik as ‘n mens weer na die ontstaan van die kerkverband kyk, as jy noukeurug kyk wat hier staan en dat dit onmoontlik is as ‘n mens die beginsel van die selfstandigheid van die plaaslike kerk bly eerbiedig.

Eerste nog ‘n enkele verwysing na die geskiedenis.

Ons gaan weer terug na die Konvent van Wesel in 1568. As hulle oor die kerkverband praat  beklemtoon hulle dat as meerdere vergaderings ontstaan hierdie vergaderings net afgeleide gesag het. Hulle kan net gesag ontvang oor dinge waarvan die kerkrade sê dat dit deur ‘n meerdere vergadering besluit kan word. Daarvoor is nou juis ‘n kerkorde nodig om daarin die afsprake te maak. Die broeders daar doen die volgende uitspraak:

“Ons oordeel dat aan ‘n klassis geen enkele reg oor enige kerk of haar dienaars gegee moet word, behalwe as hulleself daarin bewillig het om daarvoor te sorg dat die kerk nie teen haar sin in van haar reg en gesag beroof word nie.”

Die klassis Nymegen spreek in April 1613 uit: “Die afgevaardigdes na die Sinode sal by die Sinode nie daaraan saamhelp om besluite te neem wat die Skriftuurlike vryheid van kerke en dienare aantas.”

‘n Tweede rede wat duidelik maak dat hierdie artikel nie ‘n sinodale of sinodokratiese manier van kerkregering bedoel, is die verskil in gesag van die kerkraad oor die gemeente en die van die ander vergaderings oor mekaar.

Kyk nog weer saam met my na hierdie artikel. Die opvallende is dat die gesag wat die vergaderinge oor mekaar het nie vergelyk word met die gesag wat die kerkraad oor die gemeente het nie. Die klassis het dus nie dieselfde gesag oor die kerkraad as wat die kerkraad oor die gemeente het nie! Hier sien ons hoe hierdie artikel juis deur wat hierdie artikel met opset nie sê nie wys dat die gesag van ‘n meerdere vergadering nie gelykstaan met die gesag wat die kerkraad van Christus ontvang het nie. Die meerdere vergaderings het afgeleide gesag wat die kerke aan hierdie vergaderings gegee het.

Ons sien hier weer hoe die selfstandigheid van die plaaslike kerke geeerbiedig word.

Nou is dit belangrik om die gesag van ‘n meerdere vergadering nie te gaan minimaliseer nie. Dit is nie so dat  ‘n meerdere vergadering nie meer as een of ander konferensie is nie.  Dit is nie ‘n vergadering waar mense met mekaar praat, waar kerke mekaar enkele adviese gee en dan huis toegaan nie. Dit is ook nie so dat  ons as kerke na so’n vergadering gaan en as daar besluite geneem is ons daarmee kan doen wat ons wil nie.

Om mekaar regtig te kan help is dit nodig dat meerdere vergaderinge besluite kan neem. Wel moet hulle dan ook dink aan wat ons  vanuit art 32 van die NGB gehoor het. Die kerkorde mag nooit tot een of ander wetboek uitgroei nie. Daarin is die besluit van die vergadering in Jerusalem in Handelinge 15 vir ons ‘n baie goeie voorbeeld. Hierdie vergadering reël dit wat nodig is om saam as kerke in die eenheid van die geloof te bly leef  maar hulle lê nie verdere laste op. Dit is ook ‘n baie goeie voorbeeld as ons gaan praat oor die kerkverbandelike samewerking met die swart kerke wat vanuit die sendingwerk ontstaan. Die besluit van die vergadering Jerusalem wat spesifiek gegaan het oor hoe die Christene uit die heidene moet leef en of hulle al die wette wat die HERE deur Moses vir Israel op dieselfde manier moet, was die volgende: “Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goeddoen. Vaarwel.” (28,29)

