Hoofstuk 11 SPANGENBERG SE  WETENSKAPLIKE HOOGMOED (Hoofstuk uit die boek: Een is ons Meester)

                                    

 

In 1998 het ‘n belangrike boek verskyn.  Die skrywer van die boek is die bekende Ou Testamentikus Izak Spangenberg. Hy gee by Unisa klas. Die titel van hierdie boek is:  Perspektiewe op die Bybel.  Hierdie boek wys hoe die teologiese klimaat  by baie teologiese opleidings in ons land is.  Dit wys ook hoe Skrifgetroue ondersoek van die Bybel as outyds en onwetenskaplik gesien en benader word. Dit is regtig wetenskaplike hoogmoed. Dit hoop ek hierdie en volgende maand met twee voorbeelde te bewys.  Ek wil dit in hierdie uitgawe doen  deur aandag te gee aan wat Spangenberg oor Jona skryf en volgende maand sal ons daarop let hoe hy van die boek Daniël benader.

 

Enkele algemene opmerkings

 

Spangenberg wil duidelik maak hoe ons die Bybel in ons tyd nog vrugbaar kan lees en gebruik. Hy wys dan op verskillende Skrifbeskouings wat in die loop van die tye opgekom het.

Die eerste wat by sy beskrywing opval is dat  hy by die tyd van die Reformasie begin. Hy begin nie met vraag wat die Bybel oor homself sê nie. Hy  neem die Bybel nie self as die norm hoe ons die Bybel moet beskou, lees en hanteer nie.

Omdat  Spangenberg nie eers na die Bybel self luister nie is Skrifbeskouings vir hom niks anders as menslike idees nie. Hy sien vanaf die Reformasie 3 Skrifbeskouings.

Die oortuiging dat die Bybel God se Woord is,  was volgens Spangenberg die oortuiging van die Reformasie maar pas nie meer by ons tyd nie. Omdat hierdie beskouing  die ontwikkeling van die wetenskap op ‘n sekere oomblik  belemmer het, moes ‘n ander beskouing gekom en was dit ‘n bevryding dat mense die Bybel nie meer as God se onfeilbare Woord gesien het maar as God se Woord in mense taal en as woorde oor God. So het die mens die moontlikheid gekry om in vryheid  die Bybel te kan kritiseer. Om hom bo die Bybel te verhef.  Spangenberg wil nou in sy boek bewys dat ‘n mens die Bybel, terwyl die menslike wetenskap so ver ontwikkel het,  nie meer as God se Woord kan lees nie.  Die menslike wetenskap sou  allerhande bewyse daarvoor gegee het. Die wetenskap het volgens Spangenberg bewys dat ‘n mens die boek Jona nie so kan lees dat ons daarin lees wat werklik so gebeur het nie.

 

Die eerste twee besware teen Jona as feitelike geskiedenis

 

Ek noem nou kort die besware wat Spangenberg teen die boek Jona noem:

  1. Jona se verblyf drie dae en drie nagte in ‘n groot vis. Te min suurstof in die vis en die dierasie se maagsappe sou hierdie verblyf onmoontlik maak.
  2. Die ontstaan van die wonderboom maak dit ook moeilik om die boek Jona as feitelike historie te erken nie. Letterlik skryf Spangenberg hieroor: “Die vertelling oor die wonderplant (4:6) is ook betwyfel. Uit ons ervaringswêreld ken ons nie ‘n plant wat binne ‘n ommesientjie tot die grootte van ‘n man kan groei nie”, het mense gesê.

Hierdie twee besware lê Spangenberg in die mond van ander mense. Hy neem daarvan ook geen afstand nie maar dit lyk asof hy besef dat dit nie sterkste besware is nie. Dit kan mense wat in die HERE as die Almagtige glo nooit oortuig nie. Die argument dat ons sekere dinge nie “uit ons ervaringswêreld” ken nie, kan God se kinders nie oortuig nie. Die HERE kan wonders doen, hy kan dinge doen wat ons nooit eerder en nooit meer sal sien nie. Wie hierdie besware erken en daarmee wil bewys dat  Jona geen feitelike geskiedenis weergee, sê daarmee dat hy nie glo dat die HERE wonders kan doen nie.

Spangenberg  kom daarna met ander besware wat baie duidelik sy argumente is om Jona nie as geskiedenis te erken nie.

