ADVENT 2025
“Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle teen 'n hoë berg uitgelei, waar hulle alleen was. Voor hulle het Hy van gedaante verander: Sy gesig het gestraal soos die son, en sy klere het skitterend wit geword soos die lig. En kyk, Moses en Elia het aan hulle verskyn en was met Hom in gesprek.” Matteus 17:1-3
Dit lyk dalk ‘n bietjie snaaks om oor Advent te skryf vanuit ‘n gedeelte in die Bybel waar ons lees dat Christus al gekom het. Hy het selfs al openlik met Sy werk begin. Ek doen dit omdat ons juis vanuit Matteus 17:1-3 so duidelik die eenheid van die Ou en Nuwe Testament kan sien. Ons sien dan ook so pragtig raak wat Jesus Christus se uniek posisie en werk is.
Dit is goed om te bedink dat in die Here Jesus se tyd die volk en ook Sy eie leerlinge veral na die kom van die Christus uitgesien het as ‘n magtige Koning. Hy sou sorg vir die groot oorwinning. Die Joodse volk sou onder Sy regering die groot mag op aarde wees. Die Here Jesus het nog nie lank hiervoor duidelik gemaak dat die Verlosser wat die HERE beloof het moet gaan ly. Ons lees daarvan in Matteus 16: “Van toe af het Jesus begin om aan sy dissipels duidelik te maak dat Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners, en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word. Petrus het Hom eenkant geneem en Hom begin teregwys: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” Vs 21-23
Die Here Jesus wys vir Petrus en die twee ander dat Hy die beloofde Verlosser is. Hy het in Betlehem op de wêreld gekom as die Verlosser wat moet ly maar ook die een is wat oorwin en die groot Koning is. ‘n Groter en magtiger Koning as wat Hy die Koning van ‘n aardse koninkryk sou wees.
Hulle gaan ’n hoë berg op. Om alleen te wees. Om te kan konsentreer op wat Christus hulle daar sal wys. Hy wys dat Hy ‘n baie spesiale Persoon is. Soos ons dit ook raaksien wanneer die ster deur sy lig die wyses die pad na die huis wys waar die Verlosser gebore is. Die wyses toe en die leerlinge toe en ons vandag moet ons oë en ons hart op Jesus Christus rig.