Hierdie besluit van die vergadering in Jerusalem was nie net ‘n advies nie maar ‘n besluit wat deur Christus se kerke geeerbiedig moes word. Hierdie besluit was tot opbou van die gemeentes omdat dit in ooreenstemming met God se wil was. Dit is goed om oor sake wat ons as kerke gesamentlik raak  vanuit die God se Woord besluite te neem. Dit is goed om besluite te neem waardeur ons mekaar kan help. ‘n Voorbeeld daarvan is die opleiding van Dienaars van die Woord wat ons as kerke saam doen. Dit is goed om besluite te neem waardeur ons saam die hemelse leer van Christus in die kerke wil bewaar. Daarom is dit goed dat ons saam besluit watter Psalms en ander liedere ons in die eredienste mag laat sing. Ons kyk saam na die inhoud om so die waarheid te bewaak en te bevorder in die gemeentes. Ons hou ons ook aan die besluite wat nie stry met die Woord en die onderlinge afsprake in die kerkorde nie. So wil ons in die kerkverband dan ook in die vrede van Christus saamleef. So wil ons in die omgewing waar ons kerk is soveel as moontlik vir ons omgewing beteken.

Die gesag van ‘n meerdere vergadering lê dus in die gesag wat die kerke vir die vergadering gegee het en daarin dat die besluite in ooreenstemming met God se Woord is.

 

Het ‘n meerdere vergadering tugreg

 

Hierdie vraag is ‘n baie belangrike vraag omdat ons in die geskiedenis altyd weer die neiging sien dat kerkverbande die meerdere vergaderings  hierdie reg wil gee.

‘n Bekende voorbeeld daarvan is wat gebeur het in Nederland in 1926 met dr JG Geelkerken. Geelkerken het vir mense in die Gereformeerde Kerke die vryheid gevra om Genesis 2-3 as nie letterlik bedoelde geskiedenis te lees. Hy wou dat mense moes glo dat God alles geskep het, dat God alles goed geskep het en dat ‘n sondeval plaasgevind het. Maar dit moes moontlik wees volgens Geelkerke dat  mense die verhale hoe dit gebeur het nie letterlik hoef te neem nie.

Die gevolg was dat in die kerke onrus ontstaan het en hierdie saak in 1926 op ‘n nasionale sinode behandel word. Geelkerken word veroordeel en sy siening word as in stryd met die Skrif veroordeel. Dit is ook bekend dat Geelkerken  se eie kerkraad, die kerkraad van Amsterdam-Zuid,  agter hom staan. Dan besluit die Sinode van Assen om dr Geelkerken af te sit. Die veroordeling van dr Geelkerken se siening word deur almal ondersteun maar daar is enkeles wat nie met die afsetting deur die Sinode kan saamstem nie. Ander verdedig die Sinode met die argument dat dit terwille van die waarheid gedoen is. Ons sien later in die tyd van die Vrymaking hoe die Sinode die professore Schilder en Greydanus skors en afsit en hulle beroep hulle dan op die voorbeeld van dr Geelkerken in 1926. Dit wys volgens hulle dat ‘n meerdere vergadering die tugreg het.

Wie dit ernstig neem dat die kerkraad die enigste vergadering van ampsdraers is, kan nie daarmee saamgaan dat ‘n meerdere vergadering ‘n ampsdraer skors en of afsit nie.

Dit sê nie dat meerdere vergaderings niks met die tug in die kerke te doen het nie. Laat ons kyk hoe meerdere vergaderings wel by die tug betrokke is sonder dat hulle iemand self  onder tug kan stel, skors of afsit.

Hoe is ‘n meerdere vergadering by die tug oor lidmate in ‘n gemeente betrokke? As ons na ons kerkorde kyk lees ons die eerste keer in artikel 76 van ‘n betrokkenheid van ‘n meerdere vergadering by die tug. Ons lees in die laaste sin van hierdie artikel: “Niemand mag geekskommuniseer word sonder die instemming van die klassis nie.” Dit beteken nie dat die kerkraad nie die inisiatief en leiding oor die tugproses behou nie. As die kerkraad daarvan oortuig is dat ‘n broeder of suster in sonde leef, hou die kerkraad hom of haar van die sakramente af. Die stap daarna is dat, as dit om ‘n geheime sonde gaan,  in ‘n afkondiging aan die gemeente gevra word om te bid vir ‘n broeder of suster wat in die bepaalde sonde, wat genoem word, leef.  As daar geen bekering kom en sy of haar naam moet genoem word om die gemeente nog sterker in te skakel, moet eers die instemming van die klassis gekry word. Kyk art 77 K.O.

