Reeks: cORONACRISIS/KORONAKRISIS
SONDES BELY
“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Johannes 1:9
’n Christen leef nie in die sonde nie. Nogtans doen ’n gelowige sonde en het vergifnis nodig. As ons in die vervolg van hierdie brief lees dat wie God se kind is nie sondig nie beteken dit dat jy daarin geen plesier het nie. Dat jy daarin nie wil leef nie. Dat jy juis teen die sondes in jou lewe stry.
God se kind sien met hartseer die sondes in eie lewe. Jy ontken die sondes nie maar bely hulle met berou aan die HERE. God se kind kan dit nie by die sondes uithou nie. Hoe jy ook probeer. In jou hart klink deur God se werk die stem dat jy verkeerd besig is. Dat jy die HERE verdriet aandoen. Dit was Dawid wat sy sonde wou wegsteek en nie voor die HERE bely nie. Ons lees daarvan in Psalm 32. Ek gee dit weer in die Vertaling van 2020 omdat dit op hierdie verse ’n baie mooie en goeie vertaling is:
“Toe ek stilgebly het, het my gebeente broos geword onder my gekreun die hele dag. Ja, dag en nag was u hand swaar op my; my lewenskrag het weggekwyn soos in die hitte van die somer. My sonde het ek teenoor U erken; my sondeskuld het ek nie bedek nie. Ek het gedink, ek wil my oortredings teenoor die HERE bely, en U het my sondeskuld vergewe. Dit is waarom elke getroue volgeling tot U moet bid terwyl die geleentheid daar is.” Vs 3-6
Ons sondes bely is so nodig. As ons dit doen mag ons weet dat die HERE getrou en regverdig is. Dit beteken o.a. dat Hy volgens Sy belofte elkeen regtig vergeef wat sy of haar sondes opreg bely. Die HERE maak so soos Hy beloof het. Altyd!