          

Die volgende besware teen Jona as feitelike geskiedenis.

 

Die besware wat Spangenberg  nou vorentoe bring kan mense wat  glo in verleentheid, in vertwyfeling bring. Dit lyk asof  Spangenberg  regtig met historiese bewyse kom waardeur dit wat in die boek Jona staan nie so kan wees nie. Dit lyk asof hy met argumente kom dat allerhande gegewens in die boek Jona nie reg kan wees nie.

Hy beskryf die besware so:

“Die argeologiese ontdekkings in die ou Nabye-ooste het ook nuwere feite aan die lig gebring. Dit het gou geblyk dat Nineve nie gedurende die agtste eeu v.C.  ‘n stadstaat met ‘n eie koning (3:6) was nie. Ook was dit nie die hoofstad van die Assiriese ryk nie. Op daardie tydstip was Nimrud die hoofstad. Voorts het opgrawings aan die lig gebring dat Nineve nie so’n groot stad was soos wat die verhaal dit skets nie (“drie dae om dit te deurreis” d.w.s ongeveer 64 kilometer in deursnee, 3:3).”

Ons vind dit op die bladsye 57 en 58  van hierdie boek.

Dit lyk asof Spangenberg  bewys het dat allerhande gegewens in die boek Jona nie reg is nie en hierdie boek dus nie as ‘n boek wat feitelike geskiedenis wil vertel behandel en gelees moet word nie. Die bewyse lyk indrukwekkend maar is dit verseker nie. Laat ons Spangenberg se besware bespreek.

 

Beantwoording van besware

 

  1. Nineve was in die agtste eeu geen stadstaat en het geen eie koning gehad.

Hierdie beswaar raak op geen enkele manier die historiese betroubaarheid van dit wat ons in Jona lees nie. Nêrens in die boek Jona word gesê dat Nineve toe ‘n stadstaat was. Ook nie in 3:6 waar ons lees: “En toe die berig die koning van Nineve bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in as gaan sit.”

Nineve was in daardie tyd deel van die Assiriese ryk. Nogtans is dit nie vreemd dat die heerser, die koning van die Assiriese ryk in Nineve was nie. Nineve was toe nie die hoofstad nie, dit was Nimrud, maar die Assiriese koning het ‘n somerpaleis in Nineve gehad. Hy het ‘n sekere gedeelte van die jaar Assirië vanuit Nineve geregeer. Die koning van Assirië was ook die koning van Nineve.

Tydens die koningskap van Jerobeam II oor Israel (783-752), dis die tyd dat Jona geprofeteer het, was Nimrud die hoofstad van Assirië. Nogtans was Nineve ‘n belangrike godsdienstige en kulturele sentrum. 

Spangenberg se opmerking  dat Nineve nie die hoofstad van Assireë was nie, tref die boek Jona op geen enkele manier nie want nêrens lees ons daar dat Nineve die hoofstad is nie.

  1. Nineve was nog nie so’n groot stad nie.

Dis reg dat Nineve toe nog nie so ‘n groot stad was as wat dit later was nie.  Die groot groei van Nineve in grootte en uiterlike prag het onder koning Sanherib (705-681) gekom. Toe was Nineve omtrent 6 kilometer lank en 3 kilometer breed.

Selfs dan kom ‘n mens nog nie tot ‘n stad waarby iemand 3 dae nodig het om van die een na die ander kant die stad te kan loop.

Hoe is dit dan moontlik dat in ‘n tyd dat die stad wat binne die mure lê, nog kleiner is, gesê word: “En Nineve was ‘n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet.” (3:3)

Ons moet mooi bedink dat onder die grondgebied van Nineve nie net die stuk binne die mure behoort het nie. ‘n Groot gebied daarbuite, waar ook mense gewoon het, het by Nineve behoort. Die stad Nineve het bestaan uit die gebied wat binne die mure gelê het en ‘n groot gebed daarbuite. ‘n Tweede ding wat ons moet bedink is dat die stad deurreis nie net beteken dat ‘n mens van die een na die ander kant stap nie. Die bedoeling was dat Jona die stad so sou deurreis dat elkeen sy boodskap sou hoor. Om dit reg te kry het ‘n mens 3 dae nodig gehad.   

Spangenberg maak van hierdie oplossings vir  hierdie probleme self  geen melding nie. Dit is ‘n teken van wetenskaplike hoogmoed wat geen regte wetenskap is nie.