Wat is daarvan die bedoeling?  Die bedoeling is nie dat die klassis iemand gaan tug nie. Dit gaan daarom dat  die ander kerke kan hoor wat gebeur het en dat iemand nie sonder goeie redes verder op die pad van die tug gelei word nie. Hier tree die kerkverband as beskerming op. Dit gaan hier om ‘n so ingrypende saak dat dit goed is dat  broers wat meer op ‘n afstand staan adviese kan gee en ook kan sê dat dit so nie kan as daar verkeerde motiewe by ‘n kerkraad is.

Die meerdere vergadering is ook op ‘n manier betrokke as ‘n ampsdraer uit sy amp geskors of afgesit moet word. Ons lees hiervan in artikel 79:

“As predikante die kerklike vermaning verwerp, of as hulle ‘n openbare of  in ander opsigte ernstige sonde begaan, sal hulle geskors word op grond van die oordeel van hulle kerkraad en die van die naburige gemeente, soos deur die klassis bepaal.

Die klassis moet met advies van die deputate van die partikuliere sinode, soos in artikel 14 genoem, oordeel of hulle afgesit moet word.

As ouderlinge of diakens hulle aan een van die genoemde sondes skuldig maak, is die oordeel van hulle kerkraad en die van naburige gemeente, voldoende vir hulle skorsing of afsetting.”

Die kerkverband word hierby betrek. Die doel daarvan is weer om te help, om ook te kyk dat nie vanuit verkeerde motiewe of ‘n verkeerde beeld  gehandel word nie. Dit gaan hier om hulp en om die bewaking van Christus se reg in Sy kerk.

Wie mooi lees sien dat die meerdere vergadering op geen enkele manier self skors of afsit  nie. Instemming is nodig of ‘n klassis moet met advies van deputate van die partikuliere oordeel dat ‘n predikant afgesit moet word. Dit is dan die oordeel wat aan die plaaslike kerk oorgedra word en die skorsing of afsitting kan net deur die eie kerkraad gedoen word. Dit is dan daardie kerkraad se verantwoordelikheid. As die kerkraad dit nie doen nie sal die kerkverband die kerkraad daarop aanspreek en kan in die uiterste geval die verband met daardie kerk opgehef word.

Ons sien hoe goed dit is om saam te lewe in ‘n ware gereformeerde kerkverband. Dan help ons mekaar op die regte manier. Dan help ons mekaar in moeilike dinge, dan help ons ook mekaar om geen verkeerde dinge te doen.

Ons het mekaar nodig. Laat ons in ‘n kerkverband volgens God se Woord en volgens Christus se reg as kerke van Christus die eenheid in Christus beleef en uitleef. Onder ons enigste Meester: Jesus Christus.             

 

[1] ‘n Baie goeie oorsig en beoordeling van die begin van die gereformeerde kerkverband  van die nederlandse kerke en die invloed in Suid-Afrika is: dr Hannes Breytenbach:  Kerkverband in Suid-Afrika en  die Sinode van Embden 1571 In: Breytenbach, Hannes, e.a 1999 Kerkeenheid: Eenheid in die geloof p 33-51;  Teologiese Skool van die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

[2] ‘n Voorbeeld daarvan waar veral ds Godfried van Wingen in Londen genoem word, vind ons in:  Kamphuis, J. 1971. Zo vonden wij elkaar p 19 e.v.  Groningen: Vuurbaak.

[3] Kyk hiervoor veral: W. van ‘t Spijker: Stromingen onder de reformatorisch gezinden te Embden. In:  Van ‘t Spijker, W. 1991. Geest, Woord en Kerk. p. 150-174.  Kampen: Kok  

[4] Van  ‘t Spijker. Geest, Woord en Kerk p.158

[5] Kyk vir Morily veral  Van ‘t Spijker, W. 1974. Democratisering van die kerk anno 1562. Kampen: Kok.

[6] Van ‘t Spijker. Gees, Woord en Kerk p. 163