Mense wat die Bybel as God se betroubare Woord glo, sit ook as dit om argeologie en geskiedenis gaan nie met ‘n mond vol tande nie. 

 

Jesus en Jona

 

Spangenberg  besef dat gelowiges  hom  met Jesus se eie woorde sal bestry. Dit is tog duidelik dat die Here Jesus dit wat in die boek Jona staan as feitelike geskiedenis aanvaar en so in sy prediking gebruik  Sien  Matt 12:39-42; 16:1-4; Mark 8:11-13; Luk 11:29-32.

As Spangenberg hom hiermee besighou moet hy ‘n noodsprong maak. Dis juis die Skrifkritiek wat ons altyd weer van ‘n sirkelredenering beskuldig omdat ons die Bybel as God se Word lees en aanvaar. Hier sien ons hoe juis die Skrifkritiek altyd weer ander kritiek op die Bybel nodig het om eie sienings staande te hou. Spangenberg kan nie anders om toe te gee dat as ‘n mens die Nuwe Testament  Jesus dit wat ons in die boek Jona lees as feite aanvaar. Dat Jesus selfs glo dat Jona drie dae en nagte in die groot vis was.  

Spangenberg  skryf nou dat navorsing  uitgewys het dat Lukas oor die algemeen betroubaarder as die ander Evangelies is. Ons lees in Lukas 11 nie van Jona se verblyf in die vis nie. Die gevolgtrekking wat Spangenberg daaruit maak is dat die Here Jesus nie Jona se verblyf in die vis met Sy opstanding verbind het nie. Dit is volgens hom niks anders as Matteus se interpretasie. Daarna kom uit Spangenberg se pen die volgende sin: “Om nou te beweer dat ‘n mens Jesus tot ‘n leuenaar maak indien jy nie aanvaar dat Jona letterlik drie dae en drie nagte in die groot vis was nie, hou nie steek nie.” (bladsy 65)

Die Skrifkritiek moet ook nog Jesus se woorde uitmekaar skeur om eie sienings te kan handhaaf. Menslike hoogmoed, wat wetenskap genoem word,  wil die HERE en Sy Woord, Sy waarheid van die troon stoot.

 

Daniël

 

Spangenberg se eie siening

 

Spangenberg is daarvan oortuig dat die boek Daniël in die tweede eeu voor Christus geskryf is. Die skrywer van hierdie boek  sou dit geskryf het om die Joodse volk in die tyd van die Makkabeërs te bemoedig. Spangenberg skryf op bladsy 100 van sy boek o.a: “Op grond van die histories-kritiese studies en ‘n ontleding van die wyse waarop die verhale vertel word, het geleerdes tot die slotsom gekom dat die verhale eintlik maar legendes (of volksverhale) is.” Dis duidelik dat hy met die slotsom van daardie geleerdes saamstem. Die belangrikste rede daarvoor is volgens  Spangenberg dat die eerste 6 hoofstukke van Daniël, wat oor die sesde eeu voor Christus handel,  allerhande historiese foute bevat. Die laaste deel van die boek Daniël wat profesië oor die tweede eeu  voor Christus bevat is volgens Spangenberg baie meer betroubaar. Die skrywer van die boek Daniël sou in die tweede eeu geleef het en dit wat hy toe gesien en meegemaak het in die vorm van profesië neergeskryf het. Dit sou dus nie egte profesië wees nie.

Ons sien hier weer hoe die mens met sy wetenskap op die troon gaan sit en God se Woord  uit mekaar rafel. Ons wil nou daarop let of die besware wat Spangenberg teen die eerste 6 hoofstukke van Daniël inbring water hou.

 

Spangenberg se historiese besware

 

Ek haal nou die gedeelte aan waar Spangenberg sy besware noem. U kan dit vind op bladsy 88 van sy boek:  Perspektiewe op die Bybel:

“Die volgende voorbeelde van onnoukeurighede kan genoem word: Volgens die skrywer het die ballingskap plaasgevind in die derde regeringsjaar van Jojakim (Dan 1:1). Histories is dit nie korrek nie, want die ballingskap het in die tyd van koning Jojagin (Jojakim se opvolger) plaasgevind (2 Kon . 24:8-12).

Tweedens was daar nie ‘n koning Darius wat ‘n Mediër was nie (Dan 6:1).

Derdens was koning Darius se opvolger nie Kores die Pers nie (Dan 6:29). Kores die Pers het die Babiloniese ryk van Nabonidus ingepalm en sy regering het aan Darius s’n voorafgegaan.

Vierdens het Nabonidus ‘n seun met die naam Belsasar gehad. Belsasar het wel vir ‘n tyd namens sy pa in Babel regeer, maar was nooit amptelik die koning soos dit in Dan 5:1 voorgehou word nie.

Vyfdens is Nebukadnesar nie opgevolg deur Belsasar nie (Dan 5:11), maar deur Amel-Marduk (of soos die Bybel hom elders noem: Ewil-Merodak,  2 Kon. 25:27).”         

Weer lyk dit asof Spangenberg onomstootbaar bewys het dat die gegewens in die boek Daniël nie reg is en nie reg kan wees nie. Hy gee ook op geen enkele manier ‘n aanduiding dat vir hierdie probleme moontlike oplossings bestaan nie. Dis die wetenskaplike hoogmoed en daarmee die onwetenskaplikheid van hierdie boek dat Spangenberg hom selfs nie met die moontlike oplossings wat genoem is, konfronteer nie. Dis baie swak. Laat ons kyk wat ons op Spangenberg se besware kan antwoord.

 

Weerlegging van besware

 

  1. Is Daniël 1:1 verkeerd?

Ons lees in Dan 1:1: “In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnesar , die koning van Babel, na  Jerusalem gekom en dit beleër.”

Nebukadnesar se regering begin  in 605 voor Christus. Wanneer het Jojakim begin om te regeer? Dit was in 608. Die volgende het daaraan voorafgegaan. Jojakim se pa, die vroom koning Josia het in 609 gesterf. Dit het gebeur in die slag tussen Josia se leër en Farao Nego se leër. Ons lees hiervan in 2 Kon 23:29,30. Na Josia se afsterwe word sy seun Joahas in sy plek koning. Joahas regeer net 3 maande in Jerusalem. Farao Nego het met sy oorwinning oor Josia die mag oor Juda gekry. Farao Nego sorg daarvoor dat Joahas se broer Eljakim koning in Jerusalem word. Die Farao wil wys dat hy die maghebber is en daarom gee hy Eljakim ‘n ander naam, naamlik Jojakim. Jojakim se regering begin in 608. Hy is dan Farao Nego se vasal.

Drie jaar later, trek Nebudadnesar wat net koning van Babilonië geword het teen die Farao van Egipte op. Die twee leërs tref mekaar by Karkemis. Dis in die jaar 605. Die Farao lei daar ‘n verpletterende neerlaag. Die gevolg is dat  Egipte nog net sy eie selfstandigheid kan behou en al die gebiede buite Egipte kom nou onder Nebukadnesar se mag. Sien ook  2 Kon 24: 7.

Na Nebukadnesar se oorwinning by Karkemis het hy vir die volke wat tot nou toe aan Farao Nego onderworpe was gewys dat hy nou die mag het en hulle nou aan hom onderworpe is. Daarom verskyn Nebukadnesar in 605 ook voor Jerusalem se poorte en beleër hierdie stad. Jojakim laat Nebukadnesar binne en kan daarom koning bly. Ons lees hiervan in 2 Kon 24:1,2.

Dit is hierdie dinge waarna Daniël 1:1,2  verwys.    

Wie noukeurig lees en gegewens in die Bybel vergelyk, sien dat hier geen enkele teenstrydigheid bestaan nie. Daniël 1:1 gaan nie oor die begin van die ballingskap nie maar oor die begin van Juda se onderwerping aan Babel.

 

  1. Was daar ‘n koning Darius die Mediër?

Hierdie vraag en die eventuele oplossings daarvoor sou ‘n aparte artikel vra. Dis duidelik dat die Bybel van koning Darius die Meder praat. (Dan 6:1) Tot nou toe is die Bybel die enigste bron wat van Darius die Meder praat. Dit is geen bewys dat ‘n man met hierdie naam nie geregeer het nie. Ons sal in die vervolg van hierdie artikel nog sien dat dit al eerder gebeur het dat mense beweer het dat sekere persone wat die Bybel noem nie bestaan het nie en dat by verdere ondersoek, by opgrawings en ander ontdekkings  tog die naam van daardie persoon gevind is. Dit  is dus geen  bewys dat as ‘n naam van ‘n sekere koning tot nou toe nie buite die Bybel gevind is nie dat hy dus ook nie bestaan het nie. Hier gee ons aan die Bybel as God se Woord altyd prioriteit, ook as dit om die historiese betroubaarheid gaan.

Net nog een opmerking hieroor. ‘n Interessante veronderstelling  op hierdie oomblik is dat  Darius ‘n sekere tyd saam met Kores geregeer het.

Kores het naamlik Babel verower. Dis bekend dat die aanvoerder van die Mediese leër op ‘n sekere oomblik nie meer in Babel se diens geveg het nie maar hulle by die Perse onder leiding van Kores aangesluit het. Die kans bestaan dat die leër van die Meders dit gedoen het en daarvoor in ruil ontvang het dat een van hulle aanvoerders saam met Kores sou regeer. Dit lyk asof die opvallende formulering in Dan 6:1 daaraan sekere steun verleen. Ons lees daar: “En Darius, die Meder, was twee-en sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het.”

Die eerste wat opval is dat Darius al twee-en-sestig jaar was toe hy koning geword het. Verder is die formulering dat hy die koningskap ontvang het baie opvallend.  Hier word  nie gesê dat dit HERE dit vir hom gegee het. Dit sou daarop kon dui dat koning Kores vir Darius uit beloning  die medekoningskap gegee het. Die formulering van Dan 6:29 kan ook daarop wys. Ons lees daar: “En hierdie Daniël was voorspoedig onder die regering van Darius en onder die regering van Kores, die Pers.”

Dis nie nodig om die regering van hierdie twee koning as kronologies na mekaar op te vat nie. Die woord en  kan hier ook daarop wys dat hierdie twee tegelykertyd geregeer het. Toe hierdie twee konings saam geregeer het was Daniël voorspoedig.

Ons het nou ook geantwoord op Spangenberg se derde beswaar.

Ons moet sê dat ons  op hierdie punt nie alles weet nie. Nogtans is die gevolgtrekking van Spangenberg  wetenskaplik glad nie verantwoord nie. Ander oplossings is verseker moontlik.

 

  1. Was Belsasar nooit amptelik koning?

Formeel  moet ons hier vir Spangenberg gelyk gee. Belsasar was nooit die amptelike koning nie. Sy pa Nabonibus was tot Babel se verowering deur Kores  amptelik koning. Nogtans is dit nie eerlik om hierdie beswaar teen die boek Daniël in te bring nie.

Die vorige eeu het mense die boek Daniël kritiseer deur te sê: Belsasar het nie bestaan nie. Die naam Belsasar was toe nog nie as ‘n koning van Babel gevind nie.

Dit verander as in die begin van ons eeu die sogenaamde Nabonibus-Cyruskroniek en die Cyrus-silinder gevind word. Dan word duidelik dat Belsasar  wel deeglik bestaan het en dat hy  feitlik  ‘n hele klomp jare die koning van Babel was. Sy pa het uit Babel weggetrek en iewers 1000 kilometer van Babel gaan bly en hom nie meer met die regering van die land bemoei nie.

Hy het die feitlike mag en regering  van Babel vir sy seun Belsasar gegee. Die Bybel  gee nie die staatsregtelike situasie in daardie tyd weer nie maar die feitlike een! Dis nie reg om in so’n situasie te maak asof  die Bybel nie reg is nie. Hier word feite wat bekend is agtergehou en dit getuig glad nie van wetenskaplikheid nie.

 

  1. Het Belsasar Nebukadnesar opgevolg?

Spangenberg  wys hier op Dan 5:11: “Daar is ‘n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is; in die dae van u vader is verligting en insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind; daarom het u vader, koning Nebukadnesar, hom as owerste oor die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs, die waarseërs aangestel – u vader, o koning!” 

Wat beteken die woord vader hier?  Moet dit in die Aramees of Hebreeus altyd ‘n mens se fisiese vader wees of  jou direkte voorganger?

Dis nie so nie. Die woord vader kan in die Aramees en Hebreeus ook uitdruk jou groot voorganger, die voorganger wat jou groot voorbeeld is.

Dis die betekenis waarin dit hier gebruik word. Hier is die boek Daniël nie onnoukeurig nie maar word ‘n sekere stylfiguur gebruik.

Dis duidelik dat Spangenberg se besware teen die historiese betroubaarheid van Daniël geen water hou